Ses wil Psemas bestuur
Ses wil Psemas bestuur

Ses wil Psemas bestuur

Methealth, die huidige administrateur vir die staat se mediese fonds (Psemas) het N$356 miljoen getender om weer die kontrak te kry.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Die aanbiedinge ontvang vir die tender om die staat se mediese fonds (Psemas) te bestuur, word tans geëvalueer.
Die tender het 23 September gesluit en ses aanbiedinge is ontvang. Dit sluit Prime Health Namibia (Pty) Ltd. in wat Psemas se huidige administrateur Methealth Namibia Administrators besit. Laasgenoemde se aanbieding vir die tender staan op N$356 miljoen. Prosperity Health wat vroeër vir sekere wysigings in die tenderdokument gevra het en wat toegestaan is se aanbieding is N$299 miljoen. Die ander aanbiedinge sluit in Integrated Wellness Solution (Pty) Ltd (N$420 miljoen), Maungo Consultancy cc t/a Gomed (N$2,2 miljard, BTW uitgesluit), Keyplot Investments (Pty) Ltd. (N$140 miljoen) en Amalgamated Fund Administrator (N$537 miljoen).
Die tender sou aanvanklik op 24 Augustus sluit, maar is tot 23 September uitgestel nadat die Sentrale Verkrygingsraad van Namibië (CPBN) se tegniese komitee die standaardtenderdokument (SBD) geëvalueer en wysigings voorgestel het wat deur die raad vir implementering goedgekeur is.
Vier grootskaalse wysigings is aan die evalueringskriteria gemaak wat insluit bewyse van voldoende werkskapitaal wat van N$74 miljoen na N$18,5 miljoen verminder is, die vereiste ondervinding in die bestuur van ’n mediese fonds wat van vyf tot drie jaar verminder is, terwyl die getal lede wat bestuur is van 143 500 na 50 000 gewysig is.
Die tegniese vereiste wat ’n bieër toelaat om na die finansiële stadium te vorder, is van 75% tot 70% verminder.

Volgens die CPBN se spesialis gemoeid met betrekkinge tussen bemarking en rolspelers, me. Johanna Kambala, is die raad nie bewus van enige besluit om nie met die laagste aanbod te gaan nie.

Kambala sê in terme van die SBD se afdeling vir instruksies aan bieërs en die proses om vertroulik te wees, mag enige inligting rakende die ondersoek, verduideliking, evaluering en vergelyking van aanbiedinge en aanbevelings nie aan bieërs of enige ander persoon bekend gemaak word wat nie amptelik met die proses betrokke is nie.

“Enige poging deur ’n bieër om die verkrygingsagent se verwerking van aanbiedinge of toekenning van die tender te beïnvloed, kan tot die verwerping van sy aanbod lei,” het Kambala gesê.

Met verwysing na die huidige voortgesette verlenging van Methealth se kontrak as administrateur, het Kambala gesê dit word gedoen onder dieselfde voorwaardes en terme as per die aanvanklike kontrak.

“Die diensverskaffer (Methealth) het bevestig en aanvaar om voort te gaan om die dienste onder dieselfde terme en voorwaardes te bied.” – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!