Skape en woorde ewe tuis op Samehaling

In gesprek met Pieter van Schalkwyk
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Die bekende Dorperteler Pieter van Schalkwyk (49) van die plaas Samehaling by Aroab het met sy raakvat- en treffende woorde oor die ellende van droogte en die diep dankbaarheid wat reën bring, vir hom ’n groot klomp aanhangers op Facebook versamel.

’n Roerende smeekgebed uit sy pen het tydens die droogte soos ’n spreekwoordelike veldbrand oor die internet versprei en is selfs deur die Suid-Afrikaanse media opgeraap en gepubliseer.

Net so het sy onlangse skrywe, “Vroegoggend-vrede”, wat hy op Facebook geplaas het nadat hy een oggend vroeg op sy plaas gaan stap het, mense diep geraak.

“Daar is iets heiligs aan die herfs in ’n nat, groen Kalahari. Ek kan dit nie beskryf nie, maar dit het iets met ’n goddelike vrede te doen. Dit is kompleet asof die sagte golwe van die lang, groen gras, wat deur die ligte Suidoos-briesie veroorsaak word, die vrede oor die skepping uitrol. Ek sien hoe dit alles omhels, toevou en vrede gee,” skryf hy.

“Ek hoor dit, ek sien dit, ek ruik dit, ek voel dit, ek beleef dit.

“Dit spoel na my toe aan, omsingel my en maak my deel daarvan.

“Ek dank die Here dat ek dit kan beleef en wonder hoekom ek so geseënd is om hierdie vrede te ervaar. Ek besef dat ek dit nie verdien nie. Dan besef ek weer eens dat boerdery nie ’n loopbaan is nie, maar ’n goddelike roeping.”

In ’n e-pos onderhoud, gesels hy só oor sy plaas, sy roeping en dít waaraan hy glo:



Hoe lank boer jy al op Samehaling en waar presies is dit geleë?

Ek het op die plaas Samehaling grootgeword en boer voltyds sedert 1994. Samehaling is 27 km suid van Aroab op die Karasburgpad.

Jy het die boerdery en stoetery by jou pa oorgeneem?

Ek het in 1998 die stoet by my pa gekoop nadat ek die geld by Standard Bank geleen het. My pa het vir my borg geteken, maar ek moes dit self terug betaal. My pa en sy broer het elkeen op ’n helfte van Samehaling geboer.

Ná my Pa se dood in 2000 het ek sy deel oorgeneem. Oor die volgende klompie jare was ek bevoorreg om ook my oom se helfte van Samehaling te kon oorneem.

Het jy landbou studeer en jou só voorberei om eendag self te boer?

Nee, het B.Sc Aktuariële Wiskunde studeer, want ek het van wiskunde gehou. Maar boerdery was maar van kleins af in my bloed. Ek onthou hoe lekker dit as koshuiskind vir my was om vir ’n vakansie by die huis te kom, my perd en geweer te vat en ’n springbok te gaan skiet.

Wat geniet jy die meeste van boerdery en wat is vir jou die slegte deel van boer wees?

Jy bedoel seker wat is tweede lekkerste ná reën? Ek is ’n veeboer en ongelooflik lief vir my diere en die versorging daarvan. Daar is vir my niks so mooi soos ’n pasgebore kalfie of lammetjie wat orent sukkel en aan sy ma begin drink nie. Ek is ’n buitemens wat baie lief is vir die veld en hou nie so baie van ’n kantoor nie.

Dit is vir my baie lekker om boerderystelsels te ontwikkel en te sien dat dit werk. Ek hou nie van windpompwerk nie, maar die slegste deel van boer wees is wanneer politieke sisteme inisiatief in die boerdery beperk.

Wat is jou boederybeleid?

Ek glo boerdery is nie ’n loopbaan nie, maar ’n roeping. Indien ’n boer deur wins alleen gedryf word, is hy op die verkeerde plek en in die verkeerde bedryf. Maar wanneer jy elke dag deur die liefde en passie vir boerdery gedryf word, en elke dag daarna streef om beter te boer, sal jy suksesvol wees.

Ek glo die resep vir sukses in die lewe is om dieselfde ding lank genoeg rég te doen. Ek glo aan soveel as moontlik kennis, deeglike beplanning en ek glo daaraan om altyd die ekstra tree te gee. Die regte tyd om iets te doen, is nou. Ek glo om suksesvol te kan boer, moet jy presies weet wat in jou boerdery aangaan, en daarby sluit ek jou veld, jou diere, jou finansies en jou begroting in.

Boedery raak toenemend meer uitdagend omdat boere wetenskap te werk moet gaan om hul diere geneties te verbeter en produksie per haktaar te verhoog. Hoe verbeter jy kennis?

Kennis is krag. Eerstens probeer ek soveel as moontlik kennis by suksesvolle boere met ondervinding tap. Ek het al baie by boere, wat selfs in ander tipe bedrywe is en wat reeds suksesse op sekere gebiede van boerdery bereik het, geleer. Ek het al danksy Dorpers baie tyd by skaapboerderye in lande soos Nieu-Seeland, Australië, Texas en Brasilië deurgebring en by daardie boere baie geleer wat ek in my eie boerdery kan toepas.

Ek dink nie ons besef aldag hoeveel kennis ons senior boere met jare se ondervinding het nie. Tweedens probeer ek ook soveel as moontlik by professionele mense leer. Dit gebeur deur middel van kursusse en boeredae waar professionele mense as sprekers optree. Ek probeer om persoonlike kontak met sulke mense te maak sodat ek hulle later kan skakel indien ek vrae het. Derdens is die internet vol kennis wat ’n mens kan tap.

Boere in die Suide beleef unieke uitdagings vanweë die voortslepende onsekerhede oor die kleinveebemarkingskema en roofdiere wat maai onder julle vee. Wat is jou raad aan medeboere?

Boere moet eerstens besluit of hulle hier wil boer. Indien jy hier wil boer, moet jy ’n besluit neem om positief te wees, doelstellings te stel, uitdagings te aanvaar, hard te werk en jou boerdery te geniet.

Om van boerdery ’n sukses te maak, gaan ’n al groter uitdaging word. Dit gaan meer positiwiteit, kreatiwiteit, innovering en harde werk vereis. Ek glo as jy in ons wêreld suksesvol wil boer, moet jy voluit boer. Daar is nie tyd vir ander bedrywe in jou lewe nie.

Wat jy sal graag nog in jou leeftyd op Samehaling wil vermag?

Ek glo mens spog nie met jou planne nie, maar eerder met jou resultate. Maar ek het nog baie planne en is baie positief oor die moontlikehede wat boerdery bied en nog in die toekoms gaan bied. Ek is dankbaar Samehaling is in Namibië, want ek glo daar is ’n blink toekoms vir boerdery in hierdie land.

Jy maak slim gebruik van ’n sosiale mediaplatform soos Facebook om jou stoetdiere en veilings te bemark. Watter geleenthede skep hierdie platforms nog vir boere?

Die internet is vol kennis en as ek na al die vrae en antwoorde kyk wat op sosiale media groepe (soos bv. Namibia Boere) gevra en beantwoord word, is dit ’n ongelooflike bron van kennis. Dit is ’n platform waar baie ondervinding na vore kom. Ek wil graag ’n beroep op boere doen om deel van hierdie groepe te word en hulle ondervinding oor onderwerpe wat geopper word, deur te gee.

In watter ander belangstellings en stokperdjies leef jy jou uit.

Ek hou van sport soos swem, draf en perdry, maar my gunsteling is bergfiets ry. Ek het oor die jare vir my ’n 3 ure lange enkelspoor-bergfietspad op my plaas gebou en geniet dit baie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!