Skep omgewing waarin primêre produksie gedy

Beleidskwessies en groeifaktore in landbou was gister by 'n NMH-sakeontbyt onder die loep.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer



Landbou het verlede jaar N$7,5 miljard tot Namibië se bruto binnelandse produk (BBP) bygedra en kan in die toekoms heelwat méér geld in die nasionale beursie sit.

Dit is moontlik indien 'n beleidsomgewing bestaan wat produsente aanmoedig om primêre produksie deur beleggings in die onderskeie bedrywe te verhoog.

Dít was gister die kruks van die boodskap by Namibia Media Holdings (NMH) se Business 7-­ontbytseminaar waartydens sprekers beleidskwessies en groeifaktore in landbou onder die loep geneem het.

Mnr. Junius Vetumbuavi Mungunda, uitvoerende hoof van Standard Bank Namibia, sê maatskaplike beleide om ongelykhede reg te stel, moet nie inmeng met ekonomiese beleide wat daarop gemik is om landbou se ekonomiese mededingendheid te bevorder nie.

“'n Sektor het soveel vryheid as moontlik nodig om te groei en moet nie deur beleidsbeperkinge aan bande gelê word nie,” sê hy.

Beleide vir nywerheidsontwikkeling en die handhawing van standaarde moet 'n ondersteunende rol vervul en nie ekonomiese groei en mededingendheid inperk nie.

Wat landbou betref, moet waarde aan die begin van die waardeketting ­toegevoeg word deur produksievolumes te verhoog en gehalte te verbeter, meen Mungunda.

Mnr. Roelie Venter, uitvoerende ­bestuurder van die Namibië Landbou-unie (NLU), het oor die optimalisering van landbou se bydrae tot die BBP gepraat en statistiek voorgehou wat toon hoe dit van 1991 tot 2017 gekrimp het van 5,7% tot 3,9%.

In 2017 het die onderskeie bedrywe binne die landbousektor gesamentlik N$7,5 miljard aan inkomste vir die land voortgebring.

Venter sê sonder beleidsekerheid sal produsente nie die risiko neem om in landbou te belê nie.

In die vleisbedryf is bosuitdunning 'n meganisme waardeur produsente die aantal kilogram kan verhoog wat per hektaar geproduseer word. Die ander is om die sukkelende skaapbedryf weer op die been te help sodat bemarking kan verhoog.

Dit sal 'n produsent egter gemiddeld N$450 per hektaar kos om indringerbos sodanig te beheer dat die produksie per hektaar verdubbel. Dit beteken boere moet op 'n 5 000 ha-plaas 'n belegging van N$2,25 miljoen maak, sê hy.

Volgens hom moet geleenthede in die trofeejag- en toerismebedryf ook beter benut word. Verder is die tafeldruifbedryf 'n “slapende reus” wat baie meer kan lewer, sê Venter.

Mnr. Paul Strydom, hoofbestuurder van die Vleisraad, het in sy voorlegging gesê die kleinveebemarking­skema het nie sy doelwitte bereik nie. Trouens, bemarking het met omtrent die helfte afgeneem.

Die skaapbedryf het sedert die inwerkingtreding van die skema, 14 jaar gelede, 'n verlies van sowat N$564 miljoen gely, sê hy.

Voor 2004 is daar gemiddeld 1,36 miljoen skape per jaar bemark. Verlede jaar is 703 512 skape bemark.

Strydom sê die sekondêre bedryf (uitvoer-abattoirs) is ten koste van die primêre bedryf bevoordeel en daarom is die aanbeveling dat die skema laat vaar word.

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer