Shoprite se wins val dalk met meer as 20%
Shoprite se wins val dalk met meer as 20%

Shoprite se wins val dalk met meer as 20%

Hanlie Stadler – Shoprite het Dinsdag tot ná die sluiting van die JSE gewag om ’n droewige handelsverklaring uit te reik.

Die verklaring toon dat die kleinhandelreus se wins met tot 29% kan val vir die ses maande tot Desember, vergeleke met dieselfde halfjaar van 2017.

Die groep se basiese wesensverdienste per aandeel gaan met tussen 16% en 26% daal en sy basiese verdienste per aandeel met tussen 19% en 29%.

Shoprite sê die groep se inkomste het traag gegroei weens lae stygings in kospryse, probleme met die beskikbaarheid van voorraad en die swak geldeenhede in baie van die lande waarin hy sake doen. Daar was verskeie eenmalige uitgawes en die handelsomgewing is “uitdagend”.

Die groep het reeds ’n week gelede aangekondig sy syfers gaan nie waffers lyk nie, maar meer besonderhede is nou verskaf. Maatskappye moet ingevolge JSE-regulasies die mark waarsku as hul syfers met 20% van die vergelykbare tydperk gaan verskil.

Buite Suid-Afrika was dit veral Angola wat Shoprite geknou het. Dié land se geldeenheid teenoor die dollar het met 85% geval. Dit het meegebring dat inwoners ingevoerde goedere nie sou kon bekostig nie en Shoprite moes heelwat prysstygings self absorbeer: “Dit kon eenvoudig nie in die huidige ekonomiese resessie aan verbruikers deurgegee word nie.”

Shoprite wys daarop dat sy huur buite Suid-Afrika in dollar vasgestel word, wat dit baie moeilik gemaak het om koste te beperk.

In Suid-Afrika het kospryse gedaal. Teen Desember was daar steeds 10 719 soorte produkte op Shoprite se rakke wat goedkoper was as ’n jaar gelede.

Die voorraadprobleme waarna Shoprite verwys, word toegeskryf aan stakings, sowel as die ontplooiing van ’n nuwe IT-stelsel. Dis nou in werking en Shoprite verwag dinge sal nou klopdisselboom gaan.

Shoprite het ook gesukkel om die styging in uitgawes aan huur, krag, sekuriteit, vervoer en afskrywings te beperk in pas met die laer as verwagte inkomstegroei.

Shoprite sê hy bly positief oor “verbruikers se steun vir sy handelsmerke”.

Die groep sê ook Januarie se verkope was reeds beter en hy verwag dat die tweede helfte van sy boekjaar aansienlik beter sal wees.

Die volledige stel resultate word na verwagting op 26 Februarie uitgereik.

Shoprite het in Augustus vir die eerste keer in 17 jaar ’n winsdaling in sy resultate vir die boekjaar tot einde Junie bekend gemaak. Dit het toe met 4% tot R5,2 miljard gedaal.

Shoprite se aandeelprys het Dinsdag 0,85% laer op R178,50 gesluit, maar die impak van die handelsverklaring sal eers Woensdag blyk. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!