Shinima beklink hoofgeveg met uitklophou
Die promotor Joseph Benhard se klub het ’n goeie toernooi op Ondangwa aangebied.
Tielman van Lill - Die MTC Kilimandjaro-boksklub op Ondangwa in die Oshanastreek het onlangs ’n goeie hupstoot van sy nuwe hoofborg MTC ontvang en sy eerste toernooi onder die nuwe vaandel was laas naweek ’n groot sukses.
Kilimandjaro het ’n borgskap van N$1.2 miljoen ontvang wat oor drie jaar verdeel is. Dié vennootskap is ’n broodnodige inspuiting vir ontluikende jong boksers in die streek wat eers hul pad vanaf amateurvlak na die professionele arena oopveg.
Die klub se stigter en promotor, die oudbokser Joseph Benhard, het die naweek ’n goed georganiseerde toernooi by die Ekamuti Lodge op Ondangwa aangebied waarin elf watertand gevegte voor ’n volgepakte saal uitgespook is.
Die hoofgeveg van die aand het aan Charles Shinima behoort wat vir Steven Shimbonde met ’n tegniese uitklophou in hul junior middelgewigklas oor tien rondes verslaan het om sy Namibiese titel te behou. Dit was ’n herontmoeting, met die onoorwonne Shinima (nege gewen) wat die vorige keer ook met ’n tegniese uitklophou gewen het.
In die junior weltergewigklas het Michael Benhard, seun van Joseph, vir Ndangi Shapwa om die nasionale titel met punte geklop. Die promotor het vooraf gesê dat die nasionale titel baie sal beteken om vir boksers in die noorde te wys dat die pad boontoe een mylpaal op ’n slag bereik kan word. Michael Benhard se beroepsrekord staan nou op 5-0.
In die junior middelgewigklas was daar twee gevegte. Edison Nghipondoka klop vir Nuuyoma met punte, terwyl die gevaarlike Abed Shikongo ’n puntebeslissing teen Ngihangwa Hoseph oor vier rondes bewerkstellig.
Die superkapokgewiggeveg oor vier rondes behoort aan die ontluikende Mateus Heita, wat vir Sacky Sheehama met punte klop.
In nog ’n superkapokgewig-onderonsie oor ses rondes haak Phillipus Nghitumbwa met punte die knoop deur teen Julius Sheefeni.
Joseph Benhard, die dryfveer agter die sukses van Kilimandjaro, sê die toernooi was van topgehalte.
“Dit was ’n aand waar goeie boks gesien was. Ná al die jare wat ek betrokke is, was die naweek se aksie beslis die beste wat ek nog as promotor voorgesit het. Met die hulp van MTC was dit goed georganiseer en die resultaat was uitstekend.
“Die ondersteuners en boksliefhebbers het in groot getalle opgedaag om hul onderskeie gunstelinge by Ekamuti Lodge aan te spoor. Die boksers is in hul noppies en ek is gelukkig. Ek kan MTC nie genoeg vir hul ondersteuning bedank nie en beloof dat hierdie nuwe vennootskap vir sommer nog baie boks hier in die noorde gaan sorg,” het ’n tevrede Benhard gesê.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie