Shalulile beloof Warriors se beste
Shalulile beloof Warriors se beste

Shalulile beloof Warriors se beste

Die Namibiese span glo in hul kanse en dat WB-kwalifisering moontlik is, sê afrigter Bobby Samaria.
Tielman van Lill
Tielman van Lill – Die Tafel Lager Brave Warriors stap môre in Thiès, Senegal, by die Stade Lat Dior-stadion vir sy kwalifiserende wedstryd vir die Wêreldbeker teen die gedugte Teranga Lions van Senegal op die veld.

Die Warriors het stewig weggespring in hul veldtog om vir die 2022 Wêreldbeker in Katar te kwalifiseer. Senegal en Namibië het tans onderskeidelik ses en vier punte ná twee wedstryde en gee tans in groep H die toon aan. Kongo is in die derde posisie met een punt, terwyl Togo met nul laaste is.

Die Warriors speel komende Dinsdag die herontmoeting teen die Leeus in die Orlando-stadion in Soweto, Suid-Afrika. Die laaste keer wat Namibië Senegal besoek het, was op 3 September 2015 toe die gasheerspan met 2-0 geseëvier het.

Namibië het onlangs die genooide Senegal-span in die RSA tydens 'n Cosafa­bekerbotsing met 2-1 afgestof. Doele deur Marcel Papama en Elmo Kambindu het toe vir die Warriors se sege gesorg.

In hul laaste tien uitstappies het Senegal sewe gewen, een verloor en moes twee keer met 'n gelykopuitslag tevrede wees. Namibië tel sy laaste tien as vyf gewen, twee verloor en drie gelykopuitslae.

Die twee lande het nog net ses keer teen mekaar gespeel, waarvan Senegal vyf gewen het. Namibië het Togo laasmaand in Togo met 1-0 oorskadu om drie kosbare ligapunte te versamel.

Ondanks die besoek aan die Leeus se kuil reken Peter Shalulile, die spankaptein, en doelwagter Virgil Vries hulle kan weer vir Senegal oorskadu.

Shalulile sê: “Ons glo ons kan hulle weer klop. Die gees in die kamp is positief en ons vat dit een wedstryd op 'n slag. Ons is onder geen druk nie en hoop vir die beste. Die spelers het die erns en belangrikheid van die wed­stryd bespreek en besef. Ons sal hard veg vir 'n oorwinning of gelykopuitslag en dit dan weer in die RSA verder vat. Ek weet ons kan dit doen.

“Ek gaan nie druk op myself teen Senegal plaas om alleen doele te behaal nie. Ons het goeie spelers in die span en as hulle die punte aanteken en ek nie, is dit ewe goed. Dit gaan oor die span in geheel en nie oor my nie. Internasionale sokker verskil hemelsbreed van klubsokker en is meer straf.”

Vries het gesê: “Ek is bly om weer terug in die span te wees en my land te verteenwoordig. Ek glo ons sal ons beste lewer en kyk hoe die wedstryd verloop. Ons is reg vir 'n geveg en sal ons beste spel lewer. Ons speel vir mekaar en dit sê baie.”

Bobby Samaria, hoofafrigter van die Warriors, sê: “Ek is baie tevrede met hoe ons voorbereiding die afgelope dae verloop het. Ons is in Senegal met die geloof dat 'n oorwinning wel moontlik is.

“Elkeen van die spelers is geestelik op peil en glo ons kan die taak vermag. Ons weet dis 'n steil berg om te klim, maar met die positiwiteit in die span is dit moontlik.”

Ná die twee wedstryde teen Senegal sal die Warriors in November Kongo besoek en weer teen Togo in die RSA speel.

Die Warriors-groep: Calvyn Spiegel, Kamaijanda Ndisiro, Loydt Kazapua, Virgil Vries, Ivan Kamberipa, Charles Hambira, Immanuel Heita, Larry Horaeb, Aprocious Petrus, Dynamo Fredericks, Alfeus Handura, Wesley Katjiteo, Marcel Papama, Absalom Iimbondi, Issaskar Gurirab, Riaan Hanamub, Ananias Gebhardt, Denzil Haoseb, Deon Hotto, Willy Stephanus, Elmo Kambindu, Peter Shalulile, Joslin Kamatuka en Benson Shilongo.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!