Sirië vlug tot by Israel se grens

Tien duisende Siriërs het die afgelope twee maande naby die grens met die Golanhoogland opgedaag.
Dosyne burgerlikes het Dinsdag uit Siriese vlugtelingkampe na die Israelse grens by die Golanhoogland beweeg. Hulle is sowat 200 m van die grens deur ’n Israelse soldaat beveel om terug te draai.

“Julle is op die grens van die staat van Israel. Gaan terug, ons wil julle nie seermaak nie,” het die soldaat in Arabies oor ’n luidspreker gewaarsku.

Die Siriese weermag, gerugsteun deur Rusland, voer tans ’n stryd teen rebellemagte in die gebied.

Tien duisende Siriërs het die afgelope twee maande naby die grens met die Golanhoogland opgedaag wat deur Israel beset word. Dié mense vlug voor hul regering se weermagoptrede wat groot dele van die suidweste van die land by rebelle teruggeneem het.

Israel verskaf humanitêre hulp aan vlugtelinge in kampe in die gebied, maar wil nie vlugtelinge oor die grens toelaat nie, berig Reuters.

Die skare wat Dinsdag na die grens toe geloop het, het vroue en kinders ingesluit. Ná die waarskuwing van die soldaat het hulle omgedraai en stadig teruggestap na die vlugtelingkamp. Sommige het halfpad gaan stilstaan en wit doeke gewaai in die rigting van die grens.

Wladimir Poetin, Rusland se president, het Maandag in Helsinki, Finland, op ’n nuuskonferensie met sy Amerikaanse ampsgenoot Donald Trump, die Siriese krisis uitgesonder as een van die gebiede waarin Rusland en Amerika met sukses kan saamwerk.

“Rusland en die Verenigde State kan proaktief optree en die toon aangee om die humanitêre krisis te oorkom en Siriese vlugtelinge te help om terug te keer huis toe,” het Poetin gesê.

Poetin sê verder dat “terroriste” in die suidweste van Sirië (naby die Golanhoogland) “vermorsel” moet word.

“Dit sal vrede na die Golanhoogland bring en groter vrede tussen Sirië en Israel bewerkstellig, wat ook veiligheid vir Israel sal verseker.”

Amerika het vroeër vanjaar skerp kritiek teen Rusland se voortgesette militêre steun aan die Siriese regime gelewer.

Maandag het Trump egter gesê dat hy en Poetin lank gesels het oor die Siriese krisis.

“Samewerking tussen ons twee lande kan honderde duisende lewens red,” sê Trump. - Netwerk24/Reuters

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!