Skedelvonds verander denke oor mensdom se ontstaan
Skedelvonds verander denke oor mensdom se ontstaan

Skedelvonds verander denke oor mensdom se ontstaan

Die oudste fossiel ooit van ’n Homo erectus is in die Wieg van die Mensdom gevind.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Die ontdekking van skedelstukke van ’n Homo erectus (regop mens) by die Drimolen-fossielterrein in die Wieg van die Mensdom naby Johannesburg, is die eerste só ’n vonds ooit in suidelike Afrika.

Homo erectus was die eerste van die mens se hominiedvoorsate wie se anatomie en gedragspatrone mensagtig was. Hulle het in Afrika ontstaan, vanwaar hulle later noordwaarts na Europa en ooswaarts na Asië gemigreer het.

Die heuwels wes van Johannesburg is bekend vir verskeie vorige fossiele van mensagtige wesens, of hominiede. Hierdie een is egter ouer as die ander Homo erectus-fossiele wat al in die wêreld gevind is, en plaas die mens se direkte oer-voorsaat boonop vir die eerste keer in Suider-Afrika.

Volgens ’n verklaring deur die Universiteit van Johannesburg (UJ) het die Homo erectus wat deur paleontoloë by die Drimolen-fossielterrein in die Wieg van die Mensdom gevind is, tussen 2,04 miljoen en 1,95 miljoen jaar gelede geleef.

Dit is 200 000 tot 150 000 jaar ouer as die ander oudste bekende Homo erectus van 1,8 miljoen jaar gelede wat in die Dmanisi-terrein in Georgië gevind is.

‘n Navorsingsartikel oor hierdie vonds is vroeër vandeesmaand in die gesaghebbende wetenskapstydskrif, Science, gepubliseer.

Me. Stephanie Baker, ’n navorser en PhD-student aan die Paleo-navorsingsinstituut van dié universiteit, sê gedurende ’n opgrawing by Drimolen is fragmente van ’n skedel deur ’n student gevind. “Ons kon sien dit is dele van ’n skedel, maar dit was nie dadelik identifiseerbaar nie,” sê Baker. Hulle het eers later besef dit is stukke van

’n hominied-skedel. Dit was nadat die span die meer as 150 fragmente gebruik het om die skedel te rekonstrueer.

Dit het boonop duidelik geword dit is dié van ’n kind tussen drie en ses jaar oud.

Die fossiel, wat as DNH 134 bekend staan, is stelselmatig met elke ander bekende een vergelyk. “Wanneer ’n mens van bo af daarna kyk, lyk dit soos ’n traandruppel, maar dié brein was groter, soos ons s’n. “Ander hominiede het ’n kleiner brein gehad,” sê Baker, wat ook die mede-direkteur van die opgrawings by Drimolen is.

Driedimensionele tegnologie wat deesdae op alle fossielterreine gebruik word, het die span in staat gestel om te bepaal waar presies elke fossiel in die opgrawingsgebied gekry is. Dit het fragmente van klein diertjies en grondmonsters ingesluit.

DNH 134 se ouderdom is bepaal deur ‘n veeltal dateringsmetodes soos paleomagnetisme (meting van die magnetiese polariteit in die lae sediment), elektronspinresonasie, datering van die diertjies, en die uraan-lood-toets in te span. In laasgenoemde toets word die vervalkoers van uraan in die lood in gesteentes gebruik om te bepaal hoeveel tyd verloop het.

Prof. Andy Herries, ’n medenavorser wat deel was van die internasionale span, sê die vonds verskaf nuwe insig oor die oorsprong van moderne mense.

“Tot nou toe is daar nog altyd gedink Homo erectus het in Oos-Afrika ontstaan, maar dié vonds dui nou daarop dat een van ons regstreekse voorsate moontlik van Suid-Afrika kom. Dit beteken dat hulle later noord beweeg het vanwaar hulle die res van die wêreld bevolk het.

“Hulle kon enige plek in die wêreld leef en aanpas in enige landskap,” sê hy.

Die geologie van die Wieg van die Mensdom en ander plekke in Oos-Afrika is van só ’n aard dat dit fossiele goed bewaar. “Die hominiede was heel waarskynlik oral gewees, maar hul fossiele het net nie bewaar gebly nie,” sê hy.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!