Seun vind fetus
Seun vind fetus

Seun vind fetus

Volgens die Namibiese polisie se misdaadverslag het drie mesmoorde die naweek plaasgevind.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - 'n Seun wat besig was om beeste by Ongwediva op te pas, het Sondag die skokontdekking van 'n fetus toegedraai in koerantpapier gemaak.

Volgens 'n woordvoerder van die Namibiese polisie, hoofinsp. Kauna Shikwambi, het die seun die fetus omstreeks 17:00 naby die pad by die Okatope-nedersetting oorkant Baywatch, Ongwediva gevind.

"Die fetus was in koerantpapier toegedraai en die seun het huis toe gehardloop om dit aan sy ouers te rapporteer."

Niemand is in hegtenis nie en die ondersoek duur voort.

Drie mesmoorde het die naweek plaasgevind. Saterdag omstreeks 16:55 het mnr. Simon Valombola langs die Katolieke kerk in Aimablaagte op Mariental aan sy wonde beswyk nadat hy met 'n mes in sy nek gesteek is.

"Hy en die 23-jarige verdagte het glo oor 'n meisie baklei. Die verdagte is in hegtenis geneem en die ondersoek duur voort," het Shikwambi gesê.

Sondag het mnr. Namila Jonas (20) by 'n bruilof in die Okanyofi-nedersetting naby Ondangwa gesterf nadat hy met 'n Okapi-mes gesteek is.

"Jonas en sy vriende het glo daarop aangedring om by die bruiloftent in te gaan waar hulle glo onwelkom was. 'n Bakleiery het ontstaan, wat tot die messtekery gelei het," sê die polisie.

Niemand is al in hegtenis geneem nie, en die polisieondersoek duur voort.

Nóg 'n bakleiery het tot 'n mesmoord in Stockholfstraat in die Otjomuise-woonbuurt in die hoofstad gelei.

Mnr. Sam Shithigona (31) is Saterdag omstreeks 01:00 drie keer met 'n mes gesteek. ’n Verdagte (26) is in hegtenis geneem.

GEWAPENDE ROOFTOG

'n Bejaarde vrou (61) was Vrydag die slagoffer van 'n gewapende rooftog in die hoofstad.

"Die vrou het glo N$80 000 in kontant getrek om 'n kar te koop. Twee mans het haar na bewering omstreeks 12:30 by die Engen-vulstasie in Onafhanklikheidsrylaan met messe aangeval toe sy alleen in die kar gewag het vir haar twee seuns wat water in die vulstasie se winkel gekoop het," het Shikwambi gesê.

"Die verdagtes het glo die vrou se handsak geëis en toe sy haar teësit, het hulle haar op haar bobeen en hand met die mes gesny. Die verdagtes het met die vrou se handsak en in 'n wit Renault sonder nommerplate gevlug."

Niemand is in hegtenis geneem nie en die ondersoek duur voort.

Kommentaar

Republikein 2025-04-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer