Shoprite: Belegger wil Wiese 'se mag breek'
Die groep het sy beleggers ingelig oor 'n gewone resolusie onder die item “ander sake” op die agenda van sy jaarvergadering.
Nellie Brand-Jonker
“Ons wil iemand kry wat onafhanklik is van Christo Wiese.”
Dis die mening van Shane Watkins, beleggingshoof van die batebestuurder All Weather Capital, wat 'n direkteur vir die Shoprite-groep benoem het.
Watkins het Donderdag gesê Wiese is al 30 jaar lank die voorsitter en het “oordrewe invloed” oor die Shoprite-groep.
Netwerk24 het vroeër vandeesweek berig All Weather Capital het Jan le Roux (69), 'n oudhoof van Pepkor, benoem om as direkteur op die groep se jaarvergadering verkies te word.
Die Shoprite-groep het sy beleggers Maandag ingelig oor 'n gewone resolusie onder die item “ander sake” op die agenda van sy jaarvergadering.
Die benoeming is gedoen kragtens die akte van oprigting van die Shoprite-groep, maar dit is die eerste keer dat 'n direkteur so benoem word.
Volgens Business Day kan die JSE dalk 'n stokkie hiervoor steek omdat aandeelhouers kragtens die noteringsvereistes minstens 15 werkdae kennis moet kry van 'n gewone resolusie.
Watkins sê daar heers onsekerheid oor of die besluit voorgelê kan word, want die akte van oprigting bepaal dat 'n benoeming nie later as vier werksdae voor 'n aandeelhouersvergadering ontvang mag word nie.
Shoprite het die benoeming op 23 Oktober ontvang.
Watkins sê Wiese het hom verwittig die benoeming is 'n oortreding van die JSE se noteringsvereistes en word ondersoek.
Pieter du Preez, Shoprite se maatskappysekretaris, sê by navraag die “maatskappy het die JSE genader om amptelik leiding te kry oor die kwessie”.
Wiese sê Shoprite is in verbinding met die JSE en hulle sal waarskynlik teen Maandag weet of die besluit voorgelê mag word.
Wiese het oor Watkins se redes vir die benoeming bloot gesê “dit is goed, hulle moet mos 'n rede hê”.
Watkins meen Le Roux se belange is belyn met ander minderheidsaandeelhouers s'n.
Le Roux het aan Netwerk24 gesê hy is naas Wiese die tweede grootste individuele aandeelhouer in die Shoprite-groep.
Watkins sê hulle is langtermynbeleggers in Shoprite en jaag net dit wat die beste vir die maatskappy is, na.
Belyn met minderhede
Watkins meen dit is kommerwekkend dat baie van die onlangse sakeskandale in die land verband hou met situasies waar daar een oorheersende en magtige aandeelhouer is. Voorbeelde is Steinhoff, EOH, Resilient en Aspen, sê hy.
Hy het toegegee dat 'n groot aantal aandeelhouers vir Le Roux sal moet stem omdat Wiese rofweg 40% van die stemaandele hou.
Hy sê Le Roux is ook benoem vanweë sy kleinhandelondervinding.
Le Roux het 20 jaar gelede as besturende direkteur van Pepkor bedank en is sedertdien beter bekend in landboukringe in die Wes-Kaap as die eienaar van die baie suksesvolle sagtevrugteboerdery die Le Roux-groep.
Le Roux was van 1975 tot 1987 die finansiële hoof van Pepkor en van 1997 tot 1999 die uitvoerende hoof.
Hy is weg by Pepkor toe die groep herstruktureer is in drie bedryfsmaatskappye en sy pos weggeval het.
Le Roux sê hy is destyds deur Renier van Rooyen, stigter van die Pepkor-groep, aangestel. Volgens hom was hy die finansiële hoof van Pepkor nadat Whitey Basson in die pos gedien het.
Basson was jare lank die uitvoerende hoof van die Shoprite-groep.
'Beproefde proses'
Wiese het aan Business Day gesê geen direkteur is al voorheen op die manier tot die direksie verkies nie.
“Ons het 'n beproefde proses wat behels 'n naam word verskaf en die benoemingskomitee oorweeg dit en 'n onderhoud word dan met die individu gevoer. As daar dan ooreenstemming is, kan die aandeelhouers oor die aanstelling stem.”
Watkins meen dit beteken as Wiese nie dink iemand is geskik nie, sal hy nie die benoemingsproses slaag nie.
“Die interne proses wat hulle in die verlede gevolg het, het die binnekring toegelaat om te besluit wie word 'n direkteur. Vars bloed word op die direksie benodig wat nie spesifiek belyn is met die huidige voorsitter nie.”
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie