Skaapboere slag nie hierdie week plaaslik
Die Vleisraad gaan die nuwe skaapuitvoerreël wat op prysverskil gegrond is, met arendsoë dophou vir ongerymdhede.
Ronelle Rademeyer
Skaapprodusente met slagbeurte kan tot volgende Woensdag aansoek doen om die skape wat hulle by die uitvoerabattoirs op Mariental en Aranos sou laat slag, lewend na Suid-Afrika uit te voer.
Dit volg op 'n prysverskil van N$8 per kilogram tussen die plaaslike abattoirs en die twee Noord-Kaapse abattoirs wie se pryse ingevolge die nuwe Vleisraad-voorwaarde vir die skaapbemarkingskema, as basis gebruik word.
Dié nuwe uitvoerreël vir die skaapbemarkingskema wat op 1 Junie in werking getree het, is ingestel om plaaslike produsente teen prysuitbuiting te beskerm.
Dit bepaal die prysverskil mag nie hoër as N$2,50 per kilogram wees nie. Dit word bereken op die hoogste prys vir A2- en A3-karkasse van die Namibiese uitvoerabattoirs en die gemiddelde prys van die Rooidag-abattoir op Springbok en KLK op Upington.
Indien dit hoër is, mag die produsente wat in daardie bepaalde week slagbeurte op Mariental of Aranos het, by die Vleisraad toestemming vra om hul diere lewend na Suid-Afrika uit te voer na waar hulle 'n beter prys kan kry.
Mnr. Paul Strydom, hoofbestuurder van die Vleisraad, het gister by navraag benadruk die grense moet nie nou as oop beskou word nie.
“Net boere wat tussen hierdie Woensdag (gister) en volgende Woensdag slagbeurte het, mag by die Vleisraad aansoek doen om daardie diere uit te voer. Dit is nie asof almal nou lorries mag reël om hulle diere uit te voer nie,” sê hy.
Slagpryse word op Maandae bekend gemaak en geld vanaf Woensdag tot die daaropvolgende Woensdag.
Hy sê die doel vir hierdie voorwaarde van die Vleisraad is om skaapprodusente “'n kompeterende plaaslike prys vir karkasse te bied”, en dit “impliseer beide produsente en abattoirs het 'n gesamentlike verantwoordelikheid wat die koste van waardetoevoeging in die land betref”.
“Ons hou die situasie dop en as ons sien daar is ongerymdhede met prysformulering in Suid-Afrika, sal ons hierdie voorwaarde hersien,” het Strydom gesê.
Die inwerkingstelling van die skaapbemarkingskema op 1 Julie 2004 het tot sodanige prysverskille tussen plaaslike uitvoerabattoirs gelei dat Namibië se skaapbedryf verliese van duisende miljoen Namibiese dollar gely het.
Trouens, 'n verslag wat verlede jaar deur die ombudsman, adv. John Walters, uitgereik is, wys daarop die jaarlikse verlies vir die ekonomie het in 2013 reeds N$177 miljoen per jaar beloop.
Daardie bedrag oor 15 jaar is 'n verlies van N$2,655 miljard.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie