• Tuisblad
  • Sport
  • Sewe paaltjies, toe vyftig van 15 balle vir tiener
Sewe paaltjies, toe vyftig van 15 balle vir tiener
Sewe paaltjies, toe vyftig van 15 balle vir tiener

Sewe paaltjies, toe vyftig van 15 balle vir tiener

Klubkrieket
Andrew Poolman
Andrew Poolman – ’n Eenmanvertoning deur Jan-Hendrik Potgieter was die hoofrede hoekom WHS Old Boys se tweede span nie laas Saterdag vir Otjiwarongo kon klop nie.

’n Vyftigtal van net 15 balle, plus sewe paaltjies was sy bydrae vir die dag, toe die noordespan as die besoekers aan WHS se Vegkop-stadion vir ’n kragmeting in Krieket Namibië se eerste liga vir die sentraalstreek (40 boulbeurte per span) uiteindelik ’n naelskraapse oorwinning behaal het.

WHS het eerste gekolf en het teen tien per boulbeurt weggespring totdat die aanvangspaar eers op 85/1 ná 8.1 boulbeurte gestuit is. Malan Kruger (28 van 19 balle, twee viere, twee sesse) is deur Potgieter been-voor-paaltjie betrap en hoewel Wesley Anderson nog ’n ruk lank vasgeskop het vir 41 van 32 balle (agt viere), het Potgieter stelmatig die res van die kolflys begin uitwis.

Garfield Mbeya (agter die paaltjies gevang vir nul), Vernon Cloete (geboul vir 9), Dian Coetzee (geboul vir 3), Drikus Pearson (b.v.p. vir 0), Johan du Plessis (geboul vir 2) en Nico van Staden (geboul vir 24 van 21 balle, met vyf viere) is almal deur Potgieter uitgehaal.

Neels Labuschagné (2/39 in 4.1) het van die hardnekkige Anderson ontslae geraak wat ’n vangkans aan Jay-Jay Liebenberg gebied het.

Old Boys is ná 17.1 boulbeurte almal uitgehaal vir 130 lopies, met Potgieter die uitblinker met sewe paaltjies vir 20 lopies in 6 boulbeurte.

Otjiwarongo se topkolwers het vroeg al begin gly toe Neels Labuschagne (2) en hul lopiemasjien Nicardo Pienaar (0) uitgehaal is. Oscar Chimutenga (16) en Jay-Jay Liebenberg (23) was ’n rukkie saam, maar die paaltjies het steeds met reëlmaat geval nadat Potgieter op nommer ses ingestap het.

Potgieter is met sy 17de bal uitgehaal toe Donovan Le Grange hom geboul het – maar teen daardie tyd het hy reeds ’n allemintige 57 lopies op die telbord geplaas, met vyf viere en ses sesse.

Sy vertrek het Otjiwarongo op 99/5 ná 9.5 boulbeurte gelaat, maar Otjiwarongo het nietemin geskarrel totdat sy laaste kolfpaar net-net ’n oorwinning met een paaltjie verseker het (132/9 ná 19.2 bb).

Malan Kruger (3/43 in 6) en Vernon Cloete (3/34 in 5.2) het elkeen drie paaltjies vir WHS Old Boys geneem.

Otjiwarongo was in September teleurgesteld toe hulle op Windhoek Affies se veld ’n promosie-relegasiewedstryd teen die einste WHS Old Boys II verloor het.

Krieket Namibië het nogtans besluit dat Otjiwarongo die nuwe seisoen in die eersteliga kan meeding, nadat die noordeklub sedert 2018-2019 met opeenvolgende titels bewys het dat hy die tweedeliga ontgroei het.

‘MIDDEL VAN DIE KOLF’

Otjiwarongo se kaptein, Scott Botha, sê: “Dit was maar net een van daai dae wat die jong man niks verkeerd kon doen nie. WHS se openingskolwers het ons hard op die agtervoet gesit, maar toe Jan-Hendrik met sy eerste boulbeurt begin, toe draai hy die wedstryd op sy kop.

“Hy het ongelooflik geboul ... en toe stap hy in om te kolf! Elke bal het van die middel van sy kolf gekom, behalwe die een waarmee hy geboul is. Ek dink dit was van die grootste sesse wat vanjaar geslaan is. Hy’s ’n ongelooflike krieketspeler.”

Die 18-jarige Potgieter was verlede maand ’n lid van die Namibiese junior span wat in Rwanda nie daarin kon slaag om Namibië se plek by die volgende o.19 Wêreldbeker terug te wen nie.

Die o.19-span se enigste nederlaag was teen Tanzanië, wat die toernooi en die WB-plek beklink het danksy hul 14-jarige draaiboul-sensasie Laksh Bakrania wat Namibië met 5/28 gesink het. Vreemd genoeg was dit die enigste wedstryd waarin Potgieter gespeel het (18 lopies van 11 balle en 0/31 in 5).

[email protected]

FOTO
Jan-Hendrik Potgieter boul vir Otjiwarongo in hul vorige nederlaag teen WHS Old Boys se tweedes verlede maand. Foto Andrew Poolman

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!