Sit koppe bymekaar vir Ierland
Pedro Vorster
sp;
Op pad Killinchy toe in Noord-Ierland moet ons kophou om aansluitings te haal. Ons vlieg via Johannesburg oor Dubai na Glasgow in Skotland. Op hierdie roete is OliverTambo genomineer as een van die afkopste internasionale lughawens en wen loshande.
Om die stralerkoors af te skud is ‘n dag of wat in Glasgow die regte medisyne. Die inwoners is vriendelik en spraaksaam, al loop die werkloosheidsyfer hoog. Op straat frons die meeste voetgangers diep en praat met ernstige gesigte. Daar is egter min bitter bedelaars.
Die stad was voorheen ‘n groot skeepsbouhawe, maar dokwerkersgeleenthede het drasties verminder. Een simptoom van die swak ekonomie is die hele paar leë winkelspasies in die kleinerige inkopiesentrum neffens ons woonstel.
Kuns trek my, of dit nou op ‘n sypaadjie verkwansel word, of in ‘n prestige galery rondhang. In ‘n galery in die inkopiesentrum stal vaardige, maar oorversigtige Glasgow-kunstenaars uit. Hulle speel fatsoenlik met tema en styl en lyk kopsku vir helder Afrika-kleure.
In die stad se trotse Kelvingrove-museum en kunsgalery hang Salvador Dali se enigmatiese skildery Johannes se Christus aan die Kruis in sy eie sagbeligte hoekie. Christus hang kop onderstebo en tuur af in die heelal van die See van Galilea. Vergeet alle vorige ontmoetings as jy dié werk leer ken het uit boeke. Die oorspronklike is groot en sluk die besoeker stuk-stuk in. Die skildery draal soos wierook en die landskapelemente raak magies brood en wyn voor jou oë.
Behalwe vir die Spanjaard se besonderse werk is daar ‘n goeie mengsel impressioniste en skilderye van Millet, Renoir, Pisarro, Picasso, en selfs ‘n Van Gogh. Onder die ou meesters is daar kleiner werke van Rubens en Rembrandt.
In een saal duik ‘n Spitfire-vegvliegtuig af op ’n Indiese olifant wat probeer weghol. Hulle moes die vliegtuig in parte ingebring en binne gemonteer het, want sy vlerkspan vul byna die breedte van die saal. Die olifant word geselskap gehou deur ‘n kameelperd. Altwee staan natuurlik botstil in taksidermie onder een glaskoepeldak.
Om die kultuurbuffet af te rond speel ‘n orrelis klasieke werke en selfs die Beatles se With a little help from my friends op die hoofsaal se reusepyporrel wat uit 1901 dateer. ‘n Klein waarderende skare sleep stoele nader om te luister.
Een kontemporêre kunstenaar het die kurator oortuig om haar installasie te verduur. Haar wit koppe wys ‘n wye spektrum gesigsuitdrukkings en dobber hoog genoeg naby die saal se balkonverdieping om jou reguit in die oë te kyk.
Alles hier kan gratis gesien en gehoor word.
Ek begin kop krap: “Hoe lyk ‘n tipiese Glasgower?” en neem steelfotos van die mense op straat. Die resultaat? Die Glasgowse populasie lyk kosmopolitaans.
Ons laai die volgende oggend vroeg ‘n middelslag motor en volg die son na die Weskus. Die paaie voel eers knap, maar ons hou kop en gou wikkel ons saam met die plaaslike padverbruikers vol selfvertroue op die nat teerstrate.
Ons skiet mooi klein dorpies met ou geboue deur en maak ontroue beloftes dat ons meer tyd aan hulle sal spandeer met die terugkeer. Vir eers het ons ‘n afspraak op ‘n veerboot.
Namibiese bestuurslisensies is wettig in Skot- en Ierland en die algemene padreël is dieselfde: Hou links en respekteer die spoedgrens. Die gerekenariseerde padstelsel is dodelik akkuraat en daar word nie gespeel met spoedvrate nie. Hul sonpanele kry ook nie so maklik voete nie. Gemiddelde snelhede word op roetes geneem, die voertuig gefotograveer en punte word aan die bestuurder toegeken. Nie positiewe punte soos in sport nie. Te veel van hulle en jy wen niks, jy verloor eerder jou lisensie.
Vir eeue al sug die troebadoer oor die hoë en lae weë na Skotland. Dieselfde lirieke geld vir Ierland. Maak nie saak hoe jy reis nie, daar is ook net twee maniere om daar te kom: vlieg of seil.
Die veerboot plas oor die grou see na Larne, ‘n hawe net bokant en effens wes van Belfast. Daarvandaan mik ons na die platteland. In die motor raak die son lui, die velde groen en word tyd klei. Ons koppe raak swaar.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie