Skaaphond loop jakkalsdraai in woestyn
'n Geliefde hond van Windhoek moes die Namib-woestyn drie weke lank trotseer voor hy weer met sy eienaar herenig is.
Tanja Bause
As dit nie was vir sy vriendelikheid nie, het 'n geliefde skaaphond van Windhoek dalk nie drie weke in die woestyn oorleef nie.
Mnr. John Kinahan, 'n Windhoekse argeoloog, vertel Bran, sy vier jaar oue skaaphond, moes die Namib-woestyn 21 dae lank trotseer voor hy weer met hom herenig is.
Bran het by die Messum-krater in die Erongostreek soos mis voor die son verdwyn en is drie weke later op die strand by Kaap Kruis opgespoor.
Kinahan vertel hy moes vir werksdoeleindes in die omgewing van dié bekende Namibiese baken gaan kamp. Soos gewoonlik het Bran sy baas vergesel.
Een oggend vroeg het Kinahan vir Bran uit hul tent gelaat.
“Ek het geweet daar is hiënas in die omgewing, want ek het hul voetspore om die tent gesien. Dus het ek vir Bran binne die tent gehou. Hy was daai oggend baie opgewonde. Ek dink hy't iets buite gehoor. Hy't uitgehardloop en net verdwyn. Ek het hom gaan soek, maar dit was tevergeefs. Hy was weg,” sê hy.
Kinahan het toe Swakopmund se dierebeskermingsvereniging (DBV) om hulp genader, wat onmiddellik gereageer het.
“Ons het 'n troeteldier-alarm uitgestuur en lede van die gemeenskap gevra om op die uitkyk vir Bran te wees. Ons het ook vrywilligers begin skakel om te vra of hulle vanuit die lug na Bran kan soek,” sê me. Theresa Badenhorst van die DBV.
Mnr. Piet van Rooyen van Uis het aangebied om sy mikrovliegtuig in die soektog aan te wend.
Die mis was dig en die soektog van korte duur.
Die daaropvolgende dag het Ground Rush Adventures met hul ligte vliegtuig help soek – ook tevergeefs.
“Ons kon net hoop Bran volg sy natuurlike instink en loop kus toe. Ons het ook gehoop toeriste sien hom raak en laai hom op,” sê Badenhorst.
Sowat drie weke ná Bran se verdwyning het Kinahan 'n oproep van die Cape Cross Lodge ontvang. Hulle het gesê hulle het Bran by hul parkeerarea gesien.
“My vrou het vir hulle 'n foto van Bran gestuur, wat hulle in hul voorportaal opgesit het. Daardie dag het 'n toeris van Kaap Kruis af by die lodge aangekom en gesê hy het vir Bran tussen die jakkalse en robbe gesien,” sê Kinahan.
Die DBV het onmiddellik 'n versoek om hulp op Facebook gerig.
Vrywilligers het die volgende oggend by hul kantore bymekaargekom om opnuut 'n soektog van stapel te stuur.
“Vyf vrywilligers het onmiddellik na Kaap Kruis vertrek. Nog twee vroue van Hentiesbaai het by hulle aangesluit. Die span het te voet na Bran begin soek.”
Mnr. Johannes Makina, Hentiesbaai se hoof- verkeersbeampte, het intussen op WhatsApp van Bran gelees.
“Ek het besluit om met my kwadfiets te help soek. Ek het strandlangs Kaap Kruis toe gery. Daar aangekom het ek sowat sewe jakkalse sien hardloop. Ek het hulle gevolg en hulle met my kwadfiets afgesny. Toe hulle uitmekaar spat, het ek die hond in die middel gesien. Hy het my toe ook gesien en onmiddellik bly staan. Hy't na my gekyk en toe na my toe gehardloop,” sê Makina.
Makina se kwadfiets het intussen in die soutpanne vasgesit. “Ek was kniediep in die modder en water. Ek het Bran opgetel en hom na die kant van die soutpan gedra en my water met hom gedeel. Toe bel ek om hulp. Ons het sowat 'n uur lank op hulp gewag.”
Die span vrywilligers het intussen gehoor Bran is veilig en het na die soutpan gery.
“Die trane het geloop toe hulle Bran se eienaars bel en die goeie nuus oordra. Die vrywilligers het toe met hom na Swakopmund se DBV gery,” sê Badenhorst.
Die geliefde skaaphond was maerder, maar het dadelik 'n bord kos en warm slaapplek gekry.
Hy moes nóg 'n week by die DBV tuisgaan voor hy Maandag, ná 21 dae, met sy eienaars herenig is.
“Ek het geen idee hoe ver Bran geloop het nie, maar ek skat so 70 km. Hy is glad nie aggressief nie en ek dink dit is wat hom gered het.
“Hy het vriende met die jakkalse gemaak. Hulle weet waar om vir water te grawe en waar om water te kry, en dít het sy lewe gered. Hy het ook saam met hulle robvleis gevreet. Hy's 'n baie slim hond, wat drie weke lank in baie droë en moeilike toestande kon oorleef omdat hy vriende met jakkalse gemaak het.
“Ek is ongelooflik bly hy is veilig by die huis en dankbaar teenoor almal wat die DBV gehelp het,” sê Kinahan.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie