Sien die ligstrale rondom jou raak
Sien die ligstrale rondom jou raak

Sien die ligstrale rondom jou raak

Dani Booysen
Ernst Hashagen skryf:

Die mense van ons land is die ligstraal onder die moelike omstandighede wat ons tans beleef.

Daagliks lees ons in ons dagblaaie negatiewe kortboodskappe (SMS'e).

Ongelukkig is die skrywers meestal reg. As 'n mens hierdie klagtes lees, word dit duidelik dat van hulle wel moet en kan opgelos word. Die verantwoordelikes moet dit net 'n slag lees en daarop reageer.

'n Mens word self negatief en verskuif die positiewe ervaringe wat ons feitlik daagliks beleef op die agtergrond.

Die nasie (met enkele uitsonderings – ons weet almal wie hulle is) kry swaar. Die ekonomiese toestande is baie moeilik. Baie van ons medeburgers lewe onder die haglikste omstandighede, terwyl ander wat reeds baie besit en goed betaalde poste beklee die land roekeloos besteel.

Te midde van alle slegte nuus op die ekonomiese front, asook korrupsie, misdade teen kinders soos afskuwelike mishandeling en selfs moord en aanvalle op bejaardes en toeriste wat ongelukkig toeneem, breek daar tog ligstrale deur.

Ek moet met die minister van armoede-uitwissing saamstem. Ons lewe in 'n wonderlike land met wonderlike mense en ons moet ook die positiewe waardeer waarmee ons daagliks te doen kry.

Ek wil graag 'n paar voorbeelde noem.



WOORDE WEK, MAAR VOORBEELDE TREK

Annemarie en Johan van Outjo het seker die ergste beleef wat 'n mens as ouer kan ondervind. Ten spyte daarvan het hulle soos opregte Christene opgetree. Hulle is 'n voorbeeld vir die hele land en ons is trots dat ons die voorreg het om sulke mense in ons midde te hê. Hulle verdien die respek van ons almal. Ons hoop seker almal dat hul dogtertjie vinnig sal herstel.

Ook die gemeenskap van Swakopmund wat hande gevat het om hulle misnoë te uiter met die afgruwelike dade wat daar plaasgevind het. Hulle dra by tot 'n Namibië soos ons hom ken.

Selfs in die geval van dienslewering en selfontwikkeling is daar baie mense wat hul bes doen om of hulle werk bevredigend af te handel en ander wat op 'n eerlike manier probeer om kop bo water te hou.

Die personeel op die vlugte van Air Namibia is altyd vriendelik en behulpsaam. So ook die personeel van Psemas in die NMC-gebou. Dit is 'n plesier om die poskantoor in Olympia te besoek - almal is altyd hulpvaardig en vriendelik.

Sommige mense het ten spyte van moeilike omstandighede daarin geslaag om deur eerlike werk self­versorgend te word en ook hulle ­families te onderhou. Ook hier kan ons 'n paar voorbeelde noem. Herman Katjinaani wat van 'n veiligheidswag tot 'n opsigter van geboue by Broll Namibia gevorder het, Angelo Morkel wat van 'n rak­pakker tot 'n streeksbestuurder by PnP bevorder is en me. Ndeshi Desteria Nangame wat al 20 jaar lank voedsel in Eros verkoop.



DEEL POSITIEWE STORIES

Daar is nog baie meer mense wat hul moeilke omstandighede nie as verskoning gebruik nie, maar self ingespring het en hulle doelwitte bereik het. Wat van al die enkelouers en grootouers wat in blikhuisies kinders versorg?

Gelukkig is daar private instansies en onder andere ook mense wat self nie baie het nie, asook buitelandse ondernemings wat hierdie mense help.

Ook die polisie het in die afgelope tyd 'n paar misdade verhoed en ook 'n paar skurke aangekeer. As hulle eerder gebruik kan word om byvoorbeeld van die 100 000 belastingontduikers aan te keer in plaas van om mense te soek wat nie TV-lisensies betaal nie, sal hulle ook daar suksesvol wees.

Baie voorheen benadeeldes het na onafhanklikheid binne 'n kort tyd miljoenêrs geword. Sommiges op 'n eerlike manier, naamlik deur harde werk. Die beste voorbeeld is mnr. Frans Indongo, wat reeds voor 1990 vir almal bewys het harde werk, uitstaande besigheidsvernuf en mens­likheid is die fondament van sukses.

Die media moet ons voorsien van suksesverhale. Veral wil ons graag weet watter sukses is deur hervestigde boere behaal.

Word al die mense wat onder moeilike omstandighede daarin slaag om 'n eerlike bestaan te voer daarvoor beloon of ten minste 'n slag in die media genoem?

Ons is dankbaar om in 'n land te leef waar vrede heers. Sal dit egter so bly as daar nie drasties opgetree word nie?

Ons president het herhaaldelik beklemtoon dat die vrede in ons land deur armoede bedreig word. Volgens hom moet iets gedoen word. Of die voorgestelde aksies wel suksesvol sal wees, is 'n ope vraag.

Die mense wat deur harde werk sukses behaal het, moet nie nou met ondeurdagte en onredelike planne gestraf word nie. Daar moet seker gemaak word die mense wat dit verdien, baat by armoedebekamping.

As positiewe mense sien ons die glas gewoonlik as halfvol, maar ons moet onsself ook afvra waar is die ander helfte van die glas se inhoud.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer