Skenk lewe
Die opskrif is moontlik dubbelsinnig.
Dit beteken nie gaan maak en baar terstond na hartelus kinders nie. Die planeet is lankal oorbevolk en hulpbronne skaars. Nes bloed.
Die Namibiese Bloedoortappingsdiens (NBTS) soek joune - as jy mag. Spreek asseblief eers 'n geneesheer voordat enige besluit geneem word. Ek is nie 'n mediese kenner nie; bloot 'n entoesiastiese voorstander van bloedskenk en nie-amptelike werwer van skenkers. Veral dié van die O-bloedgroep waarna altyd 'n groot aanvraag is. Ek kan nie in wetenskaplike terme verduidelik presies hoekom nie; het 'n D vir Biologie gekry en ook net-net. Die O's kan blykbaar vir die A's, B's, AB's en ander O's bloed gee, maar mag self nét O ontvang. En dan is daar ook die negatiewe en positiewe O's, maar vra asseblief die dokter hoe dit werk. My brein wil nie.
Jaag weg die bang. “Hulle sal te veel tap en dan gaan ek so leeg voel,” is 'n lawwe verskoning om die naald te probeer ontduik. Tensy jy aan naaldfobie of hemafobie ly.
Bloedoortappings word onder meer gegee aan ongelukslagoffers, kankerpasiënte en mense wat aan erge bloedarmoede ly, in die geval van bloeding weens swangerskapkomplikasies en tydens operasies. Minstens 2 800 eenhede is maandeliks nodig en een skenking kan tot drie lewens red.
Bloed het 'n beperkte rakleeftyd en nee, alkohol is nie in dié geval 'n uitstekende preserveermiddel nie. (Vir diegene wat dink 'n versterking vooraf sal fobies oorwin.)
Die lewe is beslis nie grappies nie.
Dit kán ietwat ongemaklik voel as jy in 'n winkelsentrum gekoppel aan 'n bloedsakkie lê - al daardie verbygaande oge wat staar. Die meeste mense is maar van nature so. Ignoreer hulle. Fokus liewer op die uitsonderlike met-komplimente-koekies op jou skoot en gesels met die heerlike NBTS-personeel. Of, as jy meer borrelend van aard is, wuif met die los arm die bekykers nader met 'n luide: “Dis die lewe!” Hulle sal dadelik elders fokus of dalk, net dalk, versigtig nader staan.
Die vereistes vir voornemende skenkers is baie, maar dis alles om veiligheidsredes en om gehalte te waarborg.
In kort: As jy gesond en ouer as 16 is, meer as 50 kg weeg en nie binne die afgelope ses maande jouself be-ink of deurboor het nie, meld asseblief aan. Jy mag ook nie bloed skenk as jy 'n loslies is en van bedmaat tot bedmaat bons nie.
Bruis jou bloed van bereidwilligheid? Bel 061 386 300 of besoek www.bts.com.na vir meer inligting oor plekke en datums vir permanente en mobiele klinieke.
Bring jou ID saam, vul 'n vorm en vraelys in, laat toets die bloeddruk, klim op die skaal (dis die pynlikste deel), prik 'n vinger vir 'n ystertoets (jou goedheid maak jou in my oë klaar 'n yster) en siedaar, Skenker.
'n Sessie sal nie meer as 45 minute van jou kosbare tyd in beslag neem nie en jy mag net elke 56 dae aftap.
Min gevra vir 'n onskatbare geskenk, nie waar nie? Veral so op die vooraand van die Groot Fees.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie