Shifeta: Geen jagpermit vir Kebbel
Namibiese jagters meen die geraakte gemeenskappe sal al die leeus sonder vergoeding vergiftig of vrekskiet.
Francoise Steynberg - Midde internasionale oproer het die minister van die omgewing en toerisme bevestig daar is nie 'n jagpermit vir die trofeejag van die woestynaangepaste leeumannetjie Kebbel uitgereik nie.
Die Britse bewaringsorganisasie Spots & Stripes het gister 'n petisie hierteen in Londen aan Namibië se ambassade oorhandig.
Die minister, mnr. Pohamba Shifeta, het gister aan Republikein gesê: "Ek het nooit 'n jagpermit vir Kebbel uitgereik nie en as daar so 'n permit is, sal ek dit terugtrek."
Die uitreiking van die trofeejagpermit vir Kebbel is verlede week deur natuurbewaarders op Sesfontein bevestig, maar ingeligte bronne meen die minister het die permit weens internasionale druk teruggetrek.
Kebbel, met sy swart maanhare, moes boet vir die slagting van ’n boervrou se twee donkies vroeg in Junie net suid van Sesfontein.
PETISIE
Spots & Stripes het gemik vir 7 500 handtekeninge vir die petisie, maar teen gister was daar reeds meer as 8 000 handtekeninge. Die petisie eis dat die minister die jagpermit kanselleer en terugtrek.
"Hierdie woestynaangepaste leeus sal as 'uitgewis' geklassifiseer word as dit op die Wêreldbewaringsunie (IUCN) se bedreigde spesie-lys verskyn," lui die petisie.
Die petisie verwys na die vyf jong leeumannetjies van die dokumentêre rolprent Vanishing Kings wat almal van kant gemaak is.
"Na raming is sewe welpies en 11 leeumannetjies- en wyfies in die laaste 18 maande uit die totale bevolking vrekgemaak en slegs sowat 114 leeus bly oor."
Shifeta het in Februarie teen 'n aanlyn advertensie van Savannah Safaris vir 'n leeu- en olifantjag uitgevaar.
Dit het oproer op sosiale media veroorsaak en die ministerie is vir die goedkeuring van die jag gekritiseer, maar hy het volgehou die jag van beide die leeu en die olifant is nie deur die ministerie goedgekeur nie.
"Dit is ontstellend dat Savannah Safaris 'n olifantjag geadverteer het wat nie in die Torra- kommunale bewaringsgebied se jaarlikse kwota vir 2017 is nie. Dit is onprofessioneel en oneties dat die advertensie geplaas is voordat die toekenning van die jaarlikse kwota gefinaliseer is," het Shfieta gesê.
NAPHA REAGEER
Die Namibiese Professionele Jagtersvereniging (Napha) het gister in 'n mediaverklaring sy teleurstelling uitgespreek oor die "oningeligte openbare verset" teen 'n Napha-lid, Leopard Legend Hunting Safaris.
Dít in reaksie op die bemarking van die trofeejag van 'n mens-dier-konflikleeu soos per brief uitgereik deur die ministerie van die omgewing en toerisme aan die Sesfontein- kommunale gebied.
"Hierdie poging as 'n laaste uitweg is deur die ministerie gedoen om mens-dier-konflik te bestuur en diegene wat deur hierdie konflik geraak word, te vergoed," sê die president van Napha, me. Danene van der Westhuyzen.
"Dit lyk of die publiek dink beskermde en kommunale bewaringsgebiede is soortgelyk aan groot dieretuine wat absolute beskerming aan elke individuele dier bied, eerder as om bevolkings te bewaar en gelyke grondgebruik vir alle Namibiërs te verseker."
Napha sê weens hierdie "oninligte en ongegronde feite" wat wyd op sosiale media versprei word, word die skuld op al die verkeerde partye geplaas.
"Dit is in niemand se belang om enige spesie in Namibië uit te roei nie en uiteindelik het ons almal dieselfde doel - die bewaring van ons waardevolle wild deur volhoubare gebruik. In hierdie geval, blameer die donkie."
Napha meen dit is onmoontlik om mens-dier-konflik ten volle uit te roei, maar sê alle konflik moet op die doeltreffendste maniere bestuur word.
"Die beweringe dat hierdie leeumannetjie die 'laaste woestynleeumannetjie' is, is nie korrek nie. Voorts het verskeie gemeenskappe gedreig om die oorblywende leeus in die geraakte gebiede te vergiftig of te skiet as die probleem nie opgelos word nie," sê Van der Westhuyzen.
"Soos in die brief aan Sesfontein uitgereik, is alle moontlike maatreëls gevolg om konflik te voorkom. Die ministerie is egter versoek om weer oor hierdie kwessie te beraadslaag en sal binnekort terugvoering aan Napha gee."
Napha meen dit is 'n skande dat die Namibiese publiek eerder een dier in plaas van die nasionale beleid ondersteun om gelyke grondgebruik vir alle Namibiërs te bevorder.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie