Shangula waarsku oor strenger maatreu00ebls
Shangula waarsku oor strenger maatreu00ebls

Shangula waarsku oor strenger maatreëls

Meer as 150 mense was teen gister in die hospitaal, met 27 in die intensiewesorgeenheid.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht

Gesondheidspersoneel is siek, oormoeg en hul gestelle is af.

“Ons werk nou al maande in die eerste linie sonder rus en is die hele tyd blootgestel. Die publiek moet nou asseblief hul kant bring en saamstaan.”

So het me. Esmé Botes, voorsitter van die Namibiese Vereniging vir Private Gesondheidsgeriewe (NAPH), gesê met 153 mense wat teen gister gehospitaliseer en waarvan 27 in die intensiewesorgeenheid (ICU’s) was.

Hiervan is 80 in Khomas, die episentrum, in die hospitaal en 25 in ICU’s.

NAPH verteenwoordig onder meer die hoofstad se vier private hospitale (Lady Pohamba Privaat Hospitaal, Rooms-Katolieke Hospitaal, Rhino Park Privaat Hospitaal en Mediclinic Windhoek).

Teen gister het die land 1 107 gevalle en 13 sterftes in drie dae aangeteken, waarvan die meeste in Windhoek is met 600 gevalle en vyf sterftes.

Volgens Botes “cope” die hospitale omdat hulle mekaar ondersteun en daagliks kommunikeer om te hoor wie het beddens beskikbaar en wie kort iets.

Botes sê besoekers aan die hospitale is gestaak, hoewel elke geval individueel geëvalueer word soos nodig.

“In kort versoek ons geen besoekers om almal te beskerm,” het sy gesê.

Met verwysing na elektiewe operasies, het Botes gesê dié gevalle is drasties minder.

“Vakansie speel ook ’n rol, mense beweeg na hul vakansiebestemmings en dokters neem ook verlof.”

Met besoekers wat op veral die kusgebied toesak, het Walvisbaai en Swakopmund onderskeidelik oor die drie dae 52 en 79 gevalle aangeteken.

Oshakati se gevalle het ook drasties gestyg met 69 gevalle oor dieselfde tydperk.

Die grafika by vandag se berig toon die daaglikse gemiddelde van nuwe gevalle per gesondheidsdistrik vir die sewedaesiklus tot op 19 Desember (die syfers wat gister aangekondig is).

Oor die tydperk is nuwe gevalle in 31 van Namibie se 35 gesondheidsdistrikte bevestig.

Die volgende bykomende sewe distrikte het daaglikse gemiddeldes van 2 en 3 nuwe gevalle (vorige gemiddeld in hakies): Tsumeb 3 (2), Onandjokwe 3 (0,4), Omuthiya 2 (0,6), Oshikuku 2 (0), Outapi 2 (0,6), Outjo 2 (0,3) en Engela 2 (0,6).

Die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, het gister gewaarsku strenger maatreëls gáán ingestel word sou daar ’n “ongekende styging” in gevalle wees omdat mense nie by die vasgestelde reëls en regulasies hou nie.

“Ons doen dus ’n beroep op die publiek om nie dié voorstel onvermydelik te maak nie,” het hy gemaan.

Met verwysing na buurland Suid-Afrika waar ’n nuwe variant van Covid-19 gevind is wat dié land se tweede golf dryf, het Shangula by navraag gesê dit is geen verrassing nie.

“Ons weet dat virusse vinnig muteer en die nuwe variant wat in Suid-Afrika gevind is, is geen verrassing nie, dit is in Europa ook gevind,” het hy gesê.

In terme van epidemiologie raak dit egter nie die beheermaatreëls wat in Suid-Afrika of in Namibië geld nie.

“Die toets vir Namibië is om te bepaal of die nuwe variant akademies is. Dit sal op dieselfde manier as die bestaande variant beheer word.”

Volgens Shangula is sy ministerie voortdurend in kontak met pres. Hage Geingob oor die huidige stand van die pandemie in Namibië.

Gister het die aktiewe gevalle op 2 567 gestaan, die getal Covid-19-verwante sterftes op 177, 4 685 kontakte word gemonitor en 1 021 mense is in kwarantyn.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer