Sisulu gaan VSA inlig 'oor ware situasie in SA'
Sisulu gaan VSA inlig 'oor ware situasie in SA'

Sisulu gaan VSA inlig 'oor ware situasie in SA'

Afrika is nie hoog op die Amerikaanse president se prioriteitslys nie.
Sarel van der Walt

Pres. Cyril Ramaphosa en pres. Donald Trump, sy Amerikaanse ampsgenoot, sou gisteraand in mekaar se geselskap by die hoofkwartier van die Verenigde Nasies (VN) in New York wees, maar hulle sal nie bilaterale gesprekke hê nie.

Lindiwe Sisulu, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, sal wel Vrydag 'n ontmoeting met Mike Pompeo, Trump se minister van buitelandse sake, hê oor Trump se onlangse omstrede twiets oor Suid-Afrika.

Trump sou gisteraand in sy hoedanigheid as Amerikaanse president die tradisionele verwelkomingsonthaal vir die sowat 120 staats- en regeringshoofde by die VN hou. Hulle is in New York vir die 73ste algemene vergadering van die VN.

Baie streng veiligheidsmaatreëls geld in die omgewing van die VN.

Sisulu sal haar ontmoeting met haar Amerikaanse ampsgenoot gebruik om hom op hoogte te bring oor die “ware situasie in Suid-Afrika”.

Dit volg nadat Trump onlangs tot groot ontsteltenis van die Suid-Afrikaanse regering sy besorgdheid oor plaasbesettings en -aanvalle, en die grootskaalse moorde op boere, uitgespreek en Pompeo opdrag gegee het om dit te ondersoek.

Trump se twiet het daartoe gelei dat Sisulu vir Jesse Lappen, die saakgelastigde van die Amerikaanse ambassade, ontbied het om Suid-Afrika se ongelukkigheid oor die twiets aan haar oor te dra.

GEEN AMBASSADEUR

Trump is byna twee jaar president, maar hy het in dié tydperk nog nie 'n ambassadeur in Suid-Afrika aangestel nie.

Afrika is nie hoog op die Amerikaanse president se prioriteitslys nie.

Trump se voorganger, oudpres. Barack Obama, het Patrick Gaspard, 'n groot vertroueling van hom, destyds as ambassadeur in Pretoria aangestel.

Omdat Gaspard 'n politieke aanstelling was, het sy termyn tot 'n einde gekom toe dié van Obama verstryk en Trump president geword het.

Ramaphosa sou gisteraand nie van die begin af by die Trump-onthaal wees nie.

Die Suid-Afrikaanse staatshoof hou eers 'n onthaal ter nagedagtenis aan oudpres. Nelson Mandela wie se standbeeld gistermiddag (SA tyd) op die tweede vloer van die vergadersaal van die VN deur Ramaphosa, Maria Espinosa, president van die VN se 73ste algemene vergadering, en António Gutteres, sekretaris-generaal van die VN, onthul word.

Dit sal later na dié VN se besoekersentrum geskuif word sodat die publiek dit ook kan sien.

MADIBA

Mandela is die eerste mens vir wie 'n standbeeld by die VN opgerig is. Ander leiers is tot dusver met borsbeelde vereer.

“Dit sal goed wees as Madiba hier bo die VN uittroon, het Mxolisi Nkosi, waarnemende direkteur-generaal van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking, Sondagaand op 'n inligtingsessie aan Suid-Afrikaanse joernaliste gesê wat vandeesweek oor die gebeure by die VN verslag doen.

“Madiba is 'n simbool van vrede, menslikheid en verdraagsaamheid,” sê Nkosi.

Mandela sou vanjaar 100 jaar oud geword het.

Suid-Afrika sal ook sy derde termyn as nie-permanente lid van die VN se Veiligheidsraad wat op 1 Januarie begin en vir twee jaar duur, aan Mandela opdra.

Die onthulling van die standbeeld sal gevolg word deur die Nelson Mandela-vredesberaad wat Suid-Afrika in Desember aan die VN voorgestel het.

Ramaphosa sal op dié geleentheid een van sy nege toesprake in net drie dae in New York lewer, sê Nkosi.

Die Suid-Afrikaanse staatshoof sal een van 158 sprekers op die beraad wees. 'n Vredesverklaring sal ná die beraad deur die leiers onderteken word, sê Nkosi.

Ramaphosa, wat Sondag op 'n vlug van die Suid-Afrikaanse Lugdiens in New York aangekom het, het kort daarna in 'n hotel enkele blokke weg van die VN, 'n ontmoeting gehad met senator Christopher Coons, die Demokratiese Party se ondervoorsitter van die Amerikaanse senaat se etiekkomitee en 'n lid van die komitee vir buitelandse betrekkinge.

*Sarel van der Walt, politieke joernalis van Netwerk24, is op uitnodiging van die presidensie en die departement van internasionale betrekkinge en samewerking in New York om oor vandeesweek se gebeure vir Media24-publikasies verslag te doen. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!