Seun van Afrika, man van die heelal
Republikein huldig die merkwaardige nalatenskap van die gestorwe ruimteman dr. Japie van Zyl (63, † 26 Augustus 2020) in dié onderhoud met Kalfie, sy vrou en sielsmaat.
Ronelle Rademeyer – Sy was in st. 6 in Outjo Hoërskool toe hy haar gevra het om te kys. Min het Kalfie Louw geweet met haar “ja” het sy die eerste tree gegee na ’n lewe wat haar later ’n medereisiger op die skrander st. 8-seun, Japie van Zyl, se buitengewone ontdekkingstog na die heelal sou maak.
Boonop het sy lewensvreugde gesorg dat hulle gesamentlike reis op die ondermaanse ’n uitbundige avontuur is.
Ondanks hulle uiteenlopende beroepslewes, het hulle mekaar in alles ondersteun en aangespoor.
“Ons het mekaar soos klei geknie en gevorm. Soos ’n geweefde mandjie was ons passies en belangstellings verweef en ons het mekaar aangespoor om hoë hoogtes te bereik,” het Kalfie (62), Woensdagaand in ’n uur lange onderhoud uit Pasadena naby Los Angeles in Kalifornië vertel.
Sy is ’n antropoloog wat veldwerk onder Indiaanse gemeenskappe in die sogenaamde Vier Hoeke-gebied in die VSA gedoen het. Dit is waar Utah, Colorado, Nieu-Mexiko en Arizona aan mekaar grens.
Haar liefde vir interieurontwerp en haar belangstelling in die Amerikaanse federale boustyl het haar later ’n ander rigting laat inslaan. Sy het saam met Julie Dees, vrou van die bekende Amerikaanse radiopersoonlikheid, stemkunstenaar Rick Dees (van The Rick Dees Weekly Top 40 Countdown-faam) binneversiering in onder meer Hollywood gedoen.
“Daar was nooit kompetisie in my en Jaap se verhouding nie; ons was altyd oop en eerlik en het mekaar gedruk in die dinge waarin ons goed was. Ek het hom aangespoor om die beste te wees en hy vir my. En ons het by mekaar geleer,” vertel sy. “Daarom het hy ’n baie goeie oog vir styl en ontwerp gehad.”
Sy vertel hulle het graag huisverbeteringsprojekte tuis aangepak. “Ons het gehou daarvan om dinge te bou en dinge mooi te maak. Hy was ’n ontsettend handig en kon goed houtwerk doen.”
Tydens die inperking het hulle besluit om ’n patio met ’n groot, wit trap sementrap te bou en landskapswerk in die tuin te doen. Hulle het vir mekaar gesê dit moet teen 31 Augustus klaar wees. Vir 13 weke lank het hulle elke naweek skouer aan skouer gewerk, met die hulp van Pablo, hulle handlanger en tuinier.
Die naweek voor sy dood het hulle 15 ton grond en 7 ton gruis laat inry wat weggewerk moes word.
Die hartseer oorval haar as sy vertel hoe sy en Pablo die afgelope naweek alleen gewerk het om dit klaar te maak. “Dit was ons projek. En ek moes dit vir hom klaarmaak.”
Kalfie vertel niks was vir Japie onmoontlik nie. Oudskoolmaat Marietjie van Staden onthou hoe Kalfie vir Japie op ’n dag afgesê het en sy vir hom die briefie moes gaan gee. Japie wou niks daarvan weet nie. “Ek aanvaar dit nie. ’n Mens hoef nie alles in die lewe te aanvaar nie,” was sy woorde.
Toe Kalfie met die aanvang van dié laaste projek vir hom sê die groot eikeboom in hul tuin moet die fokuspunt van die aanbouing wees, het hy alles in sy vermoë gedoen om die ontwerp van die trap daarby aan te pas, al was byna ontmoontlik. “Hy het altyd vir my gesê: ‘Jy sê wat jy wil hê, en ek sal sorg dat dit werk’.
“Ons lekkerste tye was by die huis, by ons ou hond (’n Franse poedel met die naam Leonardo). Ons projekte en ons liefde daarvoor om dinge te bou en mooi te maak, het ons verskriklik na aan mekaar gebring.”
Oor Leonardo sê Kalfie: “Hy is ’n regte ‘daddy’s boy’.” Haar stem breek as sy vertel hoe hy nou soekend na Japie deur die huis dwaal.
Buiten ’n liefde vir diere, het hulle ook ’n passie vir reis gedeel. “As ons nie oor Kersfees Namibië toe kon gaan nie, het ons graag die Grand Canyon besoek.
Japie kon ook goed kitaar speel en het graag gesing, vertel sy. “Sy gunsteling was Wild thing (van The Throggs). Sy vriende by JPL het as hulle met projekte besig was en met Nasa se (McDonell Douglas) DC6 iewers heen gevlieg het, George Thorogood and The Destroyers se ‘Get a haircut and get a real job’ vir hom gespeel.
“Ons het verskriklik graag gedans; op lekker boem-boem musiek. . . Op lekker liedjies soos Jessica en Bietjie Bietjie Lam,” sê Kalfie.
BEWONDERING
“Jaap was ’n mens-mens gewees en sy nederigheid was altyd een van sy grootste en mooiste kenmerke vir my. Hy het hom nooit verhewe gehou bo ander nie.
“Hierdie eienskap het gemaak dat hy ongelooflik gewild was onder al die mense saam met wie hy gewerk het en in sy daaglikse lewe mee te doen gekry het.
“As hy sy mond oopgemaak het, het mense geweet hierdie man weet waarvan hy praat. En dan het hulle selfs méér respek vir hom gehad.
“Een van sy ander ongelooflike talente was dat hy baie moeilike goed, maklik en verstaanbaar verduidelik het.
“Dit was ’n ongelooflike voorreg om sy vrou te wees. Omdat niks vir hom onmoontlik was nie, het hy dit vir my ook moontlik gemaak om te leef of daar nie grense is nie.”
GROOT, GROTER, GROOTSTE
Só het Japie by geleentheid tydens ’n onderhoud met Republikein oor sy verwondering oor die grootheid van die skepping gesels:
“Daar is sestig nulle tussen die kleinste en die grootste van dít wat ons (by JPL) bestudeer. Selfs vir ons wat elke dag hiermee werk, is die omvang soms nog onbegryplik.
“Om die verhouding van ons sonnestelsel binne die Melkweg en die res van die heelal te begryp, moet 'n mens jou voorstel ons sonnestelsel is so groot soos 'n R5-muntstuk en die Melkweg is die grootte van die VSA.
“Sou ons teen die spoed van lig kon beweeg, sal dit 100 000 jaar neem om deur ons Melkweg te reis. En daar is miljarde ander sterrestelsels of galaksies soos ons Melkweg.
“Een van Amerika se voorste teoloë het my by geleentheid genooi het om met hom oor geloof te gesels,” het hy vertel.
“Hy wou by my weet of dit vir wetenskaplikes soos ons moontlik is om in God te glo. “Ek moes hom antwoord dat ek nie weet van iemand by die JPL wat nié glo nie. Hoe kan ons nie glo nie? Baie van die beelde wat in die skeppingsverhaal gebruik word, kan ons vandag wiskundig verklaar.”
Daarom, het Japie gesê, vervul die grootheid – en grootsheid – van die heelal hom daagliks met ontsag en verwondering.
DIE NAGHEMEL NOU HELDERDER
(In die onderstaande huldeblyk bring Japie se jarelange vriend en kollega, dr. Charles Elachi [direkteur van JPL van 2000-2016] hulde aan hom. Elachi het op ’n klein dorpie in Lebanon grootgeword.)
“Jakob het, op sy sagte manier, die lewens van almal verryk wat hom ontmoet het; as ’n vriend, kollega, mentor, leermeester, student. . .
“Ek het Jakob in 1982 by Caltech (Kalifornië Intituut vir Tegnologie) ontmoet toe hy sy meestersgraad kom doen het. Soos die noodlot of geluk dit wou hê, het hy vir die lesings in afstandswaarneming ingeskryf wat ek aangebied het, en dit het dadelik vir my duidelik geword hy is iemand met ’n briljante verstand.
“’n Paar maande later het ek hom oorreed om aan te bly vir sy PhD. Hy het my tegniese assistant geword; die beste wat ek ooit gehad het en ons het aan verskeie projekte en publikasies saam gewerk.
“Toe ek JPL (die Straalaandrywingslaboratorium by Caltech) se direkteur geword het, het hy my klas oorgeneem en ons het saam die tweede uitgawe van die handboek ‘Physics and Techniques of Remote Sensing’ gepubliseer. Ons het die derde uitgawe ’n skrale drie dae voor sy dood voltooi.
“Hy het reusebydraes tot baie JPL- en Nasa-sendings gelewer. Om ’n voorbeeld te noem: ’n Paar jaar gelede, nadat ek na ’n seminaar oor die gebruike van hommeltuie bygewoon het, vir Jakob gevra of ons iets soortgelyks op Mars kan doen. Hy het ’n groep JPL-ingenieurs byeen gekry en ’n dinkskrum gehou. Wel, druk die vining vorentoe-knoppie, en ’n helikopter is tans aan boord van die Perseverance (wat op 20 Augustus gelanseer is) op pad Mars toe en sal op 18 Februarie by die Rooi Planeet aankom.
“Oor die afgelope 48 jaar het ek en my vrou, Valerie, hegte vriende van hom en Kalfie geword. Ons het dikwels saam by ’n klein, plaaslike Meksikaanse restaurantjie gaan eet en oor Margaritas ‘die probleme van die wêreld opgelos’.
“Waarheen ons ook al gegaan het, Jakob was altyd opgeruimd en vol humor. Ons het saam verskeie avonture aangepak: ons het oor die Andes gery, ’n staptog oor die Sierras aangepak, by die Groot Koraalrif gaan seil, Matchu Pitchu uitgeklim, die wynlande van Stellenbosch besoek en in die Grand Canyon gaan stap.
“Jakob was altyd uitstekende geselskap en het hierdie reise meer opwindend en prettig gemaak.
“Hy was ’n heer, ’n geleerde, ’n leier, ’n gewer en die belangrikste, ’n spesiale vriend. Hy sal vir ewig in ons harte wees.
“Die naghemel is helderder nou dat hy sterrestof is.”
DIGTERLIKE EER
(’n Gedig uit die pen van wyle Adam Small aan Japie toe die Universiteit Stellenbosch in Desember 2015 aan beide van hulle eredoktorsgrade toegeken het.)
Dis ’n mooi veer in my hoed
om saam met jou vereer te word,
juis ook omdat jy
met die wye ruimte buitekant
te doene is,
waarin ek sedert baie lank al
sélf diep belangstel:
die beeld van Mars
het my altyd geïnteresseer.
Ek het ook sóveel
oor die sterre en planete gelees,
van ernstige wetenskaps-
bespiegelings af tot fiksie-
van die wetenskap soos
Robert Sheckley s'n.
Ek gelukwens jou vandag.
Mag die sterre
en die planete ewenwel
mooi bly lag in jou lewe,
blý vreugde bring.
Mag hul 'n boodskap van liefde
vir jou sing, ’n blywende gesang
wat wetenskaplikheid soos joune
en digterskap soos myne,
inéén voeg.
Ons is werkers - ons wéét dit -
wat nooit moeg raak nie.
Ons hand bly aan die ploeg
geslaan, en ons brein
fyn ingestel op die nuanserings
van Bestaan, nie net ons menslike
lewe nie, maar dié ook
van die onmeetlike Univers.
Hierdie woorde, dan,
is ’n heildronk op jou
en jou werk as ingenieur
ter ontginning van kennis
oor ons buur-planeet.
Die roede waaraan jou denke
gemeet moet word
is dié, soos Van Wyk Louw dit stel,
wat ons elke waan tot niet laat stort
en ons beskeidenheid tot
in die verre ster-belaaide Wydheid
hoog laat klim,
tot ánderkant, vér anderkant
elke alte-bindende kim.
VIRTUELE AFSKEIDSDIENS
Familie, vriende en kennisse kan more inskakel is vir ’n virtuele gedenkdiens vir Japie wat van 17:50 – 19:00 deur dr. Manus Olivier (NG-gemeente Swakopmund) en ’n skoolvriend van die Van Zyls, past. Kobus Erasmus (AGS-gemeente, Kathu, Suid-Afrika), op Microsoft Teams gelei sal word.
Kontak die organiseerders vir ’n elektroniese uitnodiging by:
· Dr. Manus Olivier by +264 81 129 0598 of [email protected]; en
· Dr. Ben van Zyl (Japie se broer) by +264 81 122 0059.
*Met spesiale dank aan Marietjie van Staden, ’n oudskoolmaat en vriendin van die Van Zyls, wat deur die jare sy nie-amptelike woordvoerder in Namibië was en die media ingelig gehou oor sy merkwaardige prestasies.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie