Sioka aangevat oor SGBV-uitlatings
Sioka aangevat oor SGBV-uitlatings

Sioka aangevat oor SGBV-uitlatings

'n Geslagsgelykheidsakti­vis waarsku die minister se opmerking “volg die neiging waar die skuld op die slagoffer geplaas word”.
Yandi Du Plessis
Jana-Mari Smith – Die minister in die presi­densie ­verantwoordelik vir geslagsgelykheid, armoede­uitwissing en maat­skaplike dienste, me. Doreen Sioka, se herhaalde beroepe om diegene wat polisiesake terugtrek te laat toesluit, dreig om slag­offers van huishoudelike geweld verder tot stilswye te dwing.

Terwyl Namibië in 'n hewige stryd gewikkel is om 'n pandemie van seksuele en geslagsgeweld (SGBV) hok te slaan, het Sioka verlede week weereens haar voorstel herhaal dat vroue wat klagte van mishandelaars terugtrek, self tronkstraf moet kry.

Sy het verlede week aan Nampa gesê sy doen 'n beroep op die ministerie van justisie om haar te ondersteun en het bygevoeg sy “waarsku slagoffers om op te hou om sake terug te trek”.

'n Geslagsgelykheidsaktivis, me. Beauty Boois, waarsku dat Sioka se aanmerkings “die neiging volg waar die skuld op die slagoffer geplaas word, wat deel is van die rede hoekom Namibië 'n paradys vir geweldenaars is".

Sioka se houding sal slagoffers keer om die mishandeling aan te meld, het sy bygevoeg.



'STEUN VIR SLAGOFFERS'

“Die voorstel om slagoffers van huishoudelike geweld wat sake onttrek, in hegtenis te neem, is ondeurdag. Slagoffers het ondersteuning nodig, nie dreigemente nie,” het die regskenner me. Dianne Hubbard van die Regshulpsentrum (LAC) gesê.

“Die onttrekking van sake in enige strafregtelike aangeleentheid is nie net in beheer van die slagoffer nie. Die slagoffer kan 'n versoek indien om die saak te onttrek, maar die beslissing om voort te gaan of terug te trek berus by die kantoor van die aanklaer-generaal,” het sy gesê.

Hubbard, wat al dekades lank by SGBV-sake in Namibië betrokke is, het gesê die minister se voorstel “ignoreer” verskeie faktore wat tot die onttrekking van sake kan lei.

Hierbenewens is dit 'n werklikheid dat “uitgebreide familielede soms die slagoffers blameer en verneder en die slagoffers kan finansieel afhanklik van hul mishandelaars wees”.

Hubbard sê daar is ander strategieë wat die regering kan implementeer om die voortsetting van SGBV-sake aan te moedig.

Dié strategieë sluit in beter steun vanaf die polisie, aanklaers en maatskaplike werkers, sowel as duidelike riglyne om polisiehulp te bekom wanneer dreigemente gemaak word.

Dit is ook noodsaaklik om slagoffers by te staan wanneer hulle langdurige en moeilike polisieondersoeke en regsprosesse moet verduur, het sy gesê.



'ONGEVOELIG'

Me. Ndiilo Nthengwe, ook 'n aktivis, het Sioka se uitlatings as “ongevoelig en minagtend teenoor slagoffers en oorlewendes van SGBV” beskryf.

Sy het benadruk dat, hoewel sake weens verskeie redes terug­getrek word “dit uiteindelik neerkom op 'n magsdinamika waar slagoffers dikwels moet onderhandel om vas te stel of hulle die saak wil verder neem, al dan nie.”

In plaas daarvan om wette te wysig om slagoffers in hegtenis te neem, moet die regering eerder wetswysigings oorweeg wat spesifiek gemik is op oortreders en gesinne wat “voortdurend slagoffers en oorlewendes met allerlei taktieke probeer intimideer”, het sy bygevoeg.

Intussen het Boois 'n dringende beroep op die regering en ander gedoen om hul vir gratis sielkundige en maatskaplike ondersteuningsdienste te beywer, asook finansiële steun en veilige akkommodasie vir slagoffers.

“Dít is 'n meer menslike en empatiese manier om slagoffers te ondersteun.”

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!