Sjordè fokus op voorlesings

Yandi Du Plessis
Windhoek Woordfees en Netwerk Namibië bied op Donderdag 4 November, die Sjordè (gooi drankie – “sjor”, neem en drink, “dè”) by De Kayak in Olympia aan.

Die program “Gryp Die Dag – Oop Mikrofoon” gaan veral fokus op voorlesings uit die digbundel Land onder woorde, wat saamgestel is uit inskrywings vir die 2019 Windhoek Woordfees se skryfkompetisie.

Voorlesings deur onder andere Henriëtte van Wyk, Susan Alexander, Sanet Lambrechts, Olga Visser, Emma Kirchner, Marius Millard, Attie van Wyk, Louis Conradie, Charlotte Beukes-Muundjua, Loraine Kotzé, Marsofine Krynauw, Hester Pretorius, asook die wenner van die skryfkompetisie, Andree-Jeanne Tötemeyer, is reeds op die spyskaart.

Die gehoor kan ook uitsien na vermaak met musiek en lirieke deur die gewilde Sanet Lambrechts, Tielman Neethling, Bonnic Nieuwoudt en Marelee Ferreira van Windhoek Gimnasium, asook die Waatlemoen-orkes van WAP.

Elizma Theron, die uitvoerende hoof van Netwerk, is van mening hierdie byeenkoms is 'n gulde geleentheid om blootstelling aan ons plaaslike talent te bied.

“Oop Mikrofoon is 'n uitstekende platform om nuwe talent te ontgin en 'n kultuur-honger gehoor se gemis aan goeie optredes te stil.”

Die komitee van Windhoek Woordfees is ontsettend dankbaar vir die ondersteuning van hul borge: First Rand Foundation Namibia, Maerua Spar en hul mediavennoot Republikein wat dit moontlik maak dat hierdie byeenkomste op 'n gereelde basis kan plaasvind.

Hou gerus die Windhoek Woordfees- en Netwerk Namibië-Facebook-blaaie dop om op hoogte te bly met die program tot die einde van die jaar.

Verversings is by die kaartjie (N$100) inge­sluit, maar bring asseblief jou eie drinkgoed saam. Stuur 'n e-pos na [email protected] of WhatsApp na 081 756 1160 om jou plek te bespreek.

“Hoewel ons besluit het om vanjaar kleiner, meer gereelde en plaaslike produksies aan te bied, het die beplanning vir 2022 reeds begin om gewilde Suid-Afrikaanse produksies na Namibië te bring. Ons hoop Covid-19 gedra hom!” het die betrokke organisasies opgewonde gesê.

Kommentaar

Republikein 2025-03-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer