Shaningua 'het uit vrees geskiet'
Shaningua 'het uit vrees geskiet'

Shaningua 'het uit vrees geskiet'

Die skiet van ’n Finse burger in Augustus 2015 was uit selfverdediging, het die moordbeskuldigde gister oor die noodlottige voorval getuig.
Jacqueline Louw
Jacqueline Louw – Mnr. Rodney Shaningua (47) wat van die moord op ’n Finse burger twee jaar gelede beskuldig is, het gister aan ’n hoërhofregter vertel dat hy vir sy lewe gevrees het toe hy ’n reeks koeëls op ’n voertuig afgevuur het waarin die slagoffer was.

Die motor, wat deur die slagoffer bestuur is, het met skreeuende bande op hom afgery, het Shaningua beweer terwyl hy in sy eie verdediging in die Windhoek-hoërhof getuig het.

Shaningua het aan regter Christie Liebenberg vertel dat wyle Marko Rönni met sy Land Rover vasgery het in die voertuig waarin hy en Fenola Fenix insittendes was die nag van die noodlottige skietery buite ’n kroeg in die suidelike nywerheidsgebied van Windhoek. Volgens hom het hulle vir sy broer gewag sodat Fenix saam met die broer en ander vriende na die kroeg kon gaan vir ’n aand uit. Shaningua was op pad terug na sy huis toe.

“Sy (Fenix) was besig om haar grimering op te knap en ek het na musiek geluister en skielik was daar ’n harde stamp aan die motor. In ’n sekonde was alles deurmekaar,” het hy getuig.

Hy het aan die regter vertel hoe hy sy deur oopgemaak het en na die voertuig gestap het wat in hulle vasgery het. “Die oomblik toe ek uitgeklim het, is die kar se toeretal verhoog,” het hy vertel. “Ek het besef die man wou wegkom. Ek het die bande gehoor.” Die motor het in ’n sekonde op hom afgekom, het hy verder getuig. Volgens sy getuienis was hy van plan om met die bestuurder te praat, maar die motor was so na aan hom dat hy geskrik het en sy pistool uitgehaal en oorgehaal het. “Ek het vir my lewe gevrees,” het hy gesê.

Shaningua het getuig dat hy na die motor se bande geskiet het om homself te probeer verdedig, maar die motor het steeds op hom afgery. Hy het verder vertel dat hy van die motor wegbeweeg het met sy hand nog steeds op die sneller. “Ek het so geskrik, ek het nie eens agtergekom dat die skote afgevuur is nie,” het hy gesê.

Sy getuienis was dat die eerste skote uit selfverweer afgevuur is. Van die res van die skote was hy nie bewus nie, het hy geantwoord toe hy deur sy regsverteenwoordiger, mnr. Slysken Makando, daaroor ondervra is. “Nadat al die skote afgevuur is, het alles stil geraak. Alles het so vinnig gebeur – in sekondes. Ek kon nie gehoor het of iemand skree nie – alles was intens,” het hy vertel.

In teenstelling met Fenix se getuienis dat hulle ná die skietery gery het tot by die Land Rover wat nog ’n entjie aanbeweeg het, het Shaningua gesê hy het links vanuit Bellstraat in Lazarettstraat ingedraai en daarvandaan reguit na sy huis in Hochland Park gery. Hy het ontken dat hy die grys Land Rover gesien het en gesê dat die voertuig weggery het.

Shaningua het ook getuig dat hy geskok was ná die voorval en homself vir die twee dae daarna afgesonder het “om oor die skok te kom”. “Ek het gebid oor die saak,” het hy vertel, maar “Dinsdag wou ek praat”. Nadat hy met familielede gekonsulteer het, is die polisie in kennis gestel en hy is daarna in hegtenis geneem. Shaningua se Glock-pistool en die Volkswagen Polo waarmee hy in die ongeluk betrokke was, is deur die polisie gekonfiskeer.

Die saak duur vandag voort.

Die staat word deur adjunk-aanklaer-generaal Karin Esterhuizen verteenwoordig.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!