Skatkis van fossiele

Ontdekkings in Namibië sluit bewyse in dat die kontinente een was voor hulle uitmekaar gedryf het en dat die mens wél van die aap afkomstig is.
Tanja Bause
Tanja Bause - “Lank gelede, toe die aarde gevorm is, was daar geen suurstof in die lug nie as gevolg van al die vulkaniese aktiwiteit op aarde. Daar was dus ook geen lewe soos wat ons dit vandag ken nie.

"Party wetenskaplikes het die toestande van ons vroeë aarde as die hel self beskryf,” het me. Helke Mocke, geowetenskaplike van die National Earth Science Museum, by die Geologiese Opname in Windhoek gesê.

BLOUGROEN ALGE

Die wêreld se oudste fossiele is blougroen alge. Die eerste blougroen alge het 3 500 miljoen jaar gelede gelewe en die son se energie gebruik om kos uit koolstofdioksied en water te maak. Suurstof is as byproduk vrygestel.

Hierdie proses is bekend as fotosintese. Omdat fotosintese suurstof in die aarde se atmosfeer vrystel, was die alge grootliks verantwoordelik vir suurstof in die atmosfeer. Die atmosfeer het 3 000 miljoen jaar gelede geen suurstof bevat nie. Maar 2 000 miljoen jaar gelede het die suurstofvlak met 20% gestyg. Die vestiging van ’n suurstofryke atmosfeer het die evolusie van meer komplekse lewensvorme toegelaat.

Fossiele van die alge word stromatoliete genoem en is al vir ’n geruime tyd in die Otavi-bergland. Dit beteken fossiele van die oudste plante is in Namibië gevind.

Met die verhoging van suurstof in die atmosfeer kon die eerste diere begin ontwikkel.

WATER GEE LEWE

“Alle lewe het in die water begin ontwikkel. Eers was dit die blougroen alge en toe die eerste meersellige diere. In Namibië is die eerste van dié fossiele in Aus en by die Visrivier gevind. Maar niemand het geweet wat dit is nie en nie baie aandag is daaraan gegee nie,” het Mocke gesê.

Sowat 30 jaar nadat die fossiele in Namibië gevind is, is hulle ook in Ediacara in Australië gevind. Hulle is vandag bekend as die Ediacara-fossiele, hoewel die eerste fossiele van dié diere in Namibië gevind is.

“’n Klein sigaarvormige fossiel, wat waarskynlik deel van die seekomkommerfamilie was, kom net in Namibië voor. Dit is op die plaas Plateau, net oos van Aus gevind en deur die Duitse geoloog en palaeontoloog, dr. Martin Glaessner, in 1979 beskryf,” het Mocke gesê.

‘n Ander merkwaardige fonds was die van ‘n klein varswater reptiel, Mesosaurus tenuidens, wat soos ‘n klein krokodil gelyk het. Die klein reptiel het sowat 260 miljoen jaar gelede in ’n vlak meer gelewe. Hierdie see het groot dele van Namibië, Suid-Afrika en Brasilië bedek.

Die fossiele kom in die suide van Namibië, Suid-Afrika, asook in Suid-Amerika voor en het deel van die bewyse gevorm van Alfred Wegener se teorie dat die kontinente ronddryf en dat Suid-Amerika eens vas aan Afrika was.

Hierdie fossiele kan op die plaas Spitzkoppe naby Keetmanshoop gesien word.

SOOGDIERAGTIGE REPTIEL

“Namibië spog met nog ’n fossiel wat net in ons land gevind is. Dit is die skedel en onderkaak van ’n Herpetogale marsupialis. Dit was ’n klein soogdieragtige reptiel wat 230 miljoen jaar gelede gelewe het.

"Die fossiel is deur die Suid-Afrikaanse geoloog en palaeontoloog, dr. Andre Keyser, in die Etjoberge in die 1970s gevind. Die groep diere waaraan hierdie fossiel behoort, is die voorouers van alle soogdiere. Die bewyse lê in die evolusie van die verhemelte,” het Mocke gesê.

Net noord van die Ejtoberge is ’n klein skedel van ’n eriopoid amphibian gevind. Dit is ’n familielid van paddas en salamanders wat ook in die Karoo in Suid-Afrika gevind is. Dit kon in klein waterpoeletjies oorleef, terwyl ander diere maar met min water moes uitkom omdat groot dele van die Gondwana-superkontinent dor woestyn was.

“Dinosourusse maak hul eerste verskyning tydens die Trias-periode. Hoewel ons nog nooit fossiele of bene van dinosourusse in Namibië gevind het nie, het ons wel bewyse dat daar van hulle hier was.”

KROKODILLE SE STAMVADER

Die stamvader van krokodille en dinosourusse, wat aanvanklik as die Erythrosuchus africanus geïdentifiseer is en toe later as die Rauisuchus, is in 1992 in die rivierbed van die Omarururivier deur die geoloog Thomas Löffler ontdek.

Die Rauisuchus was ’n gepantserde roofdier wat ook in Suid-Amerika voorgekom het.

Dié dier was die grootse dier in daardie tydperk en as ’n mens na sy tande kyk, was dit ’n formidabele roofdier. Dit het waarskynlik groot soogdieragtige reptiele soos die Kannemeyria gejag.

Die Kannemeyeria was groter as ’n volwasse man en het plante gevreet.

“Hulle was reuse. Hulle was soos die olifante en renosters van die tydperk.”

DINOSOURUSBENE

’n Blok sandsteen is by die Waterberge gevind met die indrukke van ’n dinosourus, maar ongelukkig het die bene verweer. Wetenskaplikes kon wel vasstel dat die bene aan die Massospondylus behoort het.

“Die Massospondlyus was sowat drie tot vyf meter lank en een meter hoog. Hulle het plante gevreet en om dit te verteer, het hulle klein klippies ingesluk wat dan gehelp het om die plantkos fyner te maal. Van die fossiele is ook in ander lande soos die VSA gevind,” het Mocke gesê.

Volgens Mocke was hulle baie goed aangepas by die dor woestyntoestande wat in dié tydperk geheers het.

“Namibië was baie droog en hoë duine het die meeste van die land gedek. Die Massospondylus-dinosourusse was goed aangepas by die toestande en kon maklik oor die duine loop.”

OUDSTE BLOMME TER WêRELD

Die oudste blomme ter wêreld is in die Brukkaros gevind.

“Brukkaros was nie ’n vulkaan soos die meeste mense dink nie. Dit het gevorm toe warm magma die oppervlak van die land gebuig het soos dit wou uitstort. Later het hierdie 'boggel' begin verweer en ‘n caldera gevorm. Soos dit gereën het, het daar ‘n klein meer in die caldera gevorm. Om die water het verskillende plante gegroei en van die plante het blomme gemaak.

"Die takke, blare en blomme het mettertyd versteen. Dié fossiele is deur ‘n Duitse groep gevind en bestudeer," het Mocke gesê.

Fossiele van skulpe, korale en haaie wat uit die Cretacious-tydperk van 90 miljoen jaar gelede kom, is in verskeie plekke aan die Namibiese kus gevind, asook die Sperrgebiet. Baie van die fossiele is tropies en wys dat die jong Atlantiese Oseaan warm was. Deur die beweging van die kontinente en vulkaniese aktiwiteit het Suid-Amerika weggebreek van Afrika en die nuwe Atlantiese Oseaan oopgemaak.

LEIDRADE OOR DIE WEER

“Fossiele vertel ons vandag baie van die weersomstandighede wat in die verlede in ons land geheers het. Hulle vertel van die klimaat, die omgewing en die habitat. Fossiele van landslakke wys dat die Sperrgebiet en suide van Namibië somerreën ontvang het, nie soos die winterreën van vandag nie.

"Daar is ook bewyse dat dit soos ‘n savanna gelyk het in die suide van ons land. Daar het baie krokodille, olifante en renosters langs en in die Oranjerivier gebly. Selfs die stamvader van die kameelperd het daar gebly.

VYF SOORTE OLIFANTE

"Ons het bewyse dat daar op ’n stadium ten minste vyf verskillende soorte olifante in Namibië was en dat van hulle nie net gras nie, maar ook blare gevreet het.”

By Arrisdrift langs die Oranjerivier is verskeie kakebene, tande en bene van die stamvader van die swartrenoster gevind. Dié monsters is van die oudste fossiele in hul soort in die wêreld wat daarop dui dat die swartrenoster in Suider-Afrika ontstaan het.

“Die algemeenste fossiele wat by Arrisdrift gevind is, is dié van die Orangemeryx hendey. Die dier was ’n primitiewe kameelperdagtige dier wat omtrent so groot soos ’n gemsbok was. Dit het reguit horings gehad wat met vel oortrek was en op die punt gevurk was.”

Toe die Berg Aukas-myn begin is, is talle fossiele in die rotse ontdek. Klein bene en fossiele van slange, paddas, vlermuise, muise en akkedisse is gevind.

HOMINIED ONTDEK

Drie uiters belangrike ontdekkings is by Berg Aukas gemaak. Die ontdekking van Otavipithecus namibiensis is waarskynlik die opwindendste en belangrikste ontdekking. Dit is die eerste ontdekking van ’n Mioseen-hominied in Afrika suid van die ewenaar.

“Die fossiel, wat so groot is soos ’n sjimpansee, is bekend as die Otavipithecus namibiensis. Ons het die helfte van die onderkaak van ’n jong manlike dier gevind. Daar was ook ’n vingerbeen, ’n paar tande, ’n elmboog en ’n nekwerwel. Hierdie is die eerste fossielbewyse wat 'n pre-australopithecine-stadium van hominiede evolusie in Suider-Afrika aandui. Die aap het sagte vrugte geëet en in bome gelewe, wat bewys die Otaviberge het baie meer vrugtebome gehad as wat daar vandag is.”

MENSSKEDEL OP STRAND

Nog ’n besonderse fonds was die skedeldeksel van die Oranjerivierman wat in 1988 op die strand naby Oranjemund gemaak is.

Dit is van een van die besbewaarde spesies van die archaic Homo sapiens, die spesie waaraan die moderne mens behoort, wat tot dusver gevind is.

“’n Diamantmyner het die skedeldeksel op die strand opgetel en op sy lessenaar gesit en daarvan vergeet. Tien jaar later het hy dit aan navorsers gewys. Dit is toe dat hulle agterkom dat dit ‘n waardevolle vonds was en hom die naam Oranjerivierman gegee het. Dié vonds word as ’n belangrike ontdekking in die evolusie van die mens beskou.”

Wetenskaplikes sê dié skedeldeksel is die skakel tussen die oorgang van Homo erectus na die vroegste moderne mens.

Later is bevind die Oranjerivierman is eintlik ’n vrou.

MAMMOETE

In 2005 het mnr. Martin Hipondoka, ’n geograaf aan die Universiteit van Namibië, by die Ekumarivier in die Etoshapan fossiele ontdek.

Hy is deur professor Martin Pickford, van die Natural History Museum in Parys, gekontak en saam het hulle die plek besoek.

In 2007 het Pickford toe die gedeeltelike skelet van ’n Mammuthus subplanifrons ontdek. Toe hulle in 2008 gereed was om die skelet uit te grawe, het die rivier gevloei en die pan met fossiele oorstroom.

In Augustus 2014 het prof. Pickford en prof. Brigitte Senut, van die Franse Natural History Museum, saam met ander wetenskaplikes soos Mocke, mnr. Dick Mol, van die Natural History Museum van Rotterdam, en dr. Elke Möllmann van die Dortmund Natural History Museum in Duitsland, met die uitgrawings begin.

Die uitgrawings het die bene van ’n groot mammoetbul, ’n koei en ’n kalf opgelewer.

Die besoek aan die panne het ook talle fossiele en bene van onder andere babers, krokodille, skilpaaie, hiënas, leeus, aardvarke, bokkies, kameelperde, seekoeie en renosters opgelewer.

Die eerste oorblyfsels van ’n longvis (Proropterus) en van die langsnoetkrokodil is ook daar gevind.

OUDSTE FOSSIELE OOIT

Die oudste dierefossiele in die wêreldgeskiedenis is in 2012 in die Etosha Nasionale Park gevind.

Dié piepklein vonds verteenwoordig dierefossiele wat miljoene jare ouer is as enige ander dierefossiel wat tot dusver gevind is. Seesponse wat tussen 0,3 mm en 5 mm lank is, is in die rotse van die park gevind. Die Otavia antiqua is sowat 750 miljoen jaar oud.

Dit is na die Otavi-groep vernoem en is deur die bekende Suid-Afrikaanse palaeontoloog, dr. Bob Brain, ontdek.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!