Sikloon tref Zim ook
Sikloon tref Zim ook

Sikloon tref Zim ook

Idai het nou al meer as 1,5 miljoen mense in die drie suider-Afrikaanse lande geraak, het die Verenigde Nasies (VN) en die Zimbabwiese regering gesê.
Zimbabwe het die jongste land geword waar die tropiese sikloon Idai sterftes en verwoesting veroorsaak het met minstens 31 mense wat in die oostelike dele van die land dood is terwyl dosyne nog vermis word.

Al Jazeera het gister die Zimbabwiese regering aangehaal wat oor die skade berig het nadat Idai sedert einde laasweek grootskaalse sterftes en verwoesting in Mosambiek en Malawi veroorsaak het.

Idai het nou al meer as 1,5 miljoen mense in die drie suider-Afrikaanse lande geraak, het die Verenigde Nasies (VN) en die Zimbabwiese regering gesê.

Wonings, skole, besighede, hospitale en polisiestasies is vernietig. Paaie het weggespoel en derduisende is gestrand gelaat deur die vloede.

Zimbabwe se ministerie van inligting het Saterdag gesê dat die sterfgevalle in die land hoofsaaklik in Chimanimani-Oos voorgekom het. Twee leerlinge was onder die oorledenes. Nog 40 mense is vermis.

Volgens die ministerie lei die Zimbabwiese weermag reddingspogings daar om leerlinge uit ’n beskadigde skool na veiligheid te lig.

’n Groep mense, wat uit hul huise gevlug het, is bo op ’n berg vasgekeer en wag om gered te word, maar sterk winde belemmer helikoptervlugte, het die ministerie gesê.

Die situasie lyk egter volgens Joshua Sacco, ’n parlementslid uit die Chimanimani-distrik, veel erger. Hy het gesê minstens 25 huise het weggespoel na ’n modderstorting by die Ngangu-woongebied.

“Daar was mense in die huise,” het hy aan AFP gesê. “Die inligting wat ons sover het, is dat oor ’n 100 mense vermis word.”

HUMANITêRE KRISIS

Jacob Mafume, woordvoerder vir Zimbabwe se hoofopposisieparty, die MDC, het in ’n WhatsApp-boodskap gewaarsku dat daar “’n ernstige humanitêre krisis” besig is om in die oostelike distrikte van Zimbabwe te ontvou.

Steff Gaulter, Al Jazeera se senior weervoorspeller, het gesê nog baie reën word vir die volgende dae voorspel en dat baie water na Mosambiek op pad is.

“Die ooste van Zimbabwe het 400 mm reën oor die laaste 24 uur aangemeld en daar is nog baie stormwater om van sentraal-Mosambiek en Zimbabwe te kom,” het Gaulter gesê.

“Sommige modelle voorspel soveel as 900 mm oor die volgende drie dae. Dit sal geweldige vloede te weeg bring en verdere modderstortings tot gevolg hê, en die water sal dan na die see toe moet afloop. Dit beteken verdere vloede soos wat die water in riviere voortstroom,” het Gaulter gesê.

Luis Fonseca, ’n joernalis van Lusa News Agency, het aan Al Jazeera gesê dat die sikloon sal aanhou om probleme te veroorsaak omdat riviere ver oor die walle stoot.

HULPVERLENING

Ondertussen het die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) spanne na Mosambiek en Malawi gestuur om te help met humanitêre hulpverlening, het die Daily Sun gister berig.

Honderde mense is beseer en dakloos gelaat en die dodetal staan al op minstens 106 in Malawi, Mosambiek en Zimbabwe. Swaar reën wat vroeër die week geval het voor die sikloon getref het, het ’n verdere 66 lewens in Mosambiek geëis.

Die SANW het gister in ’n verklaring gesê hulle is gevra om te help.

“Die SANW het lugbates en personeel bewillig om interdepartementele, inter-agentskap en multi-nasionale pogings aan te vul.” lui die verklaring.

Pres. Cyril Ramaphosa het die ontplooiing goedgekeur.

’n Span van 10 militêre gesondheidspraktisyns is Saterdag saam met soek- en reddingslughulpmiddels na Malawi ontplooi.

Front-elemente is ook na Mosambiek ontplooi om die situasie daar te assesseer met die oog daarop om op die grond humanitêre hulpogings by te staan. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!