Shoprite: Ons is in oorlog met roof, BTW, listeriose
Nellie Brand-Jonker - Gewapende rooftogte en inbrake het met 34% tot 489 by die Shoprite-groep toegeneem in die boekjaar tot einde Junie.
In dié tyd moes die groep ook die BTW-verhoging, die listeriose-uitbreking, die instelling van suikerbelasting en twee stakings die hoof bied.
Pieter Engelbrecht, uitvoerende hoof, het Dinsdag op 'n aanbieding aan beleggers gesê dit “was seker die moeilikste boekjaar wat ek kan onthou”.
Dit was sy eerste volle boekjaar as uitvoerende hoof nadat hy verlede jaar by Whitey Basson oorgeneem het. Basson was jare lank aan die stuur.
Die groep se wins het vir die eerste keer in amper twee dekades gedaal. Sy dividend is ook kleiner as verlede jaar.
“Die impak van die toename in rooftogte en inbrake is nie die gebeurtenis self nie, maar die feit dat die winkels nog drie weke ná die voorval nie klante het nie omdat mense onveilig voel.”
Die groep se omset het met 3,1% tot R145,3 miljard gestyg terwyl baie van die uitgawes waaroor hy nie beheer het nie, vinniger gestyg het. Dit sluit in skerp hoër sekuriteits- en huurkoste.
Sy wins het met 4,1% tot R5,2 miljard gedaal.
Onder die opskrif “Ons was in 'n oorlog” lys Engelbrecht talle faktore wat 'n impak op handel gehad het. Dit is onder meer stakings oor die Kers- en Paastyd en betogings oor dienslewering wat sekere winkels ontwrig het.
Anton de Bruyn, nuwe finansiële hoof van die Shoprite-groep, sê drie groot items het 'n finansiële impak op die resultate gehad, waaronder hiperinflasie in Angola wat vir die eerste keer in berekening gebring is ingevolge internasionale rekenkundige verslagdoeningstandaarde (IFRS). IFRS moet gebruik word as 'n land se inflasie oor drie jaar meer as 100% is. Dit het 'n impak op die omset in Angola gehad. Die land dra sowat 50% van verkope buite Suid-Afrika by.
Nog 'n impak was dat die reuse-Cilmor-verspreidingsentrum in Brackenfell in gebruik geneem is terwyl ander verspreidingsentrums in die Wes-Kaap nog in bedryf was. Dit het tot die duplisering van die koste van personeel, voorraad, huur en vervoer gelei.
Engelbrecht sê dit is maklik om in die huidige klimaat moedeloos te raak, maar hulle is beslis nie. Die belangrike aanwysers van die groep bly sterk. “Ons bly winsgewend en lok steeds meer klante en wen markaandeel.”
Hy sê die Suid-Afrikaanse winkels het baie goed gevaar in 'n omgewing met feitlik geen inflasie nie. Hulle het in die laaste drie maande van die boekjaar deflasie ervaar en gevolglik het die groep die laagste prysinflasie in sewe jaar vir die hele boekjaar gehad – 0,3% vergeleke met 5,9% in die vorige boekjaar. (Sien die meegaande grafiek wat die deflasie op talle gewilde Shoprite-produkte toon).
Investec Bank se ontleders sê in kommentaar oor die resultate dit toon die harde werklikheid van die omgewing waarin handel gedryf word. “As die A-span so sukkel, is daar baie ander waaroor ons bekommerd is.”
Woolworths se resultate, wat later vandeesweek uitgereik word, sal gefynkam word vir die impak daarop van Checkers se fokus op hoërinkomsteklante.
Volgens Engelbrecht het hulle markaandeel gewen danksy dié strategie. Checkers het met lae interne inflasie van 1,5% sy omset met 'n baie goeie 8,2% verhoog.
In die afgelope jaar is 124 nuwe winkels geopen. Werk is aan nog 3 676 mense verskaf. Aan die einde van die boekjaar het die groep 2 843 winkels gehad met 'n algehele personeeltal van 147 478. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie