Singapoer het lesse vir Afrika
Singapoer het lesse vir Afrika

Singapoer het lesse vir Afrika

Die eiland se leiers het 'n deeglike besef gehad van die kwesbaarheid van hul land en het ontwikkeling anders aangepak.
Francoise Steynberg
Dr. Kobus Laubscher - In 'n onlangse verslag van die Brenthurst-stigting, Why Singapore works - Taking the right lessons, word die waarde van werklike verbintenis tot volhoubare ekonomiese ontwikkeling ondubbelsinnig deur die twee outeurs, Olusegun Obasanjo en Greg Mills, omskryf.

Wat veral duidelik is, is dat nie Singapoer se koloniale verlede en/of outoritêre leierskap bygedra het tot die indrukwekkende ekonomiese veranderings nie, maar eerder fokus op die regte spelbrekers.

Suid-Afrika het immers onlangs 'n goeie kwota politiekery ervaar oor die beweerde nalatenskap van kolonialisme en 'n mens kan dink dat kritici in staat sou wees om te wys dat kolonialisme nie kon bydra tot ekonomiese ontwikkeling op 'n vlak wat Afrika so broodnodig het. Gemeet teen die standpunte in hierdie verslag van die stigting kom ons nie oor die dwarslatte nie, al spring ons hoe hoog.

Met die oorname van die regering deur pres. Lee Kuan Yew in 1965 het die eilandstaat van minder as 600 vierkante kilometer min te bied gehad. 'n Bevolking van 1,6 miljoen mense het te midde van religieuse en etniese skeidingslyne in hoofsaaklik krotbuurte gewoon en die hele ekonomie was ingestel op bediening van koloniale behoefte, insluitende skeepswerwe.

Vyftig jaar later was die bruto binnelandse produk (BBP) per kapita van $52 887 50 keer meer as met onafhanklikwording en 'n stewige 20% meer as dié van die Verenigde Koninkryk (Singapoer was 'n Britse kolonie). Interessant is die feit dat Singapoerse amptenare in 1968 Kenia besoek het om daar te gaan leer van ontwikkeling, aangesien Kenia in daardie stadium meer ontwikkel was.

Afrikalande suid van die Sahara se BBP per kapita het oor dieselfde tydperk van 'n baie beskeie $200 tot $1 000 toegeneem. Die destydse Keniaanse narratief sou mens laat hoop dat die Chinese by Suid-Afrika kom leer – wat om nie te doen nie.

Kolonialiste het streng beheer van alles gevestig, daarmee inheemse welvaartskepping beperk en deur middel van proteksionisme, blanke setlaars, koloniale maatskappy en monopolie kapitaal verryk. Na-koloniale vryheid het dikwels Afrikaleiers in posisies geplaas waar hulle as diktators bevoordeling beperk het tot diegene wie hulle ter wille was – die omvang en impak van die beweerde (en toenemend bewese) staatskaping in Suid-Afrika herinner daaraan.

Vry van rassisme wat koloniale dispensasies verkeerdelik as demokrasie gesien het, was hoegenaamd nie voldoende voorwaardes vir broodnodige ekonomiese ontwikkeling nie. Singapoer se leiers het 'n deeglike besef gehad van die kwesbaarheid van hul land en het ontwikkeling anders aangepak. Leierskap binne 'n streng beheerde ekonomie is beslis verkeerd verstaan deur diegene wat dit wou nadoen, as sou die Asiatiese lande floreer op diktators. Daardie “diktators” het egter 'n plan gehad en verbeeldingryke groeistrategieë onverskrokke geïmplementeer.



TIEN LESSE

Afrika en veral lande in Suider-Afrika het volgens Obasanjo en Mills tien lesse te leer: Eerstens handel dit oor wat die rol van die staat behoort te wees.

Pres. Lee het ontwikkeling deur samewerking as die enigste oplossing gesien – die staat en die private sektor as 'n span. Die staat was verantwoordelik vir bemagtigende strukture en beleid met die private sektor wat die ontwikkeling gedoen het.

Tweedens is die koloniale nalatenskap omskep tot vrugbare ontwikkelingsgeleenthede wat infrastruktuur aanbetref. Dit is gehefboom, nie verteer soos in baie ander lande ná kolonisasie nie. Singapoer se toekoms was dus nie afhanklik van nalatenskap van die kolonialiste nie.

Derdens is sterk institusionele, maar inklusiewe onderbou nodig wat veral private inisiatief vlug gegee het. Daar is staatgemaak op 'n versameling van institusies om gesamentlik ontwikkeling te dryf.

Vierdens het Singapoer die beste bewys gelewer van grenslose markte en het globale teenwoordigheid Singapoer oral en saakmakend as vennoot gevestig deur integrasie van intensies, vermoë en aflewering. Daar was geen sprake van nasionalisering nie en die sukses is 'n vingerwysing vir diegene met los tonge oor nasionalisering.

Met hierdie benadering word gevolg gegee aan die vyfde les, naamlik die skep van infrastruktuur as middel tot versnelde ontwikkeling. Hoeveel soortgelyke inisiatiewe het gestop by die oprigting van strukture wat nou as wit olifante geld vreet?

Die sesde en seker belangrikste les in 'n Afrikakonteks, is vir regerings om as katalisators op te tree en nie as kapers nie. Ongelukkig geld die omgekeerde selfs in moderne ontwikkelingsideologie wat afgedwing kan word. Een van die grootste struikelblokke is wanneer arbeid en kapitaal se duidelike omskrywing verlore gaan.

Singapoer het vroeg vroeg arbeidsverhoudinge vasgevat en sodoende voorkom dat die stert die hond swaai. Suid-Afrika sukkel onder andere hiermee. Sterk leiers wat inklusief soek na oplossings, moet in staat wees om dapper en dikwels ongewilde besluite te neem. In 'n voorverkiesingfase is die plaaslike afwesigheid van dapper besluitneming al hoe duideliker en so gaan 'n verdere les verlore. Internasionale verbintenisse is belangrik, maar kan nie verslawend word nie en moet tot die betrokkenes se voordeel gebruik word.

In die tiende plek moet hulp van buite soos van die Internasionale Monetêre Fonds gebruik word en lande moet nie daarop aangewese wees nie. Die Suid-Afrikaanse minister van finansies se sogenaamde 14 punt-plan om die land uit 'n resessie te kry, ruik dalk na so 'n benadering. Herstel van plaaslike ekonomiese veerkragtigheid kan nie afhanklik wees van enige hulp van buite nie. Dit kan hoogstens ekonomiese veranderings aan die gang skop, maar daarna moet die ekonomie op eie stoom kan loop.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer