Skaal kantel in China se guns
Skaal kantel in China se guns

Skaal kantel in China se guns

'n Politieke ontleder meen die weegskaal kantel toenemend in China se guns soos betrekkinge tussen dié land en Namibië verstewig.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer



“China is nie 'n filantropiese land wat geskenke uitdeel sonder om aan sy eie belange te dink nie. Die wen-wen situasie waarna hy in sy betrekkinge met Namibië verwys, was sover net 'n wen vir China.

“Die handelsbalans is uiters skeefgetrek en Chinese beleggings skep nie plaaslike werksgeleenthede, groter sekuriteit in die werkplek of beter salarisse nie. Inteendeel, Chinese konstruksiemaatskappye druk Namibiese maatskappye uit die mark en dra só tot groter werkloosheid by.”

Só sê prof. Henning Melber, die internasionaal-gerekende Duits-Namibiese akademikus en politieke ontleder.

Hy het op Republikein se vrae na aanleiding van die regering se staatsbesoek aan China gereageer.

Dit word allerweë as 'n bedeltoer beskou wat dié land 'n groter ekonomiese houvas op Namibië sal gee.

Melber sê die toestroming van Chinese na Namibië as kleinskaalhandelaars, werkers en sakelui ontstel gewone Namibiërs en laat gevoelens van xenofobie, of vreemdelingehaat, blom.

Hy sê Chinese burgers se betrokkenheid by misdade soos belastingontduiking, geldwassery, wildstropery asook dwelmsmokkelary blaas dié negatiewe gevoelens teenoor Chinese in Namibië aan.

“Daar is 'n diep kloof tussen hoe gewone Namibiese burgers teenoor China en die Chinese voel, en die goeie bilaterale betrekkinge wat die regerings handhaaf,” meen Melber.

“Dit is duidelik dat pres. (Hage) Geingob baie gevlei voel om onder die eerste staatshoofde te wees wat vir 'n staatsbesoek na China genooi is kort nadat pres. Xi Jinping 'n leier sonder enige termynbeperkinge geword het. 'n Mens moet egter fyn ontleed in wie se belang hierdie goeie vriendskapsbande werklik is.”

Die regering het tydens hierdie staatsbesoek gaan aanklop om finansieringshulp met infrastruktuurprojekte soos die uitbreiding en opgradering van die Internasionale Lughawe Hosea Kutako, die voltooiing van die snelweg na dié lughawe en die aankoop van die twee Airbus A330-200-vliegtuie wat hy tans huur.

Verder wou die regering ook die ooreenkoms vir die Chinese ruimtenavorsingstasie aan die kus finaliseer, het die nuusagentskap Xinhua vroeër berig.

Melber waarsku Namibië moet die fynskrif in al sy ooreenkomste vir finansiële hulp deeglik bestudeer en nie toelaat dat sy skuldlas buite beheer toeneem nie.

“Kitsoplossings vir die huidige ekonomiese knyptang kan langtermynlaste skep wat later 'n vloek eerder as 'n seën gaan wees,” sê hy.

“China se belangstelling in Namibiese uraan is voor die hand liggend en die belegging van US$4 miljard maak dit die grootste enkele belegging op die Afrika-vasteland tot dusver. Dit dien 'n strategiese doel vir China, hetsy dit vir kernkrag of dalk selfs kernwapens is,” meen Melber.

“Span Hage mag gevlei en bederf voel omdat hulle die tipe behandeling kry wat geen Westerse land ooit sal geniet nie. Maar die groot vraag

is: Hoe baat gewone Namibiërs hierby?”

Geingob en sy reuse-afvaardiging keer vandag uit China na Namibië terug.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!