Shoprite steeds in die hof
Shoprite steeds in die hof

Shoprite steeds in die hof

Staking eindig ná meer as ’n maand, stakers kry terugbetaling
Augetto Graig
Augetto Graig en Elvira Hattingh

Die staking by Shoprite is ná meer as ’n maand verby, maar die hofgeveg wat daaruit gespruit het, woed opnuut vanoggend in die Namibiese arbeidshof.

Regter Collins Parker sal moet besluit oor Shoprite se dringende aansoek om die Namibiese Unie vir Voedsel- en Verwante Werkers (Nafau) te dwing om by die voorwaardes van die staking te hou, asook Nafau se teenaansoek dat Shoprite Namibia en sy topdireksie in minagting van die hof bevind moet word, gegrond op die vakbond se beskuldiging dat die kleinhandelkettingwinkelgroep regter Shafimana Ueitele se bevel van 8 Januarie 2021 verontagsaam het.

Ueitele het in daardie stadium besluit Shoprite mag nie seisoenswerkers gebruik om die werk van stakende werknemers te doen nie; ook nie bestuurders of enige ander Shoprite-werknemer nie. Shoprite het sedertdien op 13 Januarie tot die Hooggeregshof van Namibië teen hierdie besluit geappelleer.

Volgens hul prokureurs beteken die appèl dat Ueitele se besluit nie meer van krag is nie, terwyl Nafau se prokureurs sê Shoprite het nog voor die appèl nie die besluit nagekom nie.

Spesifiek word Shoprite Namibia se hoofbestuurder, mnr. Paul Malan, en mededirekteure mnre. Willem Schalk Pienaar en Christoffel Johannes Labuschagne, ook in die teenaansoek genoem. Nafau se prokureurs vra dat hulle, as direksie van die kettingwinkels in Namibië, persoonlik skuldig bevind, beboet en verder gestraf word, soos die hof goeddink.

Shoprite Namibia se voormalige direkteur, mnr. Cornelius Komomungongo, se naam is sedertdien van die lys respondente verwyder.

Die meerderheid van Shoprite Namibia se 4 300 werknemers, in Shoprite-, Usave- en Checkers-winkels landswyd, is nietemin verlig met die skikking wat uit hul moeilike staking gespruit het. Voltydse werknemers by dié winkels sal nou ’n salarisverhoging van N$250 per maand ontvang, terwyl skofwerkers se vergoeding met N$1,28 per uur verhoog word.

Hierdie is enkele van die voorwaardes waarop die partye ooreengekom het voordat die Shoprite-staking oor die naweek laat vaar is. Nafau se geskil oor vergoeding en werksomstandighede het sedert 23 Desember tot ’n nasionale staking gelei.

Daar is ook ooreengekom dat geen voltydse werknemer voortaan ’n salaris van minder as N$2 500 per maand sal ontvang nie, terwyl geen betaling vir skofwerkers minder as N$12,82 per uur mag wees nie. Dié ooreenkoms geld vanaf 1 Julie 2020 tot 30 Junie 2021.

Daarna, vir die boekjaar 1 Julie 2021 tot 30 Junie 2022, sal voltydse werkers weer ’n verhoging van N$250 per maand ontvang, terwyl skoftoelae met ’n verdere N$1,28 per uur verhoog sal word.

Werkers sal in Februarie ’n terugbetaling ontvang, effektief vanaf 1 Julie 2020.

Volgens Nafau se prokureur, me. Uno Katjipuka-Sibolile, is dit belangrik dat mense oplet wat ’n georganiseerde werksmag kan regkry. Al het die stakers nie alles gekry wat hulle wou hê nie, insluitend ’n vervoertoelaag wat vir hulle baie belangrik was, is die ooreenkoms ’n tree in die regte rigting. “Alle gelukwensings gaan aan die werkers,” sê sy.

Die Shoprite-groep se bondige reaksie laat gister was dat hy verheug is om te bevestig dat ’n tweejaarooreenkoms met Nafau bereik is, “wat ’n deel van die werknemers by Shoprite, Checkers en Usave se winkels in Namibië verteenwoordig.

“Die groep sien uit daarna om handel te dryf en sy kliënte in winkels landswyd te bedien. Ons bly daartoe verbind om werknemers met regverdigheid en respek te behandel; om ’n redelike en ordentlike werkomgewing te bied en werkgeleenthede in die land te verskaf.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!