Shiimi oor rommel, Trump en Angola
Shiimi oor rommel, Trump en Angola

Shiimi oor rommel, Trump en Angola

Jo-Mare Duddy Booysen
Jo-Maré Duddy – Die president van die Bank of Namibia (BoN), Ipumbu Shiimi, het gister gesê Suid-Afrika se afgradering na rommelstatus behoort nie “outomaties” dieselfde lot vir Namibië te beteken nie.

Hy het dié uitlating tydens die aankondiging van die monetêre beleidskomitee gemaak waar die BoN opnuut besluit het om sy repokoers onveranderd op 7% te laat. Dit beteken handelsbanke se prima-uitleenkoers van 10,75% bly ook dieselfde.

Namibië se gradering vir buitelandse staatskuld is tans net een vlak bó rommelstatus by beide Fitch en Moody’s.

Volgens Shiimi gaan Namibië se vermoë om sy skuld te delg van deurslaggewende belang wees. As die regering én die private sektor skouer aan die wiel sit, skuld gestabiliseer en verminder kan word, kan Namibië ‘n afgradering vryspring, sê hy.

Shiimi het voorts gesê sekere uitlatings van die Amerikaanse president, Donald Trump, hou ‘n risiko vir ekonomiese groei nie net wêreldwyd nie, maar ook plaaslik in. Hy het na Trump se ekonomiese beleid van ‘Amerika eerste’ verwys en gesê dit kan negatiewe gevolge vir wêreldgroei inhou.

“As ons almal binnetoe kyk en ons grense sluit, sal niemand meer handeldryf nie,” het Shiimi gesê.

Veral die uitvoer van Namibië se diamante kan in die gedrang wees. “Amerika is ons nr. 1-klant,” aldus Shiimi.

Namibië het verlede jaar N$23,5 miljard se diamante uitgevoer, volgens die Namibië Statistiekagentskap (NSA).

Hy hoop Trump se beleid sal nie “té veel na binne gerig” wees nie, het Shiimi gesê.

Oor die uitstaande skuld van die sentrale bank van Angola het Shiimi gesê terugbetalings is op koers. Die Banco Nacional de Angola (BNA) het die afgelope week nóg US$51 miljoen aan die BoN betaal. Die sentrale bank is oortuig dat die oorblywende sowat US$255 miljoen met kwartaallikse betalings teen die middel van 2018 gedelg sal wees, sê hy.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer