Ses pleit onskuldig in verhoor oor moordsameswering
Die oorledene se liggaam is in die omgewing van die Goreangabdam gevind nadat hy na bewering gestenig is.
Jacqueline Louw
Die verhoor van die verdagtes wat daarvan beskuldig word dat hulle saamgesweer het om 'n man in 2015 te vermoor, het gister in die hoërhof begin.
Die 36-jarige me. Annastancia Lubinda en die vyf mans wat na bewering saamgesweer het om haar man te vermoor, het gister almal onskuldig op al die klagte teen hulle in die hoërhof in Windhoek gepleit.
Dié ses staan tereg op klagte van moord, sameswering tot moord en roof met verswarende omstandighede.
Die staat beweer Lubinda en haar medebeskuldigdes, mnre. David Matali (47), David Kondjara (36), Abiud Uazeua (37), Donald Hindjou (27), en Dollam Tjitjahuma (29) het in Maart 2015 saamgesweer om Libinda se man, mnr. Peter Riscoh Muleke (36), te vermoor.
Uazeua, Hindjou en Tjitjahuma staan ook tereg op klagte wat verband hou met die besit van dwelmmiddels en dwarsboming van die gereg.
Muleke se liggaam is op 30 Maart 2015 in die omgewing van die Goreangabdam gevind nadat hy na bewering gestenig is. Hy is ook tydens die noodlottige gebeure van sy selfoon beroof.
Hoewel Lubinda gister onskuldig gepleit het op die klag van moord, saamgelees met die bepalinge van die wet op die bekamping van huishoudelike geweld, het sy in haar borgtogaansoek in 2015 'n skuldbekentenis gemaak.
Daarin verduidelik sy Matali was die meesterbrein agter die komplot om haar man te vermoor. Lubinda, wat glo huweliksprobleme ondervind het, het vir Matali van haar probleme vertel en hy het volgens haar die moordkomplot gedryf.
Matali se regsverteenwoordiger, mnr. Trevor Brockerhoff, het gister 'n verklaring namens hom by die hof ingehandig waarin hy aantoon dat hy 'n alibi het en nie op die dag van die moord naby die moordtoneel was nie. Volgens die verklaring het hy daardie dag 'n paar take afgehandel waarna hy die res van die dag alleen by sy huis was.
'dagga verbrand'
Die aand het hy glo aandete vir homself en sy vrou voorberei.
Tjitjahuma se regsverteenwoordiger, mnr. Bronwell Uirab, het namens hom 'n pleit by die hof ingedien waarin hy ontken dat hy op 1 April dagga in 'n huis in die Katutura-distrik verbrand het toe polisiebeamptes aan die deur geklop het. Die staat beweer Uazeua, Hindjou en Tjitjahuma was saam toe die dagga verbrand is. Dié misdryf het hulle 'n klag van dwarsboming van die gereg op die hals gehaal.
Sersant Elias Eichab van Windhoek se stadspolisie het gister namens die staat getuig hoe hy op 31 Maart 2015 die oorledene se verlate motor naby die Goreangabdam gevind het en daarna op sy lyk afgekom het. Hy het aan regter Johanna Salionga vertel die liggaam was met bloed bevlek en 'n bloedbevlekte klip het langs die lewelose liggaam gelê.
Mnr. Collens Muleke, die oorledene se ouer broer, het ook getuig oor die gebeure die dag toe sy broer se lyk ontdek is. Volgens hom het dit gelyk of daar 'n stoeiery op die moordtoneel was omdat die gras en grond om die liggaam verstoor was.
Mnr. Milton Engelbrecht, Lubinda se regsverteenwoordiger, het Muleke gekruisondervra oor die verhouding tussen Lubinda en die oorledene. Hy het gesê dit was 'n goeie verhouding, maar “soms met probleme, soos enige normale verhouding”.
Die verhoor duur vandag voort.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie