Skedels terug op eie bodem

Die terugkeer van die oorblyfsels bied geleenthede vir versoening, maar stemme van uitsluiting klink reeds op.
Catherine Sasman
Catherine Sasman



Vrydag se derde repatriasie van menslike oorskotte van Nama- en Ovaherero-oorsprong na Namibië was weer eens 'n emosionele en polities-gelaaide geleentheid.

Die skedels het omstreeks O6:30 op die Internasionale Lughawe Hosea Kutako aangekom en is deur 'n erewag en tradisionele rituele ontvang.

Dit is toe plegtig na 'n herdenkingsdiens by die parlementstuine vervoer, waar hooggeplaaste regeringslui van Namibië en Duitsland, sowel as tradisionele leiers, daarop gewag het.

Visepresident Nangolo Mbumba het by die geleentheid gesê die Duits-koloniale bewind, sowel as Suid-Afrika se onwettige besetting van Namibië, is direkte oorsake van die land se ontwikkelingsuitdagings.

Dít sluit in die stryd teen armoede en ongelykhede, ekonomiese uitsluiting van die meerderheid, en wydverspreide grond- en dakloosheid.

“Die sielkundige skade van koloniale onderwerping is steeds vandag sigbaar. Dit kan gesien word in opgekropte woede, stamgebondenheid, seksisme, en kulturele en identiteitsvervreemding. Al hierdie negatiewe effekte verg geduld, tyd en reusetoegang tot bronne om behoorlik te herstel,” het Mbumba gesê.

Hy het 'n sentiment van president Hage Geingob herhaal dat Namibiërs se waardigheid herstel moet word deur die terugkeer van mens­like oorskotte en dat regstellings op “toepaslike en aanvaarbare wyse” gedoen moet word om ware versoening tussen Namibië en Duitsland teweeg te bring.

Mbumba het gesê die Namibiese regering sal voortgaan om erkenning, verskoning en vergoeding van die Duitse regering vir die 1904 tot 1908-volksmoord te kry.

Hy het gesê die regering sal meedoënloos voortgaan met die gesprek met Duitsland en sal Namibiërs se lyding vir geen politieke of ekonomiese kansvattery opoffer nie.

Mbumba het benadruk die Duitse regering moet volle morele, geskied­kundige en wettige verantwoordelikheid aanvaar deur die onderhandelinge te bespoedig – veral die kernkwessies van erkenning, ver­skoning en regstelling vir die genesing van beide nasies.

Hy het ook 'n beroep gedoen op geaffekteerde gemeenskappe wat steeds nie by die Namibiese regering vir onderhandelinge aangesluit het nie, om dit te doen en sodoende dié hoofstuk as 'n verenigde nasie en Namibiese huis af te sluit.

Die Duitse sekretaris vir internasionale beleid in die buitelandse kantoor, me. Michelle Müntefering, het gesê die dae wat sy met die Namibiese afvaardiging in Duitsland gespandeer het, was “deur pyn gekenmerk”.

“Ek staan nederig en skaam voor julle oor die gruweldade wat gedurende die koloniale tydperk gepleeg is,” het die jong politikus gesê.

Sy het gesê Duitsers vandag erken hul geskiedkundige, politieke en morele verantwoordelikhede, en sê die gruweldade deur koloniale Duitsland kan inderdaad as 'n volksmoord bestempel word.

“O God, wat het ons gedoen?” het Müntefering gesê, en bygevoeg: “Uit erkenning ontstaan verpligting.”

Sy het gesê vanjaar, 2018, is die eerste keer dat Duitsland dit amptelik eens was dat sy koloniale geskiedenis aangespreek moet word.

“Die noodsaaklikheid om die koloniale verlede aan te spreek, is vir die eerste keer deel van ons basiese demokratiese konsensus,” het Müntefering gesê.

Sy het gesê die Duitse regering sal verdere stappe doen om meer oorblyfsels aan Namibië terug te besorg.

Sy het gesê Duitsland is volledig toegewy aan sy geskiedkundige verantwoordelikheid gedurende die voortgesette onderhandelinge tussen die twee lande.



TRADISIONELE LEIERS

Tradisionele leiers van die geraakte gemeenskappe sê Duitsland moet die volksmoord onvoorwaardelik erken en 'n amptelike verskoning en regverdige vergoeding bied. Hoofman Manase Christian Zeraeua, leier van die Ovabanderu en Nama-gespreksraad (ONCD 1904 – 1908), het gesê die geraakte gemeenskappe wil hê alle menslike oorblyfsels en kulturele artefakte moet na Namibië teruggebring word.

Hoofman Johannes Isaack, van die Nama Tradisionele Leiersvereniging (NTLA), het gesê net soos die geaffekteerde gemeenskappe uitgesluit was by die Berlynse Konferensie van 1884 en 1885 waar koloniale grense bepaal is, is hulle vandag ook deur hul eie regering uitgesluit by die besluitneming oor grond.

“Hierdie keer word ons uitgesluit van die nasionale grondkonferensie en word ons deur politieke bondgenote vervang,” het Isaack gesê.

“Die lesse uit ons geskiedenis is dat grondeienaars na die grondkonferensie, waar grond uitgedeel word, uitgenooi moet word. Dit is van kardinale belang om nóg rampspoedige gevolge om dieselfde redes te voorkom.”

Die opperhoof van die Ovaherero, adv. Vekuii Rukoro, het gesê die slagoffers van die koloniale tydperk het ter verdediging van hul voorvaderlike grond gesterf.

Rukoro het gesê die Namibiese en Duitse regerings kan nie sonder die geraakte gemeenskappe met onderhandelinge voortgaan nie en het die Namibiese regering daarvan beskuldig dat dit die “verkeerde mense” vir dié onderhandelinge uitgenooi het.

Hy het ook gesê die betrokke gemeenskappe het nooit hul verantwoordelikhede op tegniese komitees afgeskuif nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!