Sewesitplek-vervoerders betoog

Die optog deur die middestad is met die oorhandiging van hul klagskrif afgesluit.
Augetto Graig
Augetto Graig – Met ’n optog van omtrent 120 sewesitplekvoertuie deur die middestad is gister protes teenoor die ministerie van werke en vervoer aangeteken teen die vertraging en opskorting van openbare vervoerpermitte.

“Ons soek permitte!” was die dreunsang van die betogers wat in Hosea Kutakorylaan tot by die Ausspannplatz-sirkel beweeg het.

Die bestuurders en eienaars van die voertuie is keelvol vir wetstoepassers se hardhandigheid teenoor hul openbare vervoerbesigheid en bevraagteken die beperking op langafstanddienste deur permitte wat slegs in stedelike gebiede toegeken word.

Mnr. Benedictus Ndjitaviua, leier van die groep genoem Namibië Sewesitplek-vervoerwerkersvakbond (NASSTWU), sê ’n onlangse stelling deur mnr. John Mutorwa, minister van werke en vervoer, dat alle openbare vervoerverskaffers met geldige en wettige permitte mag voortgaan, is nie voldoende nie.

“Ons kry geen geleentheid om ons professie uit te voer nie. Die polisie en verkeersbeamptes skend al te lank ons regte. Die vervoerwet van 1977 uit die apartheidsera is steed nie aangepas om ons te verteenwoordig nie.

“Die wêreld innoveer voortdurend en die regering behoort ook hieraan deel te neem. Inteendeel het die belanghebbers ons in die steek gelaat en permitte is deur Nampol opgeskort sonder enige kennisgewing. Ons word boetes van N$4 000 tot selfs N$40 000 opgelê. Ons gee ons samewerking, maar word soos die stiefkinders van die vervoerbedryf behandel.

“Ons is gedwing om hierdie werk te doen, aangesien die regering daarin misluk het om volhoubare werkgeleenthede te skep,” sê hy.

Saam met Ndjitaviua was die NASSTWU se sekretaris-generaal, mnr. Tomus Shiwalo, toe hulle die 25-jarige mnr. Marius Petrus as ’n voorbeeld na vore geroep het. Petrus is glo reeds verkeersboetes ter waarde meer as N$25 000 opgelê.

Ndjitaviua sê die optog is in eenheid met die mense aan wie die bestuurders van sewesitplekvoertuig dienste verskaf en dat hulle met alles tot hul beskiking sal veg vir hul reg om sake te doen, hul verteenwoordigheid tussen belanghebbers, en regverdige behandeling deur wetshandhawers.

Die betogers eis die opskorting van die boetes, die wysiging van die Vervoerwet nr. 74 van 1977, ’n einde aan die diskriminasie teen hulle by padblokkades, asook die verplasing van hoofinspekteur Alex Ganaseb uit die hoofkantoor van die Namibiese polisie se verkeersafdeling, wat volgens hulle buitensporig streng teenoor hulle optree.

Ganaseb het egter in reaksie aan die koerant laat blyk hy is min gepla deur die verwikkeling. Hy dring aan: “Die wet is duidelik. Hulle is heeltemal verkeerd.”

Volgens die topverkeersbeampte is die 1977 Vervoerwet nie alleenlik toepaslik nie, want die padverkeer- en vervoerwet nr. 22 van 1990 stel ook die vereistes vir die gebruik van sedanvoertuie in openbare vervoerbesigheid. “Die eienaar moet as operateur geregistreer wees; die bestuurder moet ’n openbare drywerspermit hê; die voertuig moet aan die padwaardigheidstoets voldoen en geldig gelisensieer wees en moet duidelik aandui dat dit vir besigheid gebruik word,” noem hy.

Die wet laat nie vervoer van passasiers tussen dorpe sonder ’n spesifieke permit toe nie, dring hy aan. “Dié (protes) is ’n politieke ding,” het hy gesê.

Die adjunkminister van werke en vervoer mnr. Veikko Nekundi was daar om die klagskrif te ontvang. Hy het belowe om binne die protesgroep se spertyd van 14 dae terugvoering te geen en het intussen die betogers verseker dat die wysiging van die 1977-wet vorder en dat wettige permitte steeds geldig is.

“Die ministerie diskrimineer nie teen sewesitplekvervoerverskaffers nie. Ons reik lisensies volgens die vervoerwet uit. Solank ’n permit aan jou toegeken word, is dit geldig en wettig,” sê hy.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!