Sheiddy hunker na skool

Tanja Bause
Tanja Bause – “Wanneer ek groot is, wil ek graag ’n dokter word sodat ek kinders soos ek kan help,” het Sheiddy Peter Nsamba (10) gesê.

Sheiddy is op Rundu gebore en beide sy bene en arms is misvorm en hy kan hulle glad nie gebruik nie.

Sy pa, mnr. Julius Nsamba, het drie jaar na Sheiddy se geboorte saam met sy familie Windhoek toe getrek op soek na werk en ’n beter lewe vir sy familie en veral vir Sheiddy.

“Hy kan nie sy ledemate gebruik nie en ons het gedink daar is ’n skool in Windhoek waar hy kan skoolgaan. Sheiddy is baie slim en hy wil leer,” het Nsamba gesê.

Verlede jaar was hy vir ’n rukkie by ’n kleuterskool, maar hy is nou te oud en moet skool toe gaan. Nsamba het by ’n staatskool gaan aanklop, maar omdat Sheiddy nie op sy eie kan loop of iets kan vashou nie, sien hulle nie kans nie.

“Sheiddy het gehuil toe hy sien sy vriende gaan skool toe. Hy het gevra of die skool hom nie wil hê nie omdat hy so lyk? Dit maak my hart seer om hom so te sien,” het sy pa gesê.

LEER HOMSELF
Sheiddy het twee jonger boeties. Sy agtjarige boetie is in graad 2.

“Ek kan nie verstaan hoekom hy skool toe mag gaan nie. Hy kan nie eers lees of skryf nie en ek wat kan lees en skryf mag nie skool toe gaan nie,” het Sheiddy gesê.

Nsamba sê: “Sheiddy is net soos enige ander seun. Hy hou daarvan om met sy vriende te speel en te lag – hy kan net nie loop nie.”

Sheiddy hou van teken en skryf; iets wat hy homself geleer het. Hy hou die pen of potlood met sy tande vas, buig vorentoe en begin teken.

“Ek hou die meeste daarvan om voertuie of vliegtuie te teken,” het hy gesê.

Volgens sy pa vra hy sy vriende wat hulle by die skool geleer het en hulle moet hom wys. Hy kopieer dit dan en in ruil leer hy sy vriende om te teken.

Nsamba en sy vrou is beide werkloos. Toe hulle sewe jaar terug na die Okahandja Park- informele nedersetting getrek het, het hulle ’n sinkhuis gehuur.

“Die mense was nie gelukkig toe hulle vir Sheiddy sien nie. Hulle het nie van ’n gestremde kind gehou nie. Ek het elke dag stad toe gegaan en enige werk gedoen om geld te verdien. Ek het kos daarmee gekoop en die res gespaar. Toe ek N$3 000 gespaar het, het ek vir my familie ons eie kambashu gekoop,” het hy gesê.

Sommige ouers van sy vriende hou ook nie daarvan as hulle kinders met hom speel nie, sê Nsamba.

“Ek gee nie om wat mense sê nie, ek wil net hê dat my seun onderrig ontvang en dat hy gelukkig is.”
[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer