Shifeta kap terug nu00e1 bohaai oor Gretzky-leeu
Shifeta kap terug nu00e1 bohaai oor Gretzky-leeu

Shifeta kap terug ná bohaai oor Gretzky-leeu

Die nasionale beleid oor die bestuur van mens-dier-konflik is volgens die minister van die omgewing en toerisme so ontwikkel om wildbewaring, menseregte én toerismeontwikkeling in ag te neem.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg



Dit is jammer en 'n skande dat sommige buitelanders steeds dink Afrika kan nie hul eie kwessies hanteer nie.

Só sê die minister van die omgewing en toerisme, mnr. Pohamba Shifeta, ná die bohaai op sosiale media oor die skietdood van die leeu genaamd Gretzky op 16 Junie op die plaas De Rust in die Kunenestreek.

“Die leeu is geskiet in reaksie op herhaalde aanvalle en pogings in die daaropvolgende dae om die leeu nie te skiet nie. Die leeu was deel van 'n trop wat 27 bokke, skape en twee donkies in 'n kraal gevang het,” het Shifeta gesê.

Hy meen vir baie buitelanders is dit niks nie, maar vir ­Namibiese huishoudings is dit 'n aansienlike verlies.

“Hoewel ons toerisme as 'n groot bron van inkomste in die ekonomiese sektor ag, sal ons as verantwoordelike regering altyd ons mense se behoeftes eerste stel.”

Shifeta sê kritici doen aan die hand dat Namibië die belange van sy eie mense “moet ignoreer” ter wille van toerisme.

Dít ondanks die feit dat sommige inwoners aanvaar het dat hulle hul lewensruimte met gevaarlike roofdiere en wilde diere moet deel wat hul eiendomme en ander bronne van inkomste vernietig, sê die ­minister.

“In sekere gevalle is daar selfs ­lewensverliese,” sê hy.

Volgens Shifeta is daar internasionale groepe wat gekant is teen die volhoubare gebruik van wild en graag ongegronde gerugte versprei wat daarop gemik is om Namibië se beeld te skaad.

Hy sê Namibië is onderhewig aan bewaringspraktyke wat spesifiek vir Namibië werk, tot Namibiërs se voordeel strek en in ooreenstemming met die Grondwet is.



LEEUGETALLE

Die minister sê dié praktyke is op die proef gestel en die sukses daarvan kan gemeet word aan die aanwas en herstel van ons wild­lewebevolking.

“Sowat 700 leeus kom oor die hele noorde van Namibië en in sommige sentrale en suidelike gebiede voor,” sê hy.

Shifeta sê daar is 430 leeus in die Etosha Nasionale Park, 120 in die Kunenestreek en dele van die Erongo­streek, 50 in die Khaudum Nasionale Park en omliggende gebiede in die Kavango-Oos- en Otjozondjupastreek, 50 in die Zambezistreek en sowat 50 op sommige kommersiële plase.

Volgens hom het gevalle van mens-dier-konflik wat diere soos leeus, olifante en krokodille betrek toegeneem as gevolg van sukses­volle bewaringspraktyke, wat die getal wilde diere laat verdriedubbel het.

Daarom is die nasionale beleid oor die bestuur van mens-dier-konflik op so 'n manier ontwikkel om wildbewaring, menseregte én toerismeontwikkeling in ag te neem.

Ongelukkig is daar 'n paar individue in Namibië wat eenvoudig nie die groter geheel van bewaring op kommunale en kommersiële grond begryp nie, of wat die rol kan waardeer wat aansporings, roofdier­bestuur en sosiale aanvaarding speel nie.

“Hulle kan nie sien waar Namibië oor 'n paar dekades moet wees nie. Hulle kyk eerder na elke leeu afsonderlik,” sê Shifeta.

“Deur middel van sosiale media steun hierdie individue – selfaangestelde bewaarders – op goedbedoelende, maar oningeligte mense in die samelewing. Omdat bewaringsbiologie ingewikkeld en moeilik is om te verduidelik, verkies hulle eenvoudige benaderings en oplossings wat wêreldwyd misluk het.”



TROFEEJAG

Shifeta sê daar is ook beweringe dat die geld wat deur trofeejag gegenereer word in die sakke van individue in leierskapsposisies in die ministerie gesteek word.

“Dit is nonsens. Die geld word deur die Wildprodukte-trustfonds en Gemeenskapsgebaseerde Natuurlike Hulpbronnebestuurprogram in wildbewaring en landelike ontwikkeling herbelê.”

Shifeta sê om mens-dier-konflik te takel, vereis 'n balans tussen bewaringsprioriteite en die behoeftes van mense wat met wild moet saamleef.

“Die meeste Namibiërs is afhank­lik van grond vir hul bestaan, maar die teenwoordigheid van baie ver­skillende groot soog- en roof­diere, saam met mense se hervestigingspatrone, lei tot konflik tussen mense en diere.”

Hy meen daarom is dit nodig dat maatreëls vir landelike gemeen­skappe en boere ingestel word om wild te bestuur sodat hulle daaruit, asook uit ander natuurlike hulpbronne, voordeel kan trek.

Die minister verseker alle ­toeriste dat Namibië op bewaringsgebied gesond is, maar uitdagings beleef.

“Ons doen 'n beroep op die Namibiese publiek en die internasionale gemeenskap om hierdie onakkurate, vals berigte en aannames oor ons leeus en oor volhoubare praktyke te ignoreer,” het hy gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!