Shaningua ontken moord op Fin
Shaningua ontken moord op Fin

Shaningua ontken moord op Fin

Die man wat twee jaar gelede 'n Finse burger in Windhoek geskiet het, sê hy is onskuldig.
Jacqueline Louw
Jacqueline Louw - Die verhoor van die Windhoeker wat van moord op 'n Finse burger aangekla word ná 'n middernagtelike skietery twee jaar gelede in die hoofstad, het gister in die hoërhof begin.

Mnr. Rodney Shaningua, wat die Finse burger mnr. Marko Rönni op 9 Augustus 2015 ná 'n motorbotsing in Windhoek doodgeskiet het, se regsverteenwoordiger het gister sy pleitverduideliking in die Windhoek-hoërhof bekend gemaak.

Shaningua, wat teregstaan op klagte van moord en dwarsboming van die gereg, het onskuldig op al twee klagte gepleit.

Volgens die klagstaat het die oorledene net ná middernag op die dag van die voorval in Bellstraat in die suidelike nywerheidsgebied vasgery in 'n motor waarvan die beskuldigde die bestuurder was. Die beskuldigde het glo uit sy motor geklim en minstens nege skote afgevuur in die rigting van die oorledene, wat steeds in sy motor was. Rönni is deur twee skote in die borskas getref en het op die toneel weens die skietwonde gesterf. Die beskuldigde het na bewering van die toneel gevlug.

In sy pleitverduideliking sê Shaningua dat hy uit selfverdediging geskiet het om 'n lewensbedreigende aanval van die oorledene af te weer. Volgens hom het hy uit sy motor geklim om die ongeluk te bespreek, toe die oorledene met 'n hoë spoed op hom afgery het. Hy toe glo sy pistool uitgepluk en in die rigting van Rönni se voertuig begin skiet. Shaningua het verder gesê: “Ten spyte van die skote het die oorledene voortgegaan om op my af te ry, want hy het nie gestop nie, maar van die toneel weggery.”

In verband met die tweede klag teen hom beweer die staat Shaningua het die Volkswagen Polo waarin hy gedurende die voorval gery het, weggesteek en die registrasiemerke van die voertuig verwyder in 'n poging om die polisie­ondersoek in die wiele te ry. Shaningua ontken hierdie aantygings teen hom.

Shaningua erken wel die datum en plek van die voorval en dat hy wel die oorledene geskiet het.

'n Taxibestuurder, mnr. Alexander Paulus, wat 'n ooggetuie van die skietery was, is ook gister deur die staat en die verdediging se regsverteenwoordigers gekruisondervra. Volgens hom het hy die botsing gesien van waar hy agter die Range Rover van die oorledene gery het. Hy het getuig 'n persoon het ná die botsing met 'n vuurwapen uit 'n wit Volkswagen Polo geklim en op die Range Rover begin skiet – eers na die regtervoorwiel en toe direk in die kajuit aan die bestuurder se kant. Volgens Paulus het die Range Rover verby die Polo gery en 'n entjie van die botsingtoneel in die middel van die pad tot stilstand gekom. Hy was besorg oor die bestuurder van die Range Rover en het die motor gevolg, waar hy die oorledene oor die stuurwiel sien lê het.

Shaningua, wat deur mnr. Slysken Makando verteenwoordig word, is in Desember verlede jaar in die Windhoek-­hoërhof borgtog geweier en is sedertdien in aanhouding.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!