Shoprite: Onderhandeling weer tot niet
Stakers op Oshakati moes rubberkoeëls ontwyk nadat nuus van die mislukte onderhandelinge rugbaar geword het.
Augetto Graig en Tuyeimo Haidula – Die stryd vir beter vergoeding en werksomstandighede vir die reusekettingwinkelgroep Shoprite se duisende werkers in Namibië duur voort, nadat onderhandelinge Vrydag misluk het.
Die Namibiese Unie vir Voedsel- en Verwante Werkers (Nafau) verteenwoordig stakende werkers sedert 23 Desember en het onlangs ’n hofbevel verkry dat Shoprite nie seisoenswerkers mag gebruik om stakers te vervang nie. Shoprite het Woensdag teen dié besluit geappelleer en sy eie dringende aansoek ingedien om strenger wetshandhawing teen die stakers te laat toepas.
Nafau se prokureur, me. Uno Katjipuka- Sibolile, het gister hul teenstand amptelik ingedien. Sy sê die onderhandeling het Donderdag hervat, maar het Vrydagnamiddag misluk na Shoprite hul aanvanklike aanbod vir ’n verhoging van 5% tot 10% hervat het. Die werknemers eis ’n salarisverhoging van N$600, ’n behuisingstoelaag, ’n vervoertoelaag en permanente indiensneming vir alle werkers wat langer as ’n jaar “tydelik” in die winkels werk.
“Geen ooreenkoms is bereik nie,” sê Katjipuka-Sibolile. Geen verdere vergadering is ook belê nie – “nie tensy iets intussen gebeur nie. Die staking gaan voort, uit die vakbond se oogpunt, maar die werkers is moeg.”
OPROER
Intussen moes die Namibiese polisie Vrydag by die Shoprite-tak in Oshakati die spesiale reserwemag inspan “om ’n oproerige en ongehoorsame skare uitmekaar te jaag en orde te herstel,” sê Nampol se woordvoerder, adj.komm. Kauna Shikwambi.
“Dit word beweer dat lede van die AR (Regstellende Herposisioneringsbeweging) stakers en ondersteuners aangemoedig het om die winkel te bestorm. Die oproerige gedrag van die groep het vererger en die polisie is met geen ander opsie gelaat as om geweld en rubberkoeëls te gebruik om die groep op te breek nie,” sê sy.
Die voorval was omstreeks 18:00, nadat stakers na bewering van hul gewone plek beweeg het en kliënte verhoed het om die winkel binne te gaan.
Shikwambi het Saterdagaand in ’n onderhoud met die nasionale uitsaaier gesê die situasie het handuit geruk toe sommige stakers van Ondangwa en Ongwediva deur die AR na Oshakati vervoer is.
“Na bewering het die stakende werknemers klippe begin gooi, wat die owerhede gedwing het om rubberkoeëls te gebruik om die orde te herstel,” het sy op televisie gesê.
Nampa haal Shikwambi aan dat een lid van die spesiale reserwemag met ’n klip teen die regterbeen getref en beseer is. “Net so is een van die stakers, mnr. Gabriel Haihambo (50) van die Ongwediva Shoprite, na bewering aan sy kop en arm beseer. Hy is in ’n stabiele toestand in die Oshakati-hospitaal," het Shikwambi aan die nuusagentskap gesê.
Die AR het amptelik laas week sy steun aan die staking verklaar. Die AR-aktivis mnr. George Kambala sê dit was die polisie se optrede wat die skare op Oshakati woedend gemaak het.
Die AR se woordvoerder, mnr. Simon Amunime, dring aan die geweld het begin eers ná die aankondiging van die mislukking van die onderhandeling, en nie omdat klippe gegooi was nie. Laas week het die National Unity Democratic Organisation (Nudo) ook sy gewig agter die staking gegooi.
Nudo se sekretaris-generaal en parlementslid mnr. Joseph Kauandenge het Donderdag gesê: “Ons versoek alle Namibiërs om solidariteit met die stakende werkers te toon en om nie van Shoprite te koop nie.”
Die ministerie van arbeid, nywerheidsbetrekkinge en werkskepping het Vrydag in ’n vrystelling alle betrokke partye versoek om nie Namibië se wette te oortree nie.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie