Sisa gryp by Kalahari in
Sisa gryp by Kalahari in

Sisa gryp by Kalahari in

’n Taxibestuurder sê hy het sy lewe te danke aan ’n Windhoekse prokureur.
Denver Kisting
Denver Kisting – “Dít is hoe onskuldige mense hul lewens verloor.”

Só sê ’n taxibestuurder, wie se naam aan Republikein bekend is, oor ’n voorval die afgelope Vrydag waartydens hy glo deur beamptes van die teenmisdaadoperasie Kalahariwoestyn aangerand is.

Die bekende prokureur mnr. Sisa Namandje het Vrydag omstreeks 18:40 op die toneel naby die voorstad Eros in Windhoek afgekom.

Sou Namandje hom nie te hulp gesnel het nie, sou die beweerde aanval glo selfs leliker geword het, het die taxibestuurder gister gesê.

Volgens hom was hy en ’n passasier op pad toe ’n Quantum-bussie agter hulle aangejaag gekom het.

“Hulle het al nader gekom asof hulle my wou stamp.”

Kort hierná het die bestuurder glo begin toet.

“Ek het my hand uitgesteek om te wys ek kan nêrens aftrek nie. Hulle het dit waarskynlik as ’n teken van opstandigheid gesien.”

Dinge het toe skielik handuit geruk, sê die taxibestuurder. Die bussie het homself voor hom ingewurm, sê hy.

“Ek het hulle amper gestamp.”

Hy sê die beamptes het uit die voertuig gespring, sy deur oopgepluk en hom begin klap en skop.

“Hulle het gesê as ek so ’n kar sien, moet ek van die pad af beweeg. Toe sê ek ‘daar was geen manier vir my om julle plek te gee nie’.”

Hy sê daar was sowat ses polisie- en korrektiewe beamptes “en soldate”.

Dit was eers toe Namandje by die toneel opdaag dat die beamptes skielik vir sy rybewys gevra het, sê die taxibestuurder.

Hy sê hulle het nie geantwoord toe die prokureur wou weet hoekom hulle hom aanrand nie, maar het toe die aanval gestaak.

Ná Namandje weg is, het die beamptes na bewering die taxibestuurder en sy passasier na die buitewyke van die stad geneem.

“Een het uitgeklim en vir my gesê ek was baie gelukkig, want as Sisa nie tot my redding gekom het nie ‘kon ons ordentlik met jou afgereken het’.”

Namandje het die voorval gister by navraag bevestig.

Khomas se streekbevelvoerder, komm. Joseph Shikongo, het gesê die voorval is nog nie onder sy aandag gebring nie.

Hy sê beamptes moet ná elke skof ’n verslag saamstel oor wat tydens hul skof gebeur het – “goed of sleg”.

Hy het benadruk beamptes mag nie gewelddadig raak nie, maar lede van die publiek moet hulself ook gedra.

Volgens Shikongo het hy ’n brief van ’n ander lid van die publiek, wat glo dankbaar is beamptes het hóm vasgevat toe hy homself wangedra het.

Sers. Fabian Amukwelele, ’n woordvoerder van die stadspolisie, en lt.kol. Petrus Shilumbu, ’n weermagwoordvoerder, dra ook nie kennis van die voorval nie.

Die taxidrywer sê hy het geen strafsaak aanhangig gemaak nie.

“Dit dien geen doel nie. Dit sal in elk geval nie ver gaan nie.”

Volgens hom moes beamptes eers vasstel hoekom hy nie kon aftrek nie voor hulle begin slaan het.

“’n Mens begin nie net slaan nie. As dit nie vir Sisa was nie en ek het dalk terugbaklei, sou hulle dalk begin skiet het en ek kon vermoor gewees het.”

Hoofinsp. Kauna Shikwambi, ’n polisiewoordvoerder, het gister opnuut gevra lede van die publiek moet ’n saak teen beamptes maak wat hulle na bewering tydens Operasie Kalahariwoestyn-werksaamhede aanrand.

Net dan kan die polisie teen sulke lede optree, sê sy.

Twee mense is vanjaar in skietvoorvalle dood, wat na bewering met Operasie Kalahariwoestyn-lede verband hou.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!