Shinima oordonder titeluitdager

Die nuwe nasionale kampioen se krag het die deurslag gegee.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Charles Shinima was Saterdag­aand baie in sy noppies met sy verowering van die vakante Namibiese nasionale bokstitel in die junior middelgewigklas (69.85 kg).

Shinima het in die hoofgeveg by die Hoërskool A. Shipena se saal 'n uitklopoorwinning in die tweede ronde teen sy uitdager Ebenestus (Mendu) Kaangundue behaal.

“Ek het vooraf hard geoefen en my krag was te veel vir hom. Ek is baie trots om 'n kampioen te wees; dit is vir my iets groots. Ek is baie dankbaar teenoor my promotor Nestor Tobias wat my dié kans gegee het,” het Shinima gesê, 'n bokser van 21 Brigade boksklub wie se skoon beroepsrekord nou op agt gevegte met vier uitklophoue staan.

Die stewig geboude Shinima het sy opponent in die eerste ronde met 'n lyfhou platgeslaan. Kaangundue is in die tweede ronde weer krytvloer toe en hoewel hy voor die telling opgestaan en probeer verder veg het, het Shinima hom gou daarna weer oorweldig en skeidsregter Lazarus Nainda het die geveg beëindig.

Die promotor Tobias sê die “Back to the Roots” boksaand se hoofgeveg het sy doel gedien om nasionale titelgevegte in die kollig te plaas. “Dit is 'n belangrike stap in die ontwikkeling van ons vegters, wat voorbereid moet wees vir die hoër vlakke van Afrika- of wêreldkompetisie.”



SIMON JUNIOR BLY WEN

In die hoofvoorgeveg het Harry Simon Junior met oortuiging die taai, maar beperkte aanslag van Dominicus Weyulu afgeweer. Die lenige jongman het reeds in die eerste ronde die bonkige Weyulu se knieë laat knak en het in die latere rondes sy steekhou doeltreffend gebruik.

In die vierde en laaste ronde van hul nie-titelgeveg in die superliggewigklas het Simon sy opponent 'n tweede keer planke toe gestuur en hoewel Weyulu opgestaan het, het skeidsregter Patrick Esterhuizen die geveg stopgesit toe laasgenoemde teen die toue weer in die moeilikheid beland het.

Dit was Simon Junior, 'n superliggewig, se sesde uitklophou in sy beroepsloopbaan van agt onoorwonne gevegte.

• Een van die indrukwekkende uitklopseges van die aand was die manier hoe Abed Shikongo met Ndangi Shapwa afgereken het.

Shikongo, wat sy debuut gemaak het, het tevore as amateur op omtrent tien kilogram swaarder geboks as toe hy Saterdagaand in die junior middelgewigklas (69.85 kg) deur die toue geklim het.

Shikongo het sy opponent in die eerste én tweede rondes platgeslaan, met “Shooter” Shapwa wat in die laaste aksie van die geveg sy rug gekeer het om uit die gevaarsone te ontsnap en in die proses byna bo-oor die boonste tou uit die kryt geval het.

Hoewel die voorprogram meestal van die jonger en minder bekende vegters van verskeie klubs ingesluit het, was daar tog 'n paar wat hand opgesteek het dat hulle in die toekoms dopgehou kan word.

Die vaardige superkapokgewig Willem Shili was op koers om sy debuut te wen toe hy vir Sam (Peri-Peri) Mathews in die eerste ronde platgeslaan het. In die volgende ronde het skeidsregter Patrick Esterhuizen egter 'n punt van Shili laat aftrek omdat hy 'n hou teen die agterkop geplant het. Die geveg het uiteindelik gelykop geëindig.



Die ander uitslae

Superkapokgewig: Fillipus Ngitumbwa klop Frans Naanda met 'n tegniese uitklophou in tweede ronde.

Liggewig: Usko Rehabeam en Gerson Veta se geveg is as 'n gelykopuitslag verklaar.

Superkapokgewig: Mateus Heita klop Theophilus Nashilongo eenparig met punte.

Superkapokgewig: Philip Shaanika klop Samuel Kambuta met 'n tegniese uitklophou in die vierde ronde.

Kapokgewig: Andrew Mwenyo klop Immanuel Shapaka eenparig met punte.

Liggewig: Paulus Amavila klop Sakaria Sheehama eenparig met punte.

• Nog foto's binne in Sport Wrap.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!