• Tuisblad
  • Sake
  • Sierra Leone se klippies sit vonkel in Trustco se oog
Sierra Leone se klippies sit vonkel in Trustco se oog
Sierra Leone se klippies sit vonkel in Trustco se oog

Sierra Leone se klippies sit vonkel in Trustco se oog

Jo-Mare Duddy Booysen
Jo-Maré Duddy

Huso Investments, ’n maatskappy in Trustco Group Holdings se visier, is in gevorderde onderhandelinge met ’n teikenmaatskappy in Sierre Leone om die diamantbedryf in dié Afrikaland te betree.
’n Onafhanklike omsigtigheidsondersoek in dié verband word gedoen en die bevindinge daarvan word teen die tweede week van Junie verwag, het Trustco Donderdag in ’n aankondiging op die Namibiese aandelebeurs (NSX) gesê. Trustco is op die algehele indeks van die NSX genoteer.
Hoewel aandeelhouers reeds in Oktober 2015 oorweldigend ten gunste van Trustco se verkryging van Huso gestem het, is dié transaksie van meer as N$3,6 miljard nog nie voltrek nie. Daar is steeds uitstaande voorwaardes verbonde aan die verkryging waaraan voldoen moet word, het Trustco verlede week gesê.
Trustco het nietemin ’n omsigtigheidsaankondiging oor die onderhandelinge in Sierra Leone gedoen. Dié aankondiging identifiseer nie die party waarmee Huso in Sierra Leone onderhandel nie, maar verwys bloot na ’n teikenmaatskappy. Die onderhandelinge wentel om ’n “potensiële vennootskap vir ’n geo-ekonomiese waardasie, ontwikkeling en lisensie vir diamanteksplorasie” wat die teikenmaatskappy in Junie 2015 bekom het.
Sou Huso en die teikenmaatskappy met die bevindinge van die omsigtigheidsondersoek tevrede wees, sal hulle hul bes doen om ’n eindooreenkoms te bereik, sê Trustco.
Diamante wat in die negentigerjare in Sierra Leone gebruik is om die burgeroorlog te finansier wat in 2002 geëindig het, het die wêreld se aandag op konflikdiamante gevestig en tot die term bloeddiamante aanleiding gegee. Die Kimberley Proses, wat diamanthandel sedertdien monitor, het ook hieruit voortgespruit. Soos Namibië, is Sierra Leone deel van die Kimberley Proses.
Huso is die moedermaatskappy van Northern Namibian Development Company (Pty) Ltd (NNDC) - ’n diamantmyn- en ekplorasiemaatskappy in Namibië – en Morse Investments (Pty) Ltd – ’n gelisensieerde diamantslyp- en poleringsfabriek in die land. Trustco Group Hold­ings se besturende direkteur, Ouinton van Rooyen, is die enigste aandeelhouer in Huso.
Luidens die laaste aankondiging rakende Huso wat op 5 Oktober 2015 deur die NSX gemaak is, was die enigste uitstaande kwessies betreffende die transaksie die verkryging van uitvoerprosesseringstatus (EPZ-status) deur Morse Investments en die verkryging van ’n mynlisensie deur NNDC.
Trustco het Donderdag op N$4,05 per aandeel op die NSX gesluit, 2c per aandeel hoër as die vorige dag. Die maatskappy se markkapitalisasie op die beurs is N$3,127 miljard.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!