Sisulu rep niks oor CR se blaps oor plaasmoord
Sisulu rep niks oor CR se blaps oor plaasmoord

Sisulu rep niks oor CR se blaps oor plaasmoord

Lindiwe Sisulu en haar Amerikaanse eweknie vergader in November in Suid-Afrika om Amerikaanse maatskappye gerus te stel oor grondhervorming en eiendomsreg.

Sisulu, SA minister van internasionale betrekkinge en samewerking, is Vrydag deur Mike Pompeo, Amerikaanse minister van buitelandse sake, met hul ontmoeting in New York gevra dat Suid-Afrika sy posisie oor grond moet verduidelik. Daar is besluit om ’n inligtingsessie oor grondhervorming te hou vir Amerikaanse maatskappye wat in Suid-Afrika sake doen.

Luidens die Amerikaanse wet op groei en geleenthede in Afrika (Agoa), waarkragtens Suid-Afrikaanse uitvoerders miljarde rande se goedere in die reuse- Amerikaanse mark kan verkoop, kan die Amerikaanse president Suid-Afrika summier uit die skema skop as hy glo dat nie aan al die vereistes voldoen word nie. Agoa vereis dat ’n land ’n markgegronde ekonomie moet hê wat private eiendomsreg beskerm.

Sisulu het volgens haar departement aan Pompeo gesê die proses sal binne die raamwerk van die Grondwet plaasvind en nie ekonomiese stabiliteit of voedselsekerheid affekteer nie.

Pres. Donald Trump het Pompeo op 23 Augustus op Twitter gevra om Suid-Afrika se “plaasbesettings, onteienings en die grootskaalse moord van boere” te bekyk.

Volgens Ndivhuwo Mabaya, Sisulu se woordvoerder, is plaasmoorde nie geopper in die twee ministers se gesprek nie. Sisulu het nie ’n woord gerep oor pres. Cyril Ramaphosa se bloutjie met sy uitlatings oor plaasmoorde nie, toe hy in ’n Bloomberg-onderhoud gesê het daar is “geen moorde op wit boere in Suid-Afrika nie”.

OMSTREDE TWIET

Khusela Diko, Ramaphosa se woordvoerder, sê die president se opmerking was in reaksie op ’n vraag oor Trump se omstrede twiet hieroor. Diko het aan Netwerk24 gesê Rama­phosa het bloot dié opmerking van die Amerikaanse president verwerp.

“Daar is niemand in Suid-Afrika wat wit mense of boere teiken nie. Misdaad gebeur in al ons gemeenskappe.”

Ramaphosa is deur verskeie groepe geroskam oor sy kommentaar. Luidens die jongste misdaadstatistieke was daar 62 plaasmoorde in 2017-’18, ses pogings tot moord en twee verkragtings op plase. Dan Kriek, uitvoerende hoof van Agri SA, wat op Ramaphosa se grondadviespaneel dien, sê plaasaanvalle en “moorde op alle boere, plaaswerkers en hul families” is ’n groot probleem en moet erken word.

Agri SA het ook pas ’n nuwe verslag deur Unisa se buro vir marknavorsing oor misdaad op plase bekend gestel, wat aantoon dat 70% van plase landswyd in 2017 deur misdaad geraak is.

Ernst Roets, adjunkhoof van AfriForum, sê oor Ramaphosa: “Dit help nie om nou ná die tyd te kom en te sê jy het jouself verkeerd uitgedruk nie. Dit wys hy is nie in beheer nie.”

AfriForum beplan om in 2019 families van plaasmoordslagoffers na Amerika te neem as deel van ’n bewusmakingsveldtog. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!