Skaapboer Johan Bean leer nou ander

Nadat Johan Bean oorval is met navrae het hy sy boerdery verskuif na Dordabis waar hy opleiding gaan gee aan ander boere.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Die bekende Usakos-boer Johan Bean het reeds sy eerste kursus in groenvoerproduksie en ook hoe om ‘n groenvoereenheid self te bou, op 15 Februarie op die plaas Kirpotib by Dordabis aangebied.

Hy sal vanaf Maart ook opleidingskursusse in intensiewe skaapboerdery aanbied.

Bean het bekend geword het vir sy baanbrekerswerk met intensiewe skaap- en groenvoerboerdery by Usakos waar hy bewys het 'n mens kan suksesvol en winsgewend op ‘n baie klein stukkie grond in uiters droë omstandighede boer.

Die stortvloed navrae ná 'n artikel oor sy boerderystelsel in Die Boer, het hom laat besluit om hom voltyds op opleiding toe te spits.

Hy het met sowat 400 skape op 5 ha grond geboer en hulle hoofsaaklik uit ‘n groenvoereenheid onderhou.

“Ons het besluit omdat Usakos uit die pad is en akkommodasie op die dorp ‘n probleem is, om ons eie boerderystelsel eers toe te maak en te verskuif na die plaas Kiripotib by Dordabis, waar ek dan opleiding vir belangstellendes gaan aanbied,” het Bean onlangs aan Die Boer verduidelik.

Hy sê daar is reeds twee groenvoereenhede op Kiripotib opgerig en hy is nog besig met die bou van die skaapeenhede.

OPLEIDING

Sy kursusse in intensiewe skaapboerderye gaan hy opdeel in intensiewe-, semi-intensiewe en ekstensiewe boerderye en hoe die onderskeie stelsels gekombineer kan word sodat die boer wat kommersieël op ‘n groot plaas boer, dit ook kan toepas.

“Dit help teen veeverliese. Waar ‘n boer gemiddeld tussen 20% en 30% van sy aanteel aan roofdiere verloor, kan hy sy ooie eerder in die intensiewe stelsel laat lam en die lammers afrond, voor hy dit verkoop.

“Dit beteken, waar hy gewoonlik ses of sewe maande sou benodig om sy lammers op die veld af te rond, kan jy dit op vier maande doen. Die lam weeg dan 40 kg en kan bemark word.”

Hy leer boere ook hoe om groenvoerstelsels self en kostedoeltreffend te bou. “‘n Klaargeboude groenvoereenheid wat jou sowat N$250 000 sou kos, kan self vir sowat N$30 000 gebou word,” het hy gesê.

Bean sê die kursusse word oor drie dae aangebied omdat die meeste boere nie so lank van hul plase kan weg wees nie. “Natuurlik het hy ‘n oop lyn na ons toe vir enige navrae en hulp – jy is sover as jou selfoon van raad af.”

Die kursus kos N$1 500 per dag en sluit alle benodighede, akkommodasie, drie etes per dag, koffie en tee in. Na afloop van die kurusus ontvang jy ook ‘n sertifikaat, wat deur banke aanvaar as opleiding aanvaar word, het Bean verduidelik.

Bean is ook betrokke in die opleiding van studente by die Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust) en die opstelling van handboeke, terwyl ander kolleges hom ook vir opleidingdienste gekontak het.

Soortgelyke boerderye, gegrond op Bean se stelsel, word reeds oraloor Namibië gevestig. “Sover as Karasburg was mense by my en het reeds van hierdie eenhede opgerig. Ook op Keetmanshoop, Aranos, Tsumeb, Grootfontein, Otavi, Stampriet, Dordabis en Usakos,” het Bean gesê

HOE WERK DIT?

Bean sê die soort boerdery werk in Namibië omdat dit ‘n droë land is.

“As die plaasboer betyds beplan, dan kan hy in pas met die droogte werk. Vir so ‘n intensiewe boerdery, boer jy boonop op ‘n aansienlike kleiner stuk grond.

“Jy kan, met behulp van so ‘n intensiewe stelsel, jou plaas en weiding laat rus. Jy hou jou diere op krale en kan kleiner kampies span waarin jou vee bedags kan loop,” verduidelik hy. “Hulle slaap egter snags in die kraal en kry hul voer daar. Dit verminder die kans op veeverliese as gevolg van diefstal en roofdiere – mits jy jou plek beveilig,” het hy verduidelik.

Bean het sy ooie op Usakos vir minder as N$2 per dag gevoer. “Ek kan dus ‘n lam produseer tot op vier maande oud vir N$540, wat spotgoedkoop is. Dan weeg hy reeds 40 kg en boonop help die stelsel dat sy vleis van die beste gehalte is,” het hy gesê.

Hy verduidelik dat ‘n intensiewe skaapboerderystelsel hulle teen hitte-, honger- en dorsstres beskerm. “Hy is die meeste van die tyd in die skaduwee. ‘n Skaap in die veld gebruik die eerste 40% van die kos wat hy eet as energie om meer kos te soek. Dit spaar jy in ‘n intensiewe stelsel,” het hy verduidelik.

VOER

Bean sê skape het ruvoer nodig – wat gras of lusern kan wees. “Hy moet 300 g ruvoer per dag kry; dit maak nie saak wat die skaap weeg nie, dit is die minimum hoeveelheid wat jy vir hom moet gee om sy rumen te skraap,” sê hy.

Hy voer sy skape 3% van hul lewende gewig. Dit beteken ‘n ooi van 40 kg moet daagliks 1,2 kg voer ontvang en 300 g hiervan is ruvoer. “As ek dus 300 g gras of lusern het, moet ek 800 g groenvoer bygee en ook 100 g kragvoer,” het hy verduidelik. Hy meng dit gee dit in twee dele – 600 g in die oggend en die ander 600 g in die aand.

Bean sê dit kos hom sowat N$2 per dag om ‘n ooi te voer, arbeid ingesluit. Die groenvoer kos hom 66 cent vir 800 g, terwyl die kragvoer, Enerfeed, N$230 vir 50 kg kos. Gras kos tans sowat N$45 per baal.

“As dit by lammers kom, dra hulle hul ma se onkoste vandat sy dragtig raak asook vir die twee maande wat hy nog aan haar drink en die opvolgende twee maande wat hy eet.

“Dit is altesaam nege maande. Teen N$60 per maand, kos hy jou N$540. Tans word ‘n boer N$40 per kg vir lewendige gewig betaal. As hy 40 kg weeg, verdien hy dus N$1 600 vir jou. As jou ooi boonop ‘n tweeling het, halveer jy die koste,” verduidelik Bean.

Hy sê hy is ook besig om te probeer vasstel watter soort ooie meer geneig is om meerlinge te hê en watter van hulle die beste binne sy intensiewe boerderystelsels gaan aanpas.

‘n Skaapeenheid van 100 m by 12 m, huisves tot 500 diere. As jy baie tegnies wil raak, kan jy dus 4 000 skaap op ‘n ha plaas. As jy dus nog ‘n ha gebruik om jou groenvoereenheid en pakhuise op te sit, het jy nie ‘n groot stuk grond nodig nie – buiten dalk om vir hulle kampies te span waar hulle kan rondstap en wei.

GOEIE RAAD

Bean sê die beste raad wat hy boere tans kan gee, is om die veld ná die reën te benut. “Die gras is nou daar, maar dit gaan nie vir ewig daar wees nie. Die plaasboer moet nou reeds vir die volgende droogte beplan.

“Mense wat die nodige implemente het, moet die gras sny en berg. Die wat nie implemente het nie, moet kyk om weiding te spaar vir die droogte wat kom.

“Dis beter om vooruit te beplan as wat jy wag en met jou broek op jou knieë betrap word,” sê hy.

Hy rig ‘n ope uitnodiging aan mense wat belangstel in wat hy doen, om hom te kontak of die plaas by Dordabis te besoek.

Hy kan by 081 200 4944 of [email protected] gekontak word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!