• Tuisblad
  • Sake
  • Sigaretmaatskappy het plan vir sonde sonder belasting

Sigaretmaatskappy het plan vir sonde sonder belasting

Dewald van Rensburg - ’n Vervaardiger van nuwe “nie-vlambare” tabaktegnologieë glo hulle het ’n skuiwergat gevind om sondebelasting te vermy – en boonop hul gebruikers binnenshuis te laat “rook”.

Die tabakreus Philip Morris International (PMI), wat groot handelsname soos Marlboro en Chesterfield besit, stel nou sy rookvrye sigarette in Suid-Afrika bekend.

Dié “rokery” behels ’n toestel genaamd iQOS, wat klein tabakstokkies warm maak sonder dat daar enige vlamme en ontbranding is.

Anders as e-sigarette bevat die iQOS tradisionele tabak wat onderworpe is aan gewone tabakwetgewing, soos die verbod op advertensies.

Maar Neetesh Ramjee, direkteur van korporatiewe sake, sê in ’n onderhoud met Rapport daar is twee skuiwergate.

Die definisie van “rook” in die Wet op die Beheer van Tabakprodukte vereis “ontvlamming”.

Die definisie is so verwoord sodat tabakprodukte soos kougom en snuifprodukte nie as “rook” beskou word wat binnenshuis verbied moet word nie.

Ramjee glo dié definisie bring hul Heets en die iQOS binne die kategorie van produkte wat enige plek gebruik mag word.

“As iemand in ’n winkelsentrum loop en tabak snuif, is dit nie teen die wet nie. Op dieselfde manier kan jy die iQOS binnenshuis gebruik.”

Aksyns

Die “rook”-definisie hou egter ’n tweede, aansienlik groter voordeel vir PMI in. Dit is nie tans onderhewig aan aksynsbelasting soos produkte wat “gerook” word nie.

Die aksynsbelasting is tans R14,30 per pakkie sigarette. Dit is 52% van die rakprys van die gewildste sigarethandelsnaam in Suid-Afrika: Peter Stuyvesant Red.

“Daar was nog nooit ’n belasting op die nasale produkte nie. Heets word ook nie tans belas nie,” sê Ramjee.

Heets, in pakkies van 20 stokkies, verkoop teen sowat R35 per pakkie, wat die winsmarges van PMI aansienlik opstoot.

Indien die regering aksynsbelasting op nie-ontvlambare tabak begin hef, hoop PMI om die regering te oorreed dat dit minstens laer moet wees as vir sigarette op grond van die produk se beweerde gesondheidsvoordele in vergelyking met tradisionele produkte.

Die minister van gesondheid het reeds gesê die wet moet gewysig word om nie-tradisionele sigarette te reguleer.

“Wanneer ons onderhandel, sal ons sê hulle moet ons teen ’n laer tarief belas om mense aan te moedig om na dié produkte oor te skakel. As belasting help om aanvraag te beperk, kan dit ook help om ’n oorskakeling aan te moedig,” sê Ramjee.

Advertensies

PMI hoop om ook ’n manier te vind om te adverteer.

“Ons standpunt is dat as ’n mens met wetenskap kan bewys iets hou minder risiko in as die vlambare produk, moet mense ingelig word.”

PMI maak daarop aanspraak dat die verhitte tabakproduk 90% tot 95% minder skadelike elemente bevat as gewone tabakprodukte.

Maar Marcelo Nico, besturende direkteur van PMI in Suider-Afrika, gee geredelik toe dat navorsing wat deur tabakmaatskappye voorgehou word met heelwat skeptisisme begroet word.

“Dit is die refrein wat ons hoor: Dat daar nie genoeg bewyse is nie of dat daar nog nie genoeg tyd verloop het nie,” sê Nico. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-12-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 42° Rundu: 21° | 37° Eenhana: 20° | 37° Oshakati: 23° | 36° Ruacana: 18° | 37° Tsumeb: 22° | 37° Otjiwarongo: 18° | 34° Omaruru: 17° | 35° Windhoek: 17° | 32° Gobabis: 19° | 34° Henties Bay: 15° | 20° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 16° | 34° Mariental: 18° | 34° Keetmanshoop: 16° | 32° Aranos: 18° | 34° Lüderitz: 15° | 25° Ariamsvlei: 17° | 31° Oranjemund: 14° | 23° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 25° | 39° Lubumbashi: 16° | 33° Mbabane: 18° | 37° Maseru: 13° | 26° Antananarivo: 17° | 28° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 41° Windhoek: 17° | 32° Cape Town: 17° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 21° | 32° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 21° | 37° Harare: 19° | 34° #REF! #REF!