Skeppende kuns sonder hande
Hanli Joubert is van kleins af baie nuuskierig en het daarvan gehou om te gesels en dinge te probeer.
Tanja Bause – “My ouers het nooit vir my gesê ek kan enigiets nie doen nie. Hulle het my toegelaat om alles te probeer totdat ek self besef het ek kon sekere dinge eenvoudig nie doen nie,“ sê Hanli Joubert (44), 'n kunstenaar wat met haar mond skilder.
Hanli is in Windhoek gebore en die dokters was nie seker of sy die eerste nag sou oorleef nie.
“Ek is met arthrogryposis multiplex congenita gebore. 'n Baie basiese beskrywing is dat ek gebore is met onderontwikkelde spiere en kontraksies in die gewrigte. Ek dink die mediese personeel was net onseker oor wat verkeerd met my was en het gedink ek sal nie oorleef nie. My ouma het in die hospitaal gewerk en sy het my kom sien. Sy was oortuig daarvan dat ek sou oorleef. Ek was in daardie stadium in die pediatriese saal en my ma was in die kraamsaal. My ma en my pa het kom kuier sodra hulle kon. Beide het ook geglo ek sal oukei wees en my huis toe geneem. Die res is soos hulle sê history.”
Hanli is van kleins af baie nuuskierig en het daarvan gehou om te gesels en dinge te probeer.
“Ek is met die wonderlikste ouers geseën wat vir my die beste moontlike opleiding en fisieke versorging wou gee. Die Elizabeth Conradie-skool in Kimberley het daarin gespesialiseer om kinders met fisieke gestremdhede op te lei. Hulle het fisieke terapie, arbeidsterapie en die standaard-opleidingskurrikulum aangebied. Ons het Suid-Afrika toe getrek sodat ek daar kon skoolgaan.”
Haar familie het later van Kimberley na 'n kleinhoewe by Ritchie, 'n dorpie sowat 40 kilometer verder, verhuis.
“Ons het skape, hoenders en ganse gehad. Ons het ook 'n klein Dexter-koei gehad wat as 'n klein kalfie al die pad vanaf Namibië op een van ons bure se skoot in 'n voertuig Suid-Afrika toe gery het.”
UITDAGINGS
Hanli sien haarself as uiters geseënd met besonders ondersteunende familie en vriende.
“Omdat ek saam met kinders in die skool was wat allerhande verskillende gestremdhede gehad het, het ek van kleins af geleer my omstandighede is nie uniek nie en daar is altyd mense wie se uitdagings groter en moeiliker as my eie is.”
As 'n jong meisie het dit fyn voetwerk gekos tussen die “normale” selfvertroue-probleme wat enige meisie het en haar selfbeeld wat as gevolg van haar fisieke voorkoms anders was.
“Die meeste uitdagings wat ek as 'n kind ervaar het, het ek as volwassene steeds. Soos mense se wanopvattings oor mense met gestremdhede. Byvoorbeeld wanneer ek na 'n restaurant gaan en die kelner gee my nie 'n spyskaart nie, omdat hulle dink ek kan nie lees nie. Mense wat my vermy omdat my gestremdheid hulle ongemaklik maak. Geboue of openbare vervoer wat nie vir my toeganklik is nie. Werkloosheid.
“Om met 'n gestremdheid te lewe, is 'n baie duur speletjie,” sê sy.
Volgens haar is die regering se geldelike toelaes en maatskaplike strukture en steun nie genoegsaam vir iemand met gestremdhede om 'n behoorlike onafhanklike lewe te kan lei nie.
VERF
Ná skool het sy as 'n ontvangsdame by 'n makelaarsonderneming begin werk.
“Die firma het na Port Elizabeth verskuif en het my gevra of ek bereid is om soontoe te trek en daar vir hulle te werk. Ek het 'n onafhanklike sentrum gevind waar mense met gestremdhede gewoon het en in 1999 het ek my goed gepak en soontoe getrek.”
Dit was die eerste keer dat sy mense ontmoet het wat met hul monde skilder.
“Ek het ná werk vier van my medebewoners dopgehou hoe hulle geskilder en geverf het. Eendag het iemand my gevra of ek dit wil probeer en ek het – as ek reg kan onthou – 'n papegaai geskilder. Dit was dit; ek was dadelik mal daaroor.”
In 2011 is sy as 'n student aan die Association of Mouth and Foot Painting Artists (AMFPA) aanvaar en in 2012 het sy in haar eie plek ingetrek en voltyds begin skilder.
“Ek het net houvas in my duime. Ek het geen polsbeweging nie en baie beperkte beweging in my arms. Ek kan dus nie met my hande skilder nie. Ek het nog nooit probeer om met my voet te skilder nie. Ek gebruik my mond.”
Sy het kunsklasse begin neem wat weens die Covid-19-pandemie baie moeilik geraak het. Sy het toe elke dag video's op die internet gekyk en het sodoende baie kennis opgedoen.
“Aan die begin het ek my verfkwasse aan potlode of akrielstrooitjies vasgemaak om hulle langer te maak sodat ek kon verf. Dit was totdat Uyilo3D Printing my genader en voorgestel het ons werk aan 'n ontwerp wat die kwasse verleng en dit gelykertyd teen 'n hoek plaas wat vir my gemaklik is. Hulle het die mondstuk gedruk wat soos 'n bom werk en ek geniet dit ontsettend om daarmee te skilder.”
Hanli hou die meeste daarvan om diere en voëls te verf.
“Ek sou baie graag meer portrette wil skilder, maar van alles wat God geskape het, vind ek 'n mens se neus is die moeilikste om te skilder.”
AMFPA
In 1947 het die gestremde Duitse skilder Arnulf Stegmann besluit hy wil saamwerk met al sy kollegas wat soos hy kuns met hul monde en voete skep. In 1957 is die eerste algemene vergadering van AMFPA in Liechtenstein se hoofstad Vaduz gehou.
Dié vereniging ondersteun studente van oraloor die wêreld met die toekenning van beurse.
'n Jaar ná die stigting van AMFPA is 'n kantoor in Suid-Afrika geopen. Die hoofkantoor is in George in die Wes-Kaap.
“Ons as kunstenaars stuur jaarliks ons skilderye na dié kantoor. Van die skilderye word dan gekies om onder meer op Kerskaartjies, koffiebekers en kussings gedruk te word. Die inkomste van die verkope finansier die vereniging, studentebeurse en salarisse van lede.
“Ons skilderye word ook Lichtenstein toe gestuur en van hulle word vir internasionale uitstallings gekies.
“Ek voel uiters geseënd en bevoorreg om deel van so 'n buitengewone vereniging te wees. Om my kunswerke op internasionale uitstallings te sien, gee my 'n ongelooflike gevoel van selfwaarde. Ek is deel van 'n groep briljante, talentvolle kunstenaars wie se fisieke beperkings hulle nie keer om pragtige kunswerke te skep nie.
“Tans is ek 'n student aan AMFPA. Ek werk baie hard om my artistieke vaardighede te verbeter om hopelik 'n geassosieerde lid te word en uiteindelik 'n volwaardige lid.
“Ek probeer altyd my sin vir humor behou en myself altyd daaraan herinner hoeveel ek het om voor dankbaar te wees,” het Hanli afgesluit.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie