Shaningwa kry 24 jaar vir 'padwoedeskietery'
Shaningwa kry 24 jaar vir 'padwoedeskietery'

Shaningwa kry 24 jaar vir 'padwoedeskietery'

Padwoede het glo tot die dood van 'n Finse burger gelei en meegebring dat Danne Rodney Shaningwa nou 24 jaar agter tralies gaan sit.
Estelle de Bruyn
Estelle de Bruyn - 'n Man se “irrasionele” optrede tydens 'n beweerde padwoedevoorval het hom nou sy vryheid gekos.

Danne Rodney Shaningwa, is gister tot 24 jaar gevangenisstraf gevonnis vir die dood van 'n Finse man in 2015.

Shaningwa het die man op 9 Augustus 2015 in 'n “padwoedevoorval” naby 'n Windhoekse kroeg doodgeskiet.

Regter Christie Liebenberg het hom aan dolus eventualis op die moordklag skuldig bevind, omdat hy kon voorsien dat die skote wat hy op mnr. Ronni Marco Kristian Uolevi gevuur het, noodlottige gevolge sou inhou.

Die 45-jarige beskuldigde is ook skuldig bevind aan 'n klag van dwarsboming van die gereg omdat hy die voorval nie binne 24 uur aangemeld het nie en sy motor, wat in die ongeluk betrokke was, weggesteek het.

Op die eerste klag is hy tot 24 jaar tronkstraf gevonnis en vier jaar op die tweede klag. Die vonnis sal gelyktydig uitgedien word.

Shaningwa is ook onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen vir twee jaar ná sy vrylating te besit.

Die pistool wat Shaningwa in die aanval gebruik het, is aan die staat verbeurd verklaar.

“Jy, Danne Rodney Shaningwa, het eers kort voordat die hof jou skuldig bevind het, opregte berou begin toon en verantwoordelikheid vir die skietery aanvaar. Jy het uiters onverskillig opgetree toe jy skote op die oorledene se voertuig afgevuur het ná hy teen die agterkant van jou voertuig gebots het,” het Liebenberg met die vonnisoplegging gesê.

Hy sê ondanks Shaningwa se ver­skoning aan die oorledene se eggenoot en die feit dat hy haar en die egpaar se drie kinders om vergifnis gesmeek het, en homself selfs daartoe verbind het om die kinders finansieel te ondersteun deur beeste te verkoop, moet hy besef 'n mens kan nie 'n ligter vonnis koop nie.

Liebenberg is egter tevrede dat Shaningwa se berou opreg is. Ten spyte hiervan is die aard van die oortreding baie ernstig.

Die feit dat hy onmiddellik ná die botsing sy pistool gegryp en begin skiet het, is volgens Liebenberg “irrasioneel”.

Liebenberg het die hoop uitgespreek dat die vonnis as afskrikmiddel vir ander sal dien.

Dwarsboming van die gereg is volgens Liebenberg ook 'n ernstige klag.

Shaningwa het die hof meegedeel hy het die skote uit selfverdediging ­afgevuur nadat Uolevi gedreig het om hom omstreeks 03:00 voor Joker's Pizzeria and Sports Bar met sy luukse vier­trekvoertuig om te ry, terwyl hy op pad na sy motor was.

Hy het later aangevoer hy het sy humeur verloor toe die oorledene probeer het om ná die ongeluk van die toneel te vlug.

Shaningwa het nege skote met sy pistool afgevuur. Uolevi het enkele meters gery voordat hy dood is. Die polisie het die pistool met Shaningwa se inhegtenisname op 11 Augustus by sy huis gevind. Hy was toe reeds vir twee dae op die vlug.

Hy het homself ná drie dae aan die polisie oorgegee, wat volgens Liebenberg 'n teken is dat hy verantwoordelikheid vir sy dade aanvaar het.

Me. Carol-Ann Esterhuizen het vir die staat opgetree en mnr. Slysken Makando namens Shaningwa.

Die gebeure het hoofopskrifte in koerante in Finland gemaak.

– Bykomende inligting: Nampa

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!