Shoprite se wins daal, dividend al kleiner
Shoprite se wins daal, dividend al kleiner

Shoprite se wins daal, dividend al kleiner

Die groep se bedryfswins het met 2,7% gedaal en dit is toegeskryf aan die impak van laer inflasie terwyl insetkoste skerper gestyg het.
Nellie Brand-Jonker



Shoprite se wins het in die boekjaar tot einde Junie met 4% tot R5,2 miljard gedaal. Dit is die wins ingesluit die impak van hiper­inflasie, wat vir die eerste keer ­ingereken word.

Pieter Engelbrecht, uitvoerende hoof, het die handelstoestande as 'n “beproewing” beskryf.

Hy het na die swak ekonomiese groei en hoë werkloosheid in Suid-Afrika verwys. “Dié faktore, tesame met 'n ongekende BTW-verhoging, rekord-brandstofpryse en suikerbelasting, om net 'n paar op te noem, het 'n ­moeilike omgewing vir die groep geskep en ons verbruikers onder ­buitensporige ­finansiële druk geplaas.”

Dit is sy eerste volle boekjaar as uitvoerende hoof. Hy het begin 2017 by Whitey Basson oorgeneem, wat vir dekades aan die stuur van die winkelgroep was. Shoprite het onder meer Shoprite, Checkers en OK in sy stal.

Die groep se bedryfswins het met 2,7% gedaal en dit is toegeskryf aan die impak van laer inflasie terwyl inset­koste skerper gestyg het. Die groep se interne inflasie het wesenlik verlaag van die 7,3% wat dit verlede jaar was tot 0,5%.

Sy handelswins uit bedrywighede uit die res van Afrika is ook skerp laer ná 'n teleurstellende jaar wat hoofsaaklik toegeskryf is aan swak verkope in Angola. In dié lande het interne ­inflasie van 14% verlede jaar tot 1% in die huidige boekjaar geval.

Die groep het ook 'n kleiner dividend van 279c (2017: 324c) verklaar. Dit het sy totale dividend op 484c (2017: 504c) te staan gebring.

Ten spyte van die daling in wins, word onder sy vooruitsigte gesê die belangrike aanwysers van die groep bly sterk. “Ons bly sterk en winsgewend en lok steeds meer klante en wen markaandeel.”

Volgens Engelbrecht het hulle 'n doelbewuste besluit geneem om ten spyte van die winde van voor aan te hou belê in personeel en nuwe winkels.



VERKOPE BLY ONDER DRUK

“Verkope in die winkels buite Suid-Afrika gaan onder druk bly omdat ons voortgesette swak wisselkoerse verwag en 'n tekort aan buitelandse valuta in dié lande. Die bedrywig­hede in die res van Afrika bly 'n wesenlike bydraer tot die groep. . .”

In die afgelope boekjaar het die groep se totale omset met 3% tot R145,3 miljard verhoog ten spyte van die omset buite Suid-Afrika wat gedaal het.

Volgens hom het die winkelgroep in Suid-Afrika markaandeel gewen. Hy skryf dit toe aan Checkers wat vordering maak met sy verskerpte fokus op hoër-inkomsteverbruikers.

Die Suid-Afrikaanse winkels se omset het met 5,7% gegroei ten spyte van deflasie wat in verkoopspryse ervaar is vir ses van die twaalf maande van die jaar.

Die interne inflasie op verkoopspryse het skerp van 'n gemiddelde 5,9% in die vorige boekjaar tot 0,3% in die afgelope boekjaar gedaal.

Einde Junie was 13 241 produkte se pryse laer as 'n jaar gelede.

Die omset van winkels buite Suid-Afrika het met 7% gedaal na die uitsonderlike groei in die vorige jaar. Volgens hom weerspieël die syfers die stadige herstel in ekonomiese groei asook die wisselkoersskommelinge in die lande waarin die groep bedrywig is.

In die afgelope jaar is 124 nuwe winkels geopen. Werk is aan nog 3 676 mense verskaf.

Einde van die jaar het die groep 2 843 winkels gehad en sy totale personeel het 147 478 beloop. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!