Shifeta verdedig trofeejag by COP13
Shifeta verdedig trofeejag by COP13

Shifeta verdedig trofeejag by COP13

''Wildlewe dra 4% tot BBP by''
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Die minister van die omgewing en toerisme het die 13de Konferensie van Partye (COP13) van die Verenigde Nasies (VN) se Konvensie oor Biologiese Diversiteit (CBD) in Cancun, Mexiko, as platform gebruik om sy kommer oor die verhoogde teenkanting teen trofeejag uit te spreek.

“Ons sien trofeejag as ''n integrale deel van ons bewaringstrategie en die breër ekonomie. Dit is ''n lewenslyn van ons gemeenskappe asook ''n bedryf met groot potensiaal vir toekomstige uitbreiding,” het die minister, mnr. Pohamba Shifeta, Sondag tydens die opening van CBD COP13 gesê.

“Sonder jag sal ons wild nie meer ''n lewensvatbare vorm van grondgebruik in landelike Namibië wees nie en sal dit met ander vorme van grondgebruik vervang word wat meer skadelik vir ons ekostelsels is.”

Volgens Shifeta het ''n onlangse studie beraam dat die aantal finansieel-­winsgewende kommunale bewaringsgebiede drasties sal verminder as die inkomste van jag uitgewis word. “Dit kan lei tot die afname van ons gemeenskapsgebaseerde benadering tot bewaring wat weer tot verhoogde vlakke van armoede en onwettige handel in wild en wildstropery aanleiding kan gee,” het Shifeta gesê.

“Met hierdie suksesvolle stelsel van gemeenskapsbewaring en toerisme gebaseer op die volhoubare gebruik van wild, veral trofeejag, is dit die hoof inkomstebron vir bewaringsgebiede. Trofeejag, oftewel bewaringsjag soos ons verkies om dit te noem, is ''n sleutelpilaar van ons breër benadering tot die bewaring en volhoubare gebruik van ons natuurlike hulpbronne.”

Shifeta sê die wildbedryf in Namibië is ''n uitstekende voorbeeld hoe biodiversiteit met produktiewe sektore in die ekonomie - in hierdie geval toerisme - kan bydra om die lewensbestaan van mense en die ekologie te verbeter.

Hy sê ander gebruike van wildlewe is wildveilings, die verkoop van wildsvleis, asook wildboeredery wat belangrike inkomstegenereerders is en bydra tot die armoedeverligting. Volgens die minister dra wildlewe tot byna 4% van die bruto binnelandse produk (BBP) by.

“Opbrengste van die wettige handel in wild en hul produkte, renosterhoring en ivoor ingesluit, word herbelê in die Wildprodukte Trustfonds en die Omgewingsbeleggingsfonds van Namibië. Hierdie inkomste finansier die hervestigingsprogram wat al meer as 10 000 wild van staatsbeskermde gebiede na bewaringsgebiede ver­skuif het,” het Shifeta gesê

Hy het beklemtoon dat Namibië se gebruik van wildlewe streng ­gereguleer en beheer word, en is ­gebaseer op wetenskaplike navorsing met jaarlikse wildtellings wat uitgevoer word vir ''n streng stelsel van kwotas en permitte.



GROEI IN WILDBEVOLKINGS

“Ons benadering tot bewaring het tot dramatiese groei in wild op kommunale grond gelei, insluitende ikoniese spesies soos olifante, swartrenosters en leeus, wat sterk bevolkings gevestig het in gebiede waar hulle gejag en op die rand van uitwissing was,” het Shifeta gesê.

“In die geval van Namibië se wildbedryf, met regverdige en gelyke deel van voordele, lei die aansporing van die volhoubare gebruik van biodiversiteit tot natuurbewaring. Aansporings lei ook tot die volle betrokkenheid en deelname van ons gemeenskappe in bewaring.”

Shifeta het gesê Namibië se bewaringsbeleide word as van die beste in die wêreld beskou en word voortdurend hersien en opgedateer om met die veranderde omstandighede van bewaringspogings aan te pas. Hy het verwys na die implementering van die tweede Nasionale Biodiversiteit Strategie en Aksieplan (NBSAP 2).

COP13 vind tot 17 Desember plaas.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!