Shoprite se skuld byna 3 keer meer as 'n jaar gelede
Nellie Brand-Jonker - Die Shoprite-groep se lenings het in die afgelope boekjaar tot einde Junie van R4,7 miljard tot R11,7 miljard gestyg.
Dit het sy finansieringskoste skerp verhoog en het bygedra tot die daling van 18% in sy wins vir die boekjaar.
Die groep het ook aangekondig hy gaan van sy strategiese bates soos verspreidingsentrums verkoop.
Dit kom nadat die maatskappy einde van die eerste helfte aangekondig het hy gaan van sy niekernbates of -eiendomme begin verkoop.
Pieter Engelbrecht, uitvoerende hoof, het in 'n onderhoud met Netwerk24 gesê die bates word nie verkoop om die skuld te delg nie.
“Ons verkoop dit om kontant te skep om in ander projekte te belê sodat ons nie aanhou finansiering daarvoor kry nie.” Hy het gesê Shoprite het 'n baie sterk balansstaat.
Volgens hom het die skuld toegeneem omdat die groep oor die afgelope vier tot vyf jaar groot projekte gehad het waarop kapitaal bestee is. Dit het ingesluit sy nuwe Cilmor-verspreidingsentrum in Kaapstad en die splinternuwe IT-stelsel wat vroeër in die boekjaar in werking gestel is en wat die groep glo nog baie voordele gaan bring.
“Ons het beleggers by die laaste twee aanbiedings baie spesifiek daarvan bewus gemaak dat ons dringend besig is om ons kapitaalbesteding te verminder.”
“Ons moet meer kontant genereer uit die bedrywighede uit, daarom moet ons kyk na ons kapitaalbesteding.”
Volgens hom is dit ook hoekom die groep besluit het om nie 'n dividend te betaal uit die nie-kontantvloei-inkomste nie.
Dit is 'n verwysing na wat hy noem die “virtuele inskrywing” wat die hiperinflasie in Angola op sy inkomste veroorsaak.
Die dividendbeleid het nie verander nie. As die groep op hierdie gedeelte van die inkomste die dividendbeleid toegepas het, sou 'n ekstra R400 miljoen se kontant aan die dividend uitbetaal moes word. 'n Laer dividend per aandeel van 319c is verklaar (2018: 484c). Dis 34,2% minder as in 2018.
Die Shoprite-groep het moeite gedoen om met die aanbieding aan beleggers te toon met hoeveel verkope in die tweede helfte van sy boekjaar in sy Suid-Afrikaanse supermarkte herstel het. Die groep het ook moeite gedoen om aan beleggers te verduidelik hoe hy nog gaan vrugte pluk uit die beleggings in sy infrastruktuur die afgelope tyd.
Engelbrecht het in die onderhoud gesê hy meen die nuus oor die skuld moet nie die nuus oorskadu van hoe goed die Suid-Afrikaanse bedrywighede weer doen ná die “helse tyd” wat hulle in die eerste helfte van die boekjaar agter die rug het.
Dit het ingesluit die impak van 'n staking by sy grootste verspreidingsentrum in Gauteng wat tot onvoldoende voorraad op sy winkelrakke gelei het en die markaandeel wat hy derhalwe verloor het. Die afhandeling van die jare lange projek om 'n nuwe IT-stelsel in werking te stel, het ook in die eerste helfte sy verkope afgetrek.
In die eerste helfte het verkope in Suid-Afrika met 2,6% gestyg vergeleke met 7,4% in die tweede helfte. In geheel het verkope met 4,9% in die boekjaar in die supermarkte in Suid-Afrika tot R112,6 miljard gestyg.
Hy het gesê die markaandeel wat verloor is weens die impak van die staking word teruggewen.
Die eerste helfte se kopsere het sy handelswinsmarge afgetrek ten spyte van 'n herstel in die tweede helfte.
Die handelswins uit Suid-Afrika het met 9% tot R5,9 miljard gedaal.
Jean Pierre Verster, uitvoerende hoof van Protea Capital Management, meen die vertoning in ander Afrika-lande is benede verwagting.
Die verkope in sy supermarkte buite Suid-Afrika het amper met 8% tot R21,3 miljard gedaal. Die bedrywighede het van 'n handelswins van R650 miljoen omgeswaai na 'n verlies van R265 miljoen.
Verster sê die groep se resultate is teleurstellend. Hy sê die hoër skuld en gepaardgaande hoër rente-uitgawe het 'n impak op sy kontantvloei.
Die groep se kontant geskep uit bedrywighede het van R12 miljard einde van die vorige boekjaar tot R4,8 miljard gedaal. Die grootste impak is egter die verandering in bedryfskapitaal omdat baie meer voorraad doelbewus gehou is weens die probleme wat in 2018 met 'n staking in Gauteng by 'n verspreidingsentrum ervaar is om seker te maak die voorraad op winkelrakke is voldoende.
Hy meen die groep se balansstaat is “broos” ná die miljarde wat die afgelope jare in Afrika en Suid-Afrika bestee is.
Shoprite se aandeelprys het 9,25% laer op R126,86 gesluit – die laagste vlak sedert Januarie 2016. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie