Sikloon kan goeie reën bring
Indien weersomstandighede ontwikkel soos kenners verwag, kan Namibië se reënseisoen dalk binnekort begin.
Elvira Hattingh – Namibië kan dalk binnekort goeie reën ontvang indien ’n tropiese sikloon naby Madagaskar vestig en vog oor die sentrale en westelike subkontinentale dele intrek.
Weervooruitsigte vir groter dele van Namibië behoort nou te verbeter ná ’n onderbreking van die sinoptiese patroon, meen die meteoroloog en voormalige hoof van die Namibiese weerkantoor se klimaatafdeling, mnr. John Olszewski.
In ’n voorspelling wat hy op Nuwejaarsdag uitgereik het, sê hy die voortdurende reënbuie wat oor die Cuvelai- en Delta-gebied voorkom, het stadig suidwaarts begin uitbrei in die vorm van geïsoleerde en verspreide storms van matige intensiteit.
“Die patroon sal vanaf middel vandeesweek versterk en dan sal sentrale dele soos die Khomasstreek ingesluit word. Teen die naweek sal die weer ook ooswaarts uitbrei.”
Hy sê die geslote draaikolk wat oos van Mauritius teenwoordig is, sal na verwagting in die eerste tropiese sikloon van die nuwe seisoen ontwikkel. Dan behoort dit weswaarts langs die Intertropiese Samestromingsone (ITCZ) tot naby Madagaskar af te beweeg.
Hy het verduidelik die intensiteit van die draaikolk lei tot die vorming van ’n ring rondom sy oog. Dit vorm ’n boonste luglaag van droë, dalende lug, oftewel ’n hoëdrukstelsel.
“Dié sone behoort die oostelike subkontinent te bedek, terwyl dit tot ’n diep invloei vanaf die Zambiese lugmassa vanaf die Noorde sal lei,” het hy voorspel.
“Die invloei sal na verwagting oor die sentrale en westelike subkontinentale dele strek, wat Namibië insluit. Dit sal vir enkele dae lank tot tropiese tipe reën lei tot net voor die sikloon weer verswak.
“Dit behoort die einde te beteken van die minder gunstige weerpatroon wat van ná Kersfees oor subkontinentale dele geheers het. Dit sal ruimte bied dat meer normale weerpatrone kan vestig, wat somerhitte, asook die invloei van vogtige lug behels.
“Dié patroon sal na verwagting help dat ’n nat Januarie-weerpatroon na vore tree en die toon vir die Februarie-Maart reën aangee, waartydens reën tot Namibiese kusgedeeltes kan bereik.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie