Seychelle was soos 'n sauna, sê Seidler
Die Namibiër het teen Olimpiese sterre sy man gestaan.
Andrew Poolman - Die swemmer Phillip Seidler van Namibië het 'n uiters waardevolle oefenlopie ingekry in sy opbou na die 2019 FINA wêreldkampioenskap in Suid-Korea.
Seidler het vroeër vandeesmaand aan die FINA Marathonswem wêreldreeksbyeenkoms in Seychelle deelgeneem.
Altesame 81 swemmers (38 vroue en 43 mans) van 19 lande was daar om met die idilliese eiland in die agtergrond in die warm water van die Indiese Oseaan te duik.
Die grootste spanne was van Australië, China en Hongarye afkomstig. Seidler kon hom dus teen die wêreld se elite meet, met voormalige wêreldkampioene en Olimpiese swemmers in dieselfde resies.
Die 10 km oopwaterswem vir mans se wegspring was op die middaguur met die seetemperatuur op 'n warm 30 grade. Die bedompige lug en water was beslis 'n faktor wat die marathonresies 'n taai uitdaging gemaak het.
“Die toestande was soos 'n sauna en die ware toets was om nooit op te gee nie. Ongelukkig kon sommige swemmers nie die resies voltooi nie omdat hulle in die uitsonderlike kondisies dehidrasie en koorsagtigheid (hipertermie) begin ondervind het,” vertel Seidler.
Vir die tien kilometer is 'n resiesbaan van 1.6 kilometer uiteengesit wat ses keer herhaal moes word.
By die mans het Ferry Weertman van Nederland hom vroeg in die resies kort agter die voorlopers as 'n sterk aanspraakmaker tuisgemaak, wat met sy kenmerkende stadige haaltempo gereed gelyk het om sy kans aan te gryp sodra hy daarop besluit.
In ronde 4 het Weertman 'n ruk lank rugslag geswem om die res van die voorste groep se kragte deur te kyk – in afwagting op sy voorspelbare wegbreekpoging om soveel as moontlik van die groep af te skud.
Die druk het gevolglik opgelaai met die groep in een lang lyn uitgerek en verskeie wat nie meer die pas kon volhou nie.
In die finale rondte, met die wind wat sterker begin waai het, het net elf swemmers in die voorste groep oorgebly, insluitend verskeie Australiërs (vier van hulle het uiteindelik in die toptien klaargemaak).
Marc-Antoine Olivier van Frankryk het aan die voorpunt 'n vuurwarm pas gehandhaaf en het die eindstreep in die eerste plek bereik (een uur 56 minute 02 sekondes).
Tweede was Nicholas Sloman van Australië (1:56:04.10), met Hongarye se Kristof Rasovszky derde op die podium en net 'n breukdeel van 'n sekonde agter hom in 1:56:04.30).
Die Olimpiese titelhouer van Rio 2016, Ferry Weertman van Nederland, was vierde in 1:56:04.80.
Seidler is baie in sy skik met sy vertoning teen soveel van die wêreld se elite oopwaterswemmers. Vir vyf rondtes het hy hul stywe pas volgehou en net in die sesde rondte kon hy nie byhou nie.
“Ek is supertrots dat ek onder sulke omstandighede en teen só 'n sterk veld 33ste uit 43 swemmers kon klaarmaak.
“Ek was geestelik ingestel om die groot name die stryd aan te sê en het geweldig baie geleer uit hierdie ervaring,” sê Seidler, wie se eindtyd van 1 uur 58 minute was – net 2 minute 56 sekondes agter die wenner.
Ongelukkig bly oopwaterswem een van die sportkodes in Namibië waarin deelnemers met ambisie hul eie onkoste moet dra.
Vanweë die beperkte geldbronne kry Seidler dus maar selde geleenthede om homself op hierdie internasionale vlak te toets en ondervinding in die strategiese taktiek tydens resiese op te doen.
“Ek is superdankbaar dat my ouers dit moontlik gemaak het om na Seychelle te reis. My ma Nadja is my afrigter op professionele vlak en my pa Helmut staan my by met voeding tydens die resies. Ek put ook krag uit die steun van my broer Daniel en my vriendin Amica de Jager.”
Volgens Seidler was die reis na Seychelle uitstekende voorbereiding vir sy deelname aan die FINA wêreldkampioenskap in Gwangju, Suid-Korea in Julie vanjaar.
Seidler het in beide die 5 km en die 10 km vir die wêreldkampioenskap gekwalifiseer. Die 5 km geskied eerste (13 Julie), maar Seidler het reeds besluit om dit mis te loop sodat hy 'n vars aanslag op die 10 km van stapel kan stuur, wat drie dae later geskeduleer is.
Die wêreldkampioenskap se 10 km oopwaterswem is 'n Olimpiese uitdun en die swemmers in die eerste tien posisies beklink regstreekse kwalifikasie vir die Tokio 2020 Spele, terwyl die res hul visier op 'n uitdungeleentheid volgende jaar sal moet instel.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie